14 vas vir renosterstropery

Argieffoto

Argieffoto

Veertien vermeende renosterstropers is sedert die begin van die naweek in die Krugerwildtuin in hegtenis geneem, het SANParke Sondag gesê.

Raynold Thakhuli, woordvoerder van SANParke, het gesê die 14 verdagtes is tydens drie suksesvolle operasies in hegtenis geneem. Hy het gesê 113 verdagtes is sedert die begin van die jaar in verband met stropery in die wildtuin in hegtenis geneem.

Volgens Thakhuli is vyf verdagtes Vrydagoggend in hegtenis geneem nadat SANParke-veldwagters ʼn voertuig naby Skukuza van die pad af getrek en deursoek het. “Daar is op ʼn .375-jaggewer, ammunisie en toerusting vir stropery sowel as die voertuig beslag gelê.” Thakhuli het gesê drie verdagtes is later die middag in Malelane in hegtenis geneem.

Die polisie in Limpopo het vroeër Sondag bekend gemaak dat ʼn vermeende renosterstroper in die wildtuin doodgeskiet is. Brig. Hangwani Mulaudzi, woordvoerder van die polisie, het gesê daar het Saterdag ʼn skietery tussen SANParke-veldwagters en drie mans uitgebreek.

“Die veldwagters het die drie mans in Punda Maria opgemerk en beveel om stil te hou. Die mans het glo op die veldwagters losgebrand en die veldwagters het teruggevuur,” het hy gesê. Een van die mans is op die toneel dood en nog ʼn man is in die knie en kuit gewond.

“Die ander verdagte het homself oorgegee en is in hegtenis geneem. Ons het op ʼn jaggeweer, ʼn byl, ʼn mes en drie selfone beslag gelê,” het hy gesê. Volgens Mulaudzi het die oorledene ʼn Mosambiekse weermaguniform aangehad terwyl die ander twee SANParke-drag aangehad het.

Klik hier om vorige berigte oor renosterstropery te lees.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.