14 slaan toe op geldwa in Pta

Argieffoto: Kent Williamson

Die polisie het ʼn soektog van stapel gestuur na ʼn groep van minstens 14 verdagtes wat Dinsdagaand ʼn transitovoertuig in Pretoria probeer beroof het.

Kapt. Daniel Mavimbela, polisiewoordvoerder, het gesê die voorval het in Petroleumweg in Waltloo in die ooste van die stad plaasgevind.

“Die groep verdagtes het vanuit minstens drie voertuie, ʼn Mercedes Benz, ʼn Toyota Fortuner en ʼn BMW, skote op die geldwa gevuur en dit tot stilstand gedwing, waarna springstof op die geldwa gebruik is,” het Mavimbela gesê.

Mavimbela het gesê die bestuurder van die transitovoertuig is tydens die aanval aangerand en is later na ʼn hospitaal geneem vir mediese behandeling. “Die polisie is nog besig met ʼn ondersoek om vas te stel of daar enige geld tydens die voorval geroof is,” het hy gesê.

Die verdagtes het van die toneel gevlug en die Fortuner agtergelaat. Die polisie het beslag gelê op die voertuig. Niemand is nog in verband met die voorval in hegtenis geneem nie.

Vroeër die dag is ʼn geldwa onder soortgelyke omstandighede in die buitewyke van Nelspruit beroof.

Maroela Media het Dinsdag berig ʼn groep van nagenoeg tien swaargewapende rowers het op die geldwa toegeslaan en drie keer probeer om die geldwa met springstof oop te blaas, terwyl drie veiligheidsbeamptes in die geldwa vasgekeer was.

Volgens kol. Mtsholi Bhembe, provinsiale polisiewoordvoerder van Mpumalanga, het die voorval omstreeks 05:25 op die Kamagugu-pad naby die nuwe Universiteit van Mpumalanga plaasgevind toe die geldwa op pad na die omliggende townships was om kitsbanke te gaan hervul.

“ʼn Bruin Mercedes Benz met Gauteng-nommerplate het die geldwa van die pad af gedwing deur dit trompop teen die kant te tref. Die geldwa het die pad verlaat en in die veld tot stilstand gekom,” het Bhembe aan Maroela Media gesê.

“Die eerste twee pogings om die geldwa oop te blaas was onsuksesvol en met die derde ontploffing het die verdagtes toegang tot die voertuig gekry.”

Volgens Bhembe het die veiligheidswagte in die geldwa intussen bystand van kollegas ontbied.

“Die verdagtes was nog besig om die geld te steel toe die veiligheidsmaatskappy se reaksie-eenheid daar opdaag. ʼn Oor-en-weer skietery het uitgebreek waartydens een van die verdagtes, wat ʼn koeëlvastebaadjie van die polisie aangehad het en met ʼn AK47 gewapen was, in die kop geskiet is. Die verdagte is op die toneel dood.”

Bhembe het gesê die res van die verdagtes het met ʼn onbekende bedrag geld op die vlug geslaan en moontlik van wegkommotors gebruik gemaak.

Die wagte wat in die geldwa was, is ongedeerd maar baie getraumatiseerd.

“Die polisie ondersoek ook die omstandighede rakende ʼn polisiebeampte wat in ʼn ampsvoertuig op die toneel was en ʼn skietwond opgedoen het. Sy toestand is stabiel. Geen ander beserings is aangemeld nie,” het Bhembe bygevoeg.

Bhembe het gesê die polisie het beslag gelê op twee AK47-aanvalsgewere, ʼn R5 en ʼn handwapen. Al die vuurwapens se reeksnommers is afgevyl.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

3 Kommentare

Jordaan ·

Ja-nee, ons polisie is eerste op die toneel (“ondersoek die omstandighede rakende die beampte wat reeds op die toneel was in ‘n ampsvoertuig”). Net jammer dit is nie met die doel om misdaad te voorkom nie, maar om deel te neem!

Penellope Jones ·

Nogal “”oulike”” voertuie wat hulle gebruik . . . . . .

JoeV ·

Hier is ‘n slang in die gras. Daai trokkies kan skaars deur ‘n karabyn beskadig word en kan enige van die voertuie wat hier genoem word uit die pad stoot. Maar tog word die voertuig tot stilstand gedwing?

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.