15 000 Kuruman-skoliere moet grade herhaal

Argieffoto

Argieffoto

Meer as 15 000 leerlinge tussen Graad R en Graad 11 in Kuruman in die Noord-Kaap gaan volgende jaar hul graad moet herhaal, het die departement van basiese onderwys Maandag gesê.

“Al daardie leerders gaan hul graad moet herhaal, aangesien hulle te veel werk vanjaar gemis het,” het Troy Martens, woordvoerder van die departement, gesê. “Hulle het basies die helfte van die jaar gemis. Dit is baie duidelik aan die gemeenskappe gekommunikeer tydens vergaderings.”

ʼn Groep wat hulself die “Road Forum” noem, het in Junie begin betoog en geëis dat ʼn 130 km stuk pad in die John Taolo Gaetsewe-distriksmunisipaliteit geteer moet word. Betogers het leerders verhoed om skool toe te gaan om só die aandag van die owerhede te trek.

Nagenoeg 16 000 leerlinge by 54 skole in verskillende informele nedersettings is hierdeur geraak. Altesaam 496 van hierdie leerlinge is matrikulante. Leerlinge kon weer op 22 September begin skoolgaan.

Martens het gesê ouers is tydens die betogings herhaaldelik gewaarsku dat hul kinders moontlik kan druip indien hulle nie skoolgaan nie. “Die ouers het ons versoeke geïgnoreer. Dit is ʼn betreurenswaardige situasie, maar ons kan nie almal bloot net laat slaag nie,” het sy gesê.

Martens het gesê matrikulante sal egter nog ʼn geleentheid gebied word. “Die matrikulante is in ʼn intensiewe hersieningsprogram betrokke. Hulle sal volgende jaar in Maart hereksamens aflê. Dit is ʼn baie ongewone situasie, so ons moes reëlings tref om hulle te help.”

Matrikulante van Kuruman is in September gederegistreer vir vanjaar se senior sertifikaat-eksamen sodat hulle vir die hereksamen kon voorberei.

Lees ook:
Kuruman-kinders keer terug skool toe
Kuruman-matrikulante gederegistreer

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

Een kommentaar

Gerhard Bezuidenhout ·

En die belastingbetalers moet daarvoor opdok terwyl die klomp boewe wat die kinders van die skole af weggehou het skotvry rondstap en seker nog winddronk is van die “grants” wat die ANC elke maand aan hulle uitdeel drank te koop.

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.