13 transitorowers in hul spore gestuit

Argieffoto (Foto: Maroela Media)

ʼn Groep van 13 transitorowers is Vrydagoggend in hul spore gestuit en in hegtenis geneem nadat hulle ’n geldwa op die R501, naby die N12 in die Westonaria-omgewing in Gauteng, beroof het. Onder dié rowers was ʼn polisiebeampte en lid van die Suid-Afrikaanse Nasionale Weermag (SANW).

Volgens lt.kol. Robert Netshiunda, polisiewoordvoerder, het die polisie inligting ontvang oor die groep verdagtes, tussen 21 en 50 jaar oud, wat op die geldwa toegeslaan het.

“Beamptes het die wegkomvoertuie op die R501 gewaar en agternagesit. Dié motors het in verskillende rigtings in Carletonville gejaag,” sê Netshiunda.

“ʼn Skietgeveg het tussen die polisie en die verdagtes uitgebreek. Een lid van die polisie is in die proses gewond.

“Die skietery het die polisie egter nie verhinder om die verdagtes aan te keer nie.”

Die polisie het voortgegaan met die soektog na die verdagtes se voertuie. “Na afloop van ʼn noukeurige ondersoek is die polisie na ʼn perseel in Geraniumstraat in Carletonville gelei waar een van die wegkomvoertuie aangetref is.”

’n Onbekende bedrag geld is in die voertuig gevind. Die daaropvolgende deursoeking van die perseel het gelei tot die inhegtenisneming van drie mans en ʼn vrou. ʼn Verdere ondersoek het gelei tot die inhegtenisneming van nog ses verdagtes.

“Voorlopige ondersoeke het aan die lig gebring dat een van die wegkomvoertuie glo in April verlede jaar in Elsburg gekaap is.

“’n Toyota Quantum, vermoedelik ook een van die wegkomvoertuie, is opgespoor en drie verdagtes is in Krugersdorp in hegtenis geneem. Verdere ondersoeke het die polisie na ʼn plaaslike werktuigkundige gelei waar ʼn ander voertuig, ʼn Hyundai Tucson wat ook as ʼn wegkomvoertuig gebruik is – gevind is. Die span is toe na Bambathastraat in Kagiso waar ʼn hommeltuig en ʼn polisieglimbaadjie aangetref is.”

Die verdagtes sal na verwagting binnekort in die hof verskyn op aanklag van gewapende roof, poging tot moord op ʼn polisiebeampte, besit van ʼn gekaapte voertuig, besit van vermoedelik gesteelde eiendom, plofstof en dagga.

Genl. Khehla Sitole, nasionale polisiekommissaris, het die polisie geloof vir hul vinnige reaksie om die verdagtes vas te trek.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

3 Kommentare

Nie Verbaas ·

Berig moet lees verdagtes sal binnekort in die hof verskyn, borgtog kry en aangaan waar hulle opgehou het en dan verdwyn.

Elize ·

Dan word daar verwag om hierdie wesens te respekteer. Nie eers die uniform respekteer ek nie wat nog van die een wat dit dra

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.