141 in hof ná UJ-betogings

Betogings by die Universiteit van Johannesburg (UJ). Foto: Twitter

Betogings by die Universiteit van Johannesburg (UJ). Foto: Twitter

Minstens 141 mense – onder wie personeel en studente – wat gedurende die betogings by die Universiteit van Johannesburg (UJ) in hegtenis geneem is, sal na verwagting Maandag in die hof verskyn.

Die groep bestaan uit 33 studente van UJ, 13 studente van die Universiteit van die Witwatersrand (Wits) en 95 werknemers. Hulle is almal Vrydag in hegtenis geneem nadat hulle glo ʼn hofbevel verontagsaam het wat hulle verbied het om naby die kampus te betoog.

Die betogers is oornag by die Brixton-polisiestasie aangehou, maar Saterdag op ʼn waarskuwing vrygelaat.

Die betogings teen die uitbesteding van personeel by UJ het verlede week ondersteuning van studente gewerf. Intussen het Ihron Rensburg, die instansie se visekanselier, Nehawu en ander werkerverteenwoordigers Sondag ʼn ooreenkoms onderteken dat dienste wat voorheen uitbestee is intern bekom sal word.

Volgens die ooreenkoms sal alle skoonmaak-, beskermings- en tuindienste intern bekom word volgens ʼn ooreengekome plan en die werkers wat tans hierdie dienste bied, sal volgens ʼn bepaalde proses oorgeskakel word na voltydse werkers van die universiteit.

Die UJ se #FeesMustFall-beweging het egter op sosiale media sy teenkanting teen die ooreenkoms uitgespreek. Die groep het gesê die ooreenkoms is tydens ʼn geslote vergadering met ʼn paar verteenwoordigers onderteken en die betogers is uitgesluit van die onderhandelinge. Volgens die bewering is die werkerverteenwoordigers nie by magte om enige ooreenkoms met die instansie te onderteken nie.

Die ooreenkoms bepaal ook dat alle partye hul samewerking aan ʼn taakspan van die universiteit sal gee wat dringend ʼn plan vir die interne verkryging van dienste moet ontwikkel. Die taakspan sal na verwagting voor die einde van die jaar hierdie plan finaliseer.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

Een kommentaar

Bruno Stef ·

Die betogers wil nie n ooreenkoms met die Universiteit bereik nie en skuif die doelpale net eenvoudig verder.Wat verwag hulle dat die Universiteit nou n ooreenkoms met elke afsonderlike persoon moet aangaan ter wille van vrede en sommer met persone wat by WITS Universiteit ingeskryf is.Wat het WITS en UJ. met mekaar se interne sake en personeel te doen.

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.