14 vas vir bedrog van meer as R40 miljoen

Die Stellenbosch-landdroshof. Foto: Eunice Stoltz

Altesame 14 verdagtes sal na verwagting Donderdag in die Stellenbosch-landdroshof op aanklagte van bedrog, diefstal en geldwassery van meer as R40 miljoen verskyn.

Ao. Joseph Swartbooi, Wes-Kaapse polisiewoordvoerder, sê plaaslike finansiële instellings het alarm gemaak oor ʼn sindikaat wat ʼn reuse-batefinansieringskema bedryf.

“Die lede van hierdie sindikaat het glo vals voertuigfinansieringsaansoeke geskep en by motorhandelaars ingedien met wie hulle ʼn korrupte verhouding gehad het.”

ʼn Multidissiplinêre span speurders verbonde aan die provinsiale kommersiële misdaad-ondersoekspan het kort daarna ʼn uitgebreide ondersoek gedoen in ʼn poging om ʼn deurbraak te verseker.

“Polisielede wat deel gevorm het van ʼn geïntegreerde operasie het twee vroue en 12 mans Woensdag in die vroeë oggendure op bogenoemde klagtes in hegtenis geneem.

“As deel van die voortgesette ondersoeke kan die moontlikheid van nog inhegtenisnemings nie uitgesluit word nie,” sê Swartbooi.

Lt.kol. Thembisile Patekile, die provinsiale kommissaris van die Wes-Kaap, het die ondersoekspan vir die puik ondersoek geloof.

“Dit moet die weg baan vir ʼn skuldigbevinding en uiteindelik ook ʼn stewige vonnis wat as afskrikmiddel vir misdadigers in die Wes-Kaap moet dien.”

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

2 Kommentare

Hennie Biebouw ·

Ons koop maar altyd ons motors by Rothman motors, eerbare mense jy weet.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.