15-jarige tydens Lichtenburg-onluste doodgeskiet

Argieffoto: enca.com

ʼn 15-jarige seun is Dinsdagoggend tydens ʼn gewelddadige betoging in Lichtenburg in Noordwes doodgeskiet.

Brig. Sabata Mokgwabone, provinsiale polisiewoordvoerder, het gesê die voorval het omstreeks 08:00 op die Boikhutso/Lichtenburg-pad plaasgevind.

“Die bestuurder van ʼn wit voertuig het naby Shukran op betogers geskiet en die seun noodlottig gewond. Twee mense, wie se ouderdomme tans nie bekend is nie, is gewond en na ʼn hospitaal geneem,” het Mokgwabone gesê.

“Hoewel die skieter nog nie in hegtenis geneem is nie, is sy identiteit bekend en werk die polisie hard om hom aan te keer.”

Die situasie in die dorp is steeds gespanne en die polisie handhaaf ʼn groot teenwoordigheid in die gebied. Sekere paaie is noodgedwonge vir verkeer gesluit en motoriste moet van alternatiewe roetes gebruik te maak.

Maroela Media het vroeër berig ʼn groep betogers van Blydeville het Dinsdagoggend die dorp se strate ingevaar, verskeie paaie met voorwerpe versper en ook ʼn vragmotor aan die brand gesteek. Die inwoners betoog glo oor ʼn tekort aan dienslewering en bewerings van korrupsie in die munisipaliteit.

Lt.genl. Baile Motswenyane, provinsiale polisiekommissaris, het die dade van openbare geweld veroordeel en die publiek versoek om nie eiendom te beskadig of reg in eie hande te neem nie.

“Ons versoek lede van die gemeenskap om kalm te bly en die polisie toe te laat om albei voorvalle te ondersoek. Ons wil dit ook duidelik maak dat geen geweld geduld sal word nie. Die polisie sal nie huiwer om teen enige persoon op te tree wat nie die wette van die land respekteer nie,” het Motswenyane gesê.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

8 Kommentare

Hennnie ·

Ons is almal siek en sat vir betogers wat kerm en kla oor alles. Dan loop alles deur, motors en busse word aan die brand gesteek en winkels geplunder. Dis hoog tyd dat iemand optree, dis ‘n gemeenskaplike gevoel teen wettelose betogers wat die land afbreek.

Chris Beets ·

Wil net reg help is 3 Vragmotors en nie ( een ) nie maar nog steeds bedrywig Heli maak sy rondtes.

Marius ·

Nou waar was die Polisie toe die betoogers vanoggend omstreeks 04h00 reeds begin het,of toe die vragmotor aan die brand gesteek was?

Asmain ·

Dis net verstommend hoe vinnig die polisie op die skieter se spoor is maar die vandaliste en brandstigters word “gemonitor”

Brandwag ·

Dit is kommerwekkend dat die Polisie hard werk om die skieter te vang. Hoekom word daar nie hard gewerk om die betogers te vang nie.Waar is die betogers wat die voertuig en die skieter se werkers met klippe bestook het.Mnr Polisie ek het die reg om my eiendom, werkers en famielie te beskerm.As n betoger jou met n halwe baksteen gooi is die baksteen n gevaarlike wapen so ook die petrolbom waarmee hy gooi.Dan tree jy op en gee beskerming met wat jy het.Daar is n houding by die polisie dat betogers eindom mag beskadig en dat die publiek dit moet verdra.Dit moet stop,sodra daardie betoger eiendom en lewens in gevaar begin stel het hy nie meer regte nie en moet daar dadelik opgetree word,ja stappe van geweld… die Polisie steek vas by rubber en weet nie wat om verder te doen nie en dan val alles uitmekaar uit.Buurtwagte moet patrollies ry publiek is op bystand met vuurvegters(want niemand anders het nie)publiek word in groepe op bystand geplaas om die dorp te beskerm.Waar gaan dit heen!!!

Jane ·

Ek het ‘n probleem daarmee dat jy jouself nie mag verdedig as ‘n skare mense jou kar met klippe en met stokke en bakstene en brandende bande bestorm nie? Enige mens raak paniekerig en enige persoon sal voel hy moet iets doen. Jammