13 vas ná Mpumalanga-plaasaanval

Argieffoto: Nico Strydom

Argieffoto: Nico Strydom

Danksy skitterende samewerking tussen die polisie en boeregemeenskappe in Mpumalanga, is 13 verdagtes in hegtenis geneem ure nadat ʼn gesin van die Stoffberg-omgewing op hul plaas oorval en aangerand is.

Henry Geldenhuys, voorsitter van TLU SA se veiligheidskomitee, het aan Maroela Media gesê Eep Coetser (46), sy vrou Surina (44), hul 20-jarige seun en 22-jarige dogter, is Vrydag in die vroeë oggendure in hul huis op die plaas Uitkyk oorval. Die aanvallers het die gesin aangerand, oppervlakkige meswonde toegedien en vasgebind.

Die aanvallers het omstreeks 06:00 met twee van die gesin se voertuie, ʼn haelgeweer, selfone en skootrekenaars gevlug. “Die gesin kon net voor 08:00 daarin slaag om hulself los te wikkel en is te voet na een van die bure toe om hulp te ontbied,” het Geldenhuys gesê.

“Ons het dadelik die boere en sekuriteitsmaatskappye in die omgewing laat weet om op die uitkyk vir die twee gesteelde voertuie, asook die verdagtes se wegkomvoertuig, te wees. Die polisie en ambulansdienste is ook ontbied,” het Geldenhuys gesê. “Ons was egter bekommerd dat ons nie meer die voertuie sou kon opspoor nie, aangesien ʼn redelike tyd verloop het sedert die aanvallers gevlug het.”

Volgens Geldenhuys kon hulle deur middel van ʼn opsporingstoestel in een van die voertuie vasstel die voertuig was eers naby Lydenburg en later in die Sabie-omgewing. “Ons het die boere in daardie omgewings ook laat weet en die boere en sekuriteitsmaatskappye het padblokkades opgestel om die paaie te monitor,” het hy gesê.

Hy het gesê ongelukkig kon ʼn polisiehelikopter en privaathelikopter, wat gereed gestaan het om op te styg, nie met die soektog help nie weens gure weer.

Een van die voertuie is kort daarna by ʼn padblokkade in Hazyview voorgekeer. Vier verdagtes is in hegtenis geneem. Geldenhuys het gesê een van die verdagtes het probeer om te vlug en is in die been gewond.

Kort daarna is die ander twee motors by dieselfde padblokkade voorgekeer en nog agt verdagtes is in hegtenis geneem. Die polisie het op die Coetser-gesin se haelgeweer, drie handwapens, drie gewere en die gesteelde selfone en skootrekenaars beslag gelê.

“Vroeër die oggend is ʼn 13e verdagte ook in die Stoffberg-omgewing in hegtenis geneem. Hy word tans deur die polisie ondervra,” het Geldenhuys gesê.

Sers. Gerald Sedibe, woordvoerder van die polisie, het die voorval bevestig. Hy kon teen Saterdagoggend egter net tien inhegtenisnemings bevestig en Maroela Media wag op meer inligting. Sedibe het gesê die verdagtes sal Maandag in die hof verskyn.

Geldenhuys het die gemeenskap geloof vir hul samewerking en sy dank uitgespreek aan almal wat betrokke was. “Ons wil ook ʼn beroep op boeregemeenskappe doen om nou, in aanloop tot Kersfees, wanneer ons weet misdaad toeneem, ekstra paraat te wees en hul sekuriteitsmaatreëls op te skerp. Dit is al manier waarop ons die aanslag van misdaad die hoof kan bied,” het hy gesê.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

25 Kommentare

Otter ·

Ten minste 2 Rottweilers op elke plaas. Hul neem verassingselement weg, en is uitstekend met plattrek van kriminele. Dapper en baie getrou!

Valie ·

Die Rottweilers is ongelukkig ook maklik om te vergiftig of weg te lok, die beste waghond is die keffertjie binne in die huis, en ‘n pistool byderhand. Oefen die standaard prosedures gereeld in. Bly altyd agter die lig.

Hermien Brittnell ·

Skitterende werk, aan almal wat saamgewerk het om hierdie misdadigers vas te trek!

hou koers ·

Baie dankie aan almal wat saamgewerk het. Ek hoop die gesin herstel spoedig van hierdie nagmerrie. Dink aan julle en ook aanal die ander wat deur sulke nagmerries was al ken ek julle nie. Sterkte vorentoe aan almal.

Jan ·

So lekker om positiewe nuus (onder die omstandighede) oor plaas aanvalle te hoor, veral die samewerking tussen die boere, privaat veiligheid en die polisie. Bly die mense is redelik OK, jammer dat julle dit moes oorkom.

