14-jarige doodgeskiet: ‘Hy was so ʼn lewendige seun’

JP Bezuidenhout. Foto: Verskaf.

Die 14-jarige seun wat Vrydag deur rowers in Harrismith in die Vrystaat doodgeskiet is, is intussen as Jean-Pierre (JP) Bezuidenhout geïdentifiseer.

Tinus Defortier, JP se grootmaakpa, het aan Maroela Media vertel hy is ʼn veiligheidsbeampte by Votella-veiligheidsmaatskappy.

Defortier was aan diens, maar het voor sy skof geëindig het vir sy bestuurder toestemming gevra of hy gou saam met sy lewensmaat, Amanda Bezuidenhout, en JP winkel toe kan ry om kruideniersware te gaan koop.

Die gesin het aan die sykant van ʼn plaaslike supermark gestop en dadelik onraad gemerk. “Mense het plat op die grond gelê. Ek het vir Amanda en JP gesê om plat in die motor te lê en het uitgeklim. Daar was ʼn klomp van hulle, een het my van die voorkant af vasgepen. Ek het op een van hulle geskiet en toe brand hulle éérs los,” het Defortier gesê.

Volgens hom het hy taktiese opleiding en kon hy ʼn AK47 en ʼn haelgeweer hoor. Daar is ook haelgeweerskote aan die motor aangetref. “As jy op die foto’s tel, kan jy 39 gate in die motor sien.”

Die rowers het daarna gevlug. “Toe die skietery bedaar, het ek vir my kind gevra of hy oukei is en toe ek my hand op sy lyfie sit, kon ek klaar die bloed voel. Amanda is deur die skouer geskiet en dit het voor by haar longe uitgekom.”

Defortier het met Amanda en JP na die Busamed Harrismith- privaat hospitaal gejaag. “Toe ons daar stop en ek met die outjie praat, het ek net ʼn roggelgeluid gehoor.”

Defortier het gesê hy kan nie met sekerheid sê hoeveel keer JP geskiet is nie, maar hy dink daar was twee skote in sy onderlyf en een by sy oog in wat teruggekaats het en toe by sy mond uit is.

JP en Amanda is by Busamed gestabiliseer en Vrydagaand nog na die staatshospitaal in Qwa-Qwa oorgeplaas.

“JP is Saterdag omstreeks 02:00 oorlede. Sy lyfie kon dit net nie hanteer nie, die skok was te groot. Hy het doodgebloei.”

Amanda word steeds in ʼn algemene saal behandel en het volgens Defortier bloed op haar longe en kla baie van pyn. “Sy gaan vanmiddag weer dokter toe dat hulle kyk. Hulle vermoed daar is nog glasstukke in haar lyf.”

Hy sê Amanda is vir hom té kalm. “Ek dink die skok het nog nie ingesink nie.”

JP was ʼn gr. 8-leerder aan die Hoërskool Harrismith. “Hy was ʼn lewendige mannetjie, maar kon ook maklik diep raak. Hy was lief vir sy rekenaar, om videospeletjies te speel en vir sy hond, Rufus. Toe ek by die huis kom, het daai hond op sy agterstewe gaan sit en sy poot uitgesteek en ek sweer hy het my hand vasgehou vir omtrent drie minute, hy het geweet,” vertel Defortier emosioneel.

Lede van die Rotariërs in Harrismith het aangebied om die begrafnis namens die gesin te behartig.

Hoërskool Harrismith het op hul Facebook-blad geskryf dat hulle diep hartseer is oor JP se afsterwe. “Ons gedagtes en gebede is in die tyd met sy familie en vriende.”

JP Bezuidenhout. Foto: Verskaf.

Maroela Media het vroeër berig die polisie ondersoek twee sake van sakeroof, een van moord, drie van poging tot moord en ook ʼn saak van opsetlike saakbeskadiging.

Volgens sers. Mmako Mophiring, woordvoerder van die polisie, het ses rowers, gewapen met vier vuurwapens, by ʼn plaaslike supermark ingebars en die bestuurder gedreig. “Hy het saamgewerk en hulle het van die toneel gevlug met ʼn onbevestigde hoeveelheid kontant.”

Terwyl hulle uit die winkel beweeg het, het hulle lukraak skote afgevuur op die motors in die parkeerterrein. Defortier meen dit is hiér waar hulle aangeval is.

Die rowers het toe sowat een straat verder op ʼn groentewinkel toegeslaan en daar ook die klante en eienaars gedreig en met ʼn klein hoeveelheid kontant gevlug.

Verder het hulle op nog ʼn motor van die Votella-maatskappy asook ʼn polisievoertuig losgebrand.

Mophiring het Maandagoggend bevestig dat niemand nog in verband met die voorval in hegtenis geneem is nie.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

29 Kommentare

Karolis ·

Mens dink, hoe arrogant nê?
Dan dink jy weer, hoe maklik word dit gedoen.
Dan besef jy, ek bly in Suid Afrika.

Lizelda Jv Rensburg ·

Was dit regtig nodig? n Familie sonder hulle seun, en die arme hond op die foto gaan sy mensevriend net so mis. Alles so onnodig…

Hartseer ·

Hoe onnodig!!! Hoeveel onskuldige moet nog vloei!!! Onskuldige kind!!!
Here Help Ons!!!!!

Jannie ·

Maar die Kommunistiese ANC regime vertel vir die wêreld dat ons lieg oor die moord en doodslag in ons land! Hulle tyd raak min!!

