Drie motoriste is in die afgelope drie jaar dood weens ysterpenne wat langs die N4 in Gauteng geplaas is en die polisie ondersoek 149 sake in dié verband.
Volgens Faith Mazibuko, die provinsiale LUR vir gemeenskapsveiligheid, is niemand al vasgetrek ná die onderskeie motoriste se dood nie en slegs ses verdagtes is in hegtenis geneem in verband met die ander gevalle op dié hoofweg.
“Dit is duidelik dat Gautengse motoriste se lewe in gevaar is en dat die polisie nie die vermoë het om hul veiligheid te verseker wanneer hulle snags moet reis nie,” het Michael Shackleton, die DA se skadu-LUR vir gemeenskapsveiligheid, gesê.
Mazibuko het in ʼn skriftelike antwoord in die provinsiale wetgewer aan Shackleton gesê dat hierdie ysterpenne op die pad geplaas word met die doel om motoriste te beroof wanneer hul bande bars en hulle van die pad af moet trek.
Maroela Media het ook vroeër berig dat die Gautengse verkeerspolisie motoriste gewaarsku het om dié hoofweg veral oor naweke en snags tussen 18:00 en 04:00 te vermy.
“Die veiligheid van motoriste is reeds in gedrang, aangesien die Gautengse verkeerspolisie nie die hoofweë gedurende die aand patrolleer nie. Die DA sal voortgaan om daarop aan te dring dat Mazibuko die verkeerspolisie as ʼn noodsaaklike diens bestempel, sodat motoriste nie die hoofweg hoef te vermy nie, maar met gerustheid tot hul bestemming kan reis.”
Volgens Shackleton is motoriste reeds vreesbevange om die paaie aan te durf sedert motorkapings van 2 290 sake tot 2 328 in die 2020-’21-boekjaar toegeneem het.
“Die patroon is dieselfde met vragmotorkapings wat van 144 in 2019 tot 206 in 2020 toegeneem het.”
Die DA het ʼn beroep op motoriste gedoen om enige gevalle waar ysterpenne gewaar word op die DA se Twitter- en Facebook-blad te deel.
“Goed beligte hoofweë is ook van sleutelbelang om gevalle soos dié te verminder, daarom sal die DA met die nasionale en provinsiale departemente skakel om straatligte al langs snelweë vir die veiligheid van ons motoriste te plaas,” het Shackleton gesê.
O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.
13 Kommentare
Ek sien dit as poging tot moord.
Faith Mazibuko, die provinsiale LUR vir gemeenskapsveiligheid? Ek betwyfel ook die dame se ernstigheid om na ons veiligheid om te sien. Motoriste word gewaarsku om nie die paaie te gebruik nie. Ons betaal belasting en wat doen sy om iets aan die saak te doen?
Ek verstaan nie hoekom die polisie nie gereeld daar kan ry en patrolleer nie. Hulle weet dan waar is die probleem areas/paaie asook die tye wat dit meestal gebeur
Goed beligte hoofweë is ook van sleutelbelang om gevalle soos dié te verminder, daarom sal die DA met die nasionale en provinsiale departemente skakel om straatligte al langs snelweë vir die veiligheid van ons motoriste te plaas,” het Shackleton gese. Elektrisiteitvoorsiening is ‘n probleem op nasionale vlak, dus gaan die ligte aan wees? Daarby onderhoud van die ligte. Die probleem is ‘n verval in sosio-ekonomiese toestande en die SAPS en howe wat ‘n grap is wat sulke gedrag bevorder. Beter om die oorsaak aan te spreek as die simptone. Daar is baie paaie wat nie beligting het nie en sal… Lees meer »
is die N4 nie n tol pad nie, dan moet sanral mos die paaie beveilig want hulle word betaal om die paaie te gebruik. Kan hulle nie dan ook vir skade aan voertuie ens. verantwoordelik gehou wou word nie.