14 weer vas ná Kersfees-ontsnapping

Argieffoto Foto: veooz.com

Argieffoto Foto: veooz.com

Veertien mense wat op Kersoggend uit die Fort Beaufort korrektiewe sentrum in die Oos-Kaap ontsnap het, is weer in hegtenis geneem.

“Altesaam 15 mans het die oggend deur die dak van ʼn tronksel gebreek waarin 22 mense aangehou is,” het Nkosinathi Breakfast, streekskommissaris van die departement van korrektiewe dienste, Sondag gesê. “Die ander sewe het agtergebly.”

Beamptes het omstreeks 03:50 die ontdekking gemaak.

“Vier van die gevangenes is bykans onmiddellik weer aangekeer en drie gevangenes is later dieselfde dag aangekeer,” het Breakfast bygevoeg. “Van die gevangenes se ouers het hulle Saterdag oorgegee.” Twee pa’s van Qanda informele nedersetting in Middeldrift en Balfour het hul seuns teruggebring.

Die departement en die polisie volg leidrade om die oorblywende ontsnapte gevangene, Sive Mtunyelwa van Alice, op te spoor. “Hy moet op 5 Januarie 2015 weer in die hof verskyn op aanklag van roof en verkragting. Hy moet homself aan die polisie of die naaste korrektiewe sentrum oorgee,” het Breakfast bygevoeg.

Altesaam 296 gevangenes word by Fort Beaufort aangehou, meeste is verhoorafwagtend.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.