14-jarige skuldig aan verkragting

Argieffoto

Argieffoto

ʼn 14-jarige laerskoolleerling van Mpumalanga is skuldig bevind daaraan dat hy ʼn negejarige meisie in 2012 verkrag het.

Die graad 7-leerling, wie se naam nie genoem mag word nie omdat hy minderjarig is, is Woensdag in die Nelspruit-streekshof skuldig bevind. Hy is op 8 Mei 2012 in hegtenis geneem nadat ʼn buurvrou hom betrap het waar hy die meisie in sy huis verkrag. Hy was 12 jaar oud toe hy die meisie verkrag het. Die tiener het skuld ontken op aanklagte van aanranding en verkragting.

Landdros André Geldenhuys het in sy uitspraak gesê volgens die buurvrou het sy hom op 7 Mei 2012 op heterdaad betrap.

“Die ooggetuie het gaan ondersoek instel toe sy die meisie hoor skree het,” het Geldenhuys verduidelik. Die tiener het glo uit die kamer gehardloop en die ooggetuie en die slagoffer agter gelaat. “Volgens die buurvrou het jy daarna saam met jou maats gaan speel asof niks gebeur het nie.” Die vrou het die saak by die familie aangemeld en die slagoffer is dieselfde dag nog na ʼn kliniek geneem. “ʼn Forensiese verpleegster het die meisie ondersoek en bevestig dat daar tekens van verkragting is,” het hy bygevoeg.

Volgens Geldenhuys het die minderjarige die hof probeer mislei deur gereeld sy getuienis te verander. “Jy het die klagtes ontken en gesê die buurvrou het jou gehaat ná probleme tussen haar en jou ma. Jy het gesê die vrou het vir jou en die slagoffer elkeen R1 gegee nadat sy julle winkel toe gestuur het om hoender te gaan koop. Volgens jou het die slagoffer haar eie geld gebruik en toe sy joune vat, het jy haar geklap en teen die kop geslaan, daarom het die ooggetuie haar hoor skree.”

Geldenhuys het gesê alhoewel die beskuldigde minderjarig is, het hy aan die hof verduidelik dat hy weet wat verkragting beteken.

“Die hof is tevrede met die bewyse dat jy die kind verkrag het. Jy word skuldig bevind op twee aanklagte van verkragting.”

Die beskuldigde is onder toesig van sy oom vrygelaat terwyl voor-vonnisopleggingsverslae deur ʼn maatskaplike werker en Nicro, ‘n plaaslike organisasie gemoeid met die rehabilitasie van jeugoortreders, opgestel word. “As jy probleme veroorsaak sal jou oom jou by die hof aanmeld en jy sal in aanhouding geneem word,” het die landdros gewaarsku.

Die saak is uitgestel tot 28 Mei.

Bron: News24-korrespondent

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

3 Kommentare

Peet Schabort ·

Sodra jy vir werk aansoek doen dan kom velkleur ter sprake. Word daar verslag gedoen oor verkragting dan moet mens raaiwerk doen.
Die kind is in die sorg van sy oom wat aandui dat iets met beide sy ouers gebeur het. Sou die gebrek aan dissipline ‘n rol gespeel het?

lynette ·

Wens ek weet hoe geregtigheid werk . Ek maak n kind groot wat deur sy eie broer verkrag is . Die saak is aangegee hy was 3 mde in die tronk . Ek kom toe net uit en kom by my huis aangestap asof niks nog ooit verkeerd was nie . Nou vra ek hoe het hy losgekom en wat nou verder .

Petro ·

Ag siegtog, NICRO bestaan so min as die man in die maan, dis n misleidings veldtog om jou en my om die bos te lei.

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.