Netekke ·

WONDERLIK!! Dit wil gedoen word. Baie geluk en baie dankie vir julle hulp en bystand, ons land se boere het julle nodig.

Lance ·

Dit gebeur so baie en mens kan net sê die land is vrot van die krimenele wat vrylik rondloop en mense vermoor . Die booswigte is niks bang vir die polisie en het geen respek vir lewe wat nog tesê vir wet en orde of hulle self ….tragies !

Lettie Munnik ·

Dit is my sussie se kinders wat hier aangeval is, en ons is so verskriklik dankbaar dat ons Hemelse Vader sy beskermde hand oor hulle gehou het. Die goed wat gesteel is is teruggevind. Wat daardie goed egter aan my mense gedoen het is verskriklik en is onnoembaar. Die emosionele skade byna onherstelbaar. Net ons Vader sal kan help. Al wat ons vra, bid vir hulle asb! ❤

Verseker almal in Sabie was in rep en roer, wonderlike ondersteuning deur die gemeenskap. ·

Ons dink aan die Gesin vir volkome herstel van die aanval. Ons Vader is Groot

LB S ·

Terwyl ek dit nou hier sit en lees kon ek net dink dankie Vader, dat hulle nie vermoor is nie! 13 teen 4 !

Janke Blom ·

13! Binnekort is die moordbendes net so groot soos Zimbabwe s’n, van ongeveer 50 aanvallers.

Trots.... ·

So moet dit gedoen word !!!!!! Wees wakker !!! Sorg dat jul veilig is opi plase!! Wees ook goed gewapen!! Trots op die vinnige optrede… Ons sal moet terug veg!!! Dink aan alle kante toe hoe om julle self te beveilig!!!! Dit is die enigste manier!!! Die media en ons landsburgers is groot bewus van jul boere se probleme!!!! Maak nie saak waar in die land nie!!! Ons bid vir jul!!!

Elmarie ·

Joan my rottie bly in die huis by my en ek het haar geleer om geen kos te vat wat nie in haar bak is nie. Hulle leer ongelooflik maklik. As ons weg moet gaan los ek genoeg kos sodat niemand vir haar hoef kos te kom gee nie. Daar is ook niemand wat dit in elk geval wil doen nie.

Santjie stoof ·

Ja dankie vir vinnige optrede.
Hou maar alryd op n sekere plek n addisionele selfoon met nood groepe op, wat altyd lugtyd, data op het en gecharge is.
Kriminele vat altyd dit sodat slagoffers nie gou kan alarm maak nie.

Marius ·

Gereelde padblokades deur die polisie sal ook n groot verandering maak. Waneer laas het enige iemand in n padblokkade in gery ……dag of nag ? Groot deurbrake sal behaal word as ons meer padbokkades kry tussen 18:00 en 06:00. Voorspoed en sterkte vir die familie met hulle trauma. Baie geluk aan almal wat aan hierdie öperasie”deelgeneem het !!

Dark.O ·

Graag gee ek Psalm 109 vir alle plaasaanvallers. (So bly ek hopelik in Maroela Media se Christelike karakter.)

Sorika ·

Wel gedaan SAP en boere!!! Saam staan is al wat nou gaan werk.

Carol ·

Ek is bly die duiwels is gevang. Sterkte aan die gesin. Die beste waghond bly in die huis. Hy sal raas en jy sal weet. Behou die verrasingselement aan jou kamt. Moenie probeer om te gaan kyk wat die probleem is nie.. laat die probleem na jou toe kom. Jy moet gereed wees vir hom.

lettie ·

Trots op die boeregemeenskap en SAPS. Dankie Here vir u groot genade. Wees asb tog paraat boere en maak jul gesinne weerbaar.

vytjie ·

Dankie eerste al die gesinslede wat nog bymekaar is. Dankie, Dankie vir hul lewens.

Jan ·

Skitterend. Great samewerking. Ek het ook op al my selfone die eyenetwatch applikasie gelaai. Werk skitterend. Sal onmiddelik rigting Kan gee waar Na toe hul vlug. Ons moet saam staan en alles doen om ons te beveilig.

Dan ·

Baie geluk aan die boere wat ge help het en baie sterkte aan die famielie
Afriforum het so nood versekering met heliekopters wat kan ge stuur word en selfoon op spooring en baie meer
Kyk biekie daar na

Johannes Meintjes ·

Pragtig Boere, TLU en vennote! Dit is die daadwerklike verskil tussen rentmeesterskap en blote roemryke vertoon! Mag al ons buurtwagte, plaaswagte en GPF inisiatiewe daagliks uitbrei en verbeter in kriminele SA.

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.