14-jarige deur weerlig doodgeslaan

Foto: IPSS Medical Rescue

ʼn 14-jarige meisie is Dinsdagmiddag in die Ntshawini-gebied net buite Kwadakuza in KwaZulu-Natal deur weerlig doodgeslaan.

Paul Herbst, woordvoerder van IPSS Medical Rescue, sê paramedici is net na 17:00 na die toneel ontbied kort nadat die kind deur die weerlig getref is. “By paramedici se aankoms, het hulle alles moontlik gedoen om die pasiënt weer by te bring, maar daar was geen tekens van lewe te bespeur nie. Die meisie is later op die toneel dood verklaar,” sê Herbst.

Werner Vermaak, woordvoerder van ER24, het vroeër gewaarsku dat mense dikwels onderskat hoe gevaarlik weerlig is. Hy het verduidelik indien iemand deur weerlig getref word, is dit noodsaaklik om onmiddellik met kardiopulmonêre resussitasie te begin, aangesien die elektriese skok van die weerlig ʼn uitwerking op die hart se ritme kan hê wat veroorsaak dat dit nie meer voldoende klop nie.

Volgens Vermaak kan ʼn erge elektriese skok soos deur weerlig veroorsaak, byna elke orgaan en weefsel in die liggaam aantas en uitgebreide skade veroorsaak. In erge gevalle kan dit lei tot ʼn hartstilstand of veroorsaak dat die persoon ophou asemhaal, asook tydelike verlamming, tydelike doofheid en in sommige gevalle selfs brandwonde tot gevolg hê.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.