130 000 hektaar naby Daniëlskuil verwoes

’n Reusebrand woed sedert Vrydag in die Daniëlskuil-omgewing. (Foto: Verskaf / Corné Barkhuizen)

Brandbestryders, boere en inwoners van Daniëlskuil in die Noord-Kaap spook al dae lank om ʼn brand op pad tussen dié dorp en Kuruman in bedwang te bring.

Verskeie brande is glo Vrydagoggend in dié omgewing gestig waarvan die eerste een naby die Wonderwerkgrotte ontstaan en vinnig in ʼn suidoostelike rigting versprei het.

Dit is nie duidelik wat die omvang van die skade tot dusver is nie, maar luidens ʼn verslag wat deur Johann Savage Breytenbach, hoofbestuurder van die Vrystaatse Sambreel-brandvereniging (VSSBV), uitgereik is, is 130 000 ha grond in die Daniëlskuil-omgewing geaffekteer.

Baie vee het ook in dié brand omgekom.

Inwoners sê die brand het teen ʼn geweldige spoed versprei en dat sterk wind en moeilike terrein die bestryding van die brand bemoeilik.

Volgens Breytenbach is grondeienaars en die plaaslike brandweer nie alleen in staat om die brand in bedwang te bring nie en is vier spanne van die departement van omgewingsake se Working on Fire-program na die omgewing ontbied.

Willie Aucamp, LP en DA-kiesafdelingshoof van die Kalahari-streek, sê die brand het tot so ver as Koopmansfontein versprei en dat daar intussen verskeie ander brande in die streek ontstaan het.

“Daar is letterlik nie genoeg hande om al die vure dood te slaan nie,” sê Aucamp.

Hy is van mening dat die regering nie genoeg doen om op brande wat voortdurend in die Noord-Kaap ontstaan voor te berei nie.

Vele hande gryp in

’n Reusebrand woed sedert Vrydag in die Daniëlskuil-omgewing. (Foto: Verskaf / Corné Barkhuizen)

Aucamp het gesê hy wil elke boer, brandbestryder en inwoner egter uit die diepte van sy hart bedank vir hul onbaatsugtige opoffering om mekaar te help en by te staan.

“Jy sal sien dat ʼn boer se plaas tot op die grond afbrand, maar dat hy en sy werkers steeds ry om die buurman te gaan help.”

Corné Barkhuizen, ʼn inwoner van Daniëlskuil, sê die gemeenskap vat altyd hande om mekaar by te staan.

“Die inligting is op ʼn noodgroep gedeel en almal op die dorp het ingespring om te help.”

Barkhuizen en haar man, Johan, is by plaaslike veiligheidstrukture op die dorp betrokke en het die afgelope paar dae gehelp om die brand te bestry.

“Alles het afgebrand. Dit lyk bitter sleg hier by ons.”

Barkhuizen kon nie met sekerheid sê hoeveel plase deur die brand geraak is nie, maar dat dit beslis baie is.

Sy sê dit is traumaties om te sien hoe die diere verwilderd hardloop om skuiling te probeer vind.

“Ons moes self op ʼn stadium skuiling in ʼn oop stuk veld soek nadat ons deur die brand omsingel was.”

Barkhuizen sê die nuutgestigte brandspan op die dorp, wat hoofsaaklik uit jong mense bestaan, het hulle egter baie goed van hul taak gekwyt.

“Daar is van hulle wat vir langer as 40 uur aaneen gewerk het om brande te bestry.”

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

5 Kommentare

Oudste ·

Lord Kitchener se na apers. Dit is hoe die Afrkaners tot oorgawe gedwing was.

Casper ·

Ja en ek wonder wie is die brandstigters wat nie eers onskuldige diere ontsien nie.Die Noord Kaap sal maklik brand aangesien dit so droog is daar.

SjN ·

Ook erg gebrand met die sterk wind in die Amalia, Schweizer Reneke, Bloemhof omgewing die afgelope 3 dae, sterkte aan die betrokke boere.

Tiptol ·

Kan heinings nie geknip word in sulke situasies sodat die diere kan beweeg nie?

Danie ·

Die eff se scorched earth strategy.
Oppas dat iemand nie begin brande stig in plakkerskampe nie.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.