14 beseer in ongeluk op N4

Die 14 motoriste is op die toneel behandel. (Foto: Verskaf)

Altesaam 14 motoriste in Gauteng is vroeg Donderdagoggend beseer nadat ʼn vragmotor teen ʼn minibustaxi en ses ander motors gebots het op die N4-wes tussen Rossouwweg en Simon Vermootenweg-afrit. Drie van die pasiënte is ernstig beseer.

Volgens Thabo Mabaso, woordvoerder vir Tshwane-nooddienste, is paramedici omstreeks 07:22 na die toneel ontbied. ʼn Band van ʼn vragmotor wat sand vervoer, het glo gebars net voordat die bestuurder beheer oor die vragmotor verloor het.

“Die vragmotor het die middellyn oorgesteek en teen ʼn minibustaxi aan die oorkantste baan gebots. Ses ander motors was ook by die ongeluk betrokke.”

Altesaam 14 motoriste is op die toneel behandel en na die Steve Biko-, Kalafong-, Die Wilgers- en Mamelodi-hospitaal geneem vir verdere behandeling.

“Drie mans het ernstige beserings opgedoen, terwyl drie mans en een vrou matige tot ernstige beserings opgedoen het,” het Mabaso gesê.

Sewe van die motoriste het slegs ligte beserings opgedoen.

Verkeer op die N4 het Donderdagoggend stilgestaan, aangesien verskeie bane gesluit moes word.

“Wrakstukke is intussen van die hoofweë verwyder en owerhede het ʼn ondersoek na die oorsaak van die ongeluk van stapel gestuur.”

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

Een kommentaar

JohanR ·

Dink nie ek het al ‘n berig van ‘n ongeluk op Maroela gelees waar die woord taxi nie by kom nie!

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.