Michelle ·

Die grootmaakpa se skuld? Wat van die totale wetteloosheid/anargie wat in die land heers? Wat van die regering en SWAK polisie, werkloosheid, swak dissipline, immorele alles gaan maar houding oral ens ens?
My bloed kook oor nog ‘n sinnelose moord wat voor die deur van die regering lê.
Baie sterkte aan die gesin, die Here alleen kan hier vrede bring.

EP ·

Verskriklik hartseer en dan stuur private kliniek hom ook nog na staatshospitaal in Qwa-Qwa wat glad nie toegerus is om sy tipe beserings te hanteer nie. Sterkte vir die familie ?

Kalahari Kind ·

Ai, my hart bloei vir ons land se kinders. Sterkte vir die ouers en die pragtige hond. Ons bid dat God julle sal dra hierdeur.

GM ·

En dan het die kriminele MENSEregte. Sterkte aan sy naasbestaandes.
Alle onskuldige persone, wat aan die hand van kriminele beseer word, moet in privaathospitale behandel word en die rekening moet vir die regering gestuur word. Ten minste sal belastinggeld dán vir iets goeds aangewend word. Die ouerpaar kort ook nou oor ‘n miljoen rand, net soos die families van die Life Esidimeni (of hoe okal dit gespel word)- slagoffers. In fact, hul kort meer, want hul as gesin treur oor die afsterwe van hul seun, waar die ander ‘familielede’ nie eers hul gesinslede by die inrigtings besoek het nie, maar nou aas.

Melanie ·

Net my opinie ons lewe in ‘n land waar kriminele heers,geen wet en orde.

Laetitia ·

Moord, verkragting, roof alles aan die orde van die dag.
Wat ,n siek spul mense is nie in hierdie land van ons nie.
My hart bloei vir hierdie familie. So ,n oulike seun.

Eish ·

Daar is net een woord vir die braaksel grond aan die Suidpunt van Afrika, HELHOOL!

Liberaal ·

Ek weet ons linkses mag nie polities korrekte denke bevraagteken nie maar voer ons die vryheid van moordenaars nie te ver nie, moet ons nie ook aan die seun en ander derduisende misdaadslagoffers se regte ook dink nie?

Yolande ·

DIE HERE MOET MAAR KOM EK KAN WAATAGTIG DIT NIE MEER VAT NID

Skokkend ·

Dit is verskriklik. My hart bloei vir die familie. Omri van Zyl van AGri SA se mos die werkers word meer aangeval en vermoor as die wittes in SA . so ja .. miskien moet ons maar die familie ook gaan besoek en dit vir hulle vertel .. MY INNIGE SIMPATIE !! SJOE dit is ‘n pragtige kind. Rus saggies seun.

Leser ·

Ek sit met ‘n reuse knop in my keel, en moet knip-knip om die trane te keer. Ek het self ‘n seun wat nou in graad 8 is. My hart breek in stukke vir hierdie familie. Ek kan nie glo ons land is nou al so wetteloos….?

Lynne ·

Baie sterkte aan die gesin! En, soos gewoonlik…..”niemand is nog in verband met die voorval inhegtenis geneem nie”

AndreL ·

Die MRK sal net iets sê as ‘n ” verkeerde” woord gebruik was

A ·

En niemand het hulle besoek nie want hulle velkleur is verkeerd

Ja ne ·

Baie tragiese situasie. Maar ek dink nie die man moes op hulle geskiet het terwyl hy langs sy gesins motor gestaan het nie. Hy moes weg beweeg het voordat hy geskiet het . Hy het vuur getrek. Aan die anderkant sou ek ook terug geskiet het want ons is siek en sat vir die nonsens. My hart gaan uit na die gesin toe.

Dan ·

In enige land waar n 14 jarige vermoor word, is daar ernstig fout!! Jammer,so jammer. Dit gaan nie beter word nie. My hart is so seer vir al die slagoffers van geweld.

Jozi ·

Rus in vrede ou JP. Ons glo jy is op ‘n beter plek. Innige simpatie aan sy familie en vriende. So onnodig en hartseer.

Ursula ·

Dis baie hartseer. Sterkte aan die familie en vriende!
Hoe gaan hy dood ‘n paar ure nadat hy gestabiliseer is? Dit is so hartseer dat ‘n lewe niks beteken as jy nie kan uithaal en wys nie! Ek glo nie hulle kon hom so vinnig stabiliseer nie.
Daar moet regtig ‘n wet inkom dat enige hospitaal menslik moet optree en lewens eers uit gevaar kry voor hulle net weg gestuur word om dood te gaan.

Pinkie ·

My innigste simpatie aan die familie. Dit was ‘n seuntjie wat aan die begin van sy lewe gestaan het. So verkeerd.

Lana ·

So onnodig! So verkeerd!
Ek bid vir sy familie en vriende. Baie hartseer oor sy hond wat hom gaan soek.
Rus in vrede, JP.

Sulette ·

My innie simpatie aan die familie van JP. Dis vir my vreeslik hartseer dat n onskuldige kind in n spervuur na n staatshopitaal gestuur word terwyl kriminele gewond deur die Polisie privaat behandeling ontvang.

lerato ·

Sou beide ‘n polisieman en ‘n rower in ‘n skietgeveg gewond word. Sal die polisieman na ‘n provinsiale hospitaal geneem word, maar die rower sal na ‘n privaat hospitaal geneem word.

Raar maar waar

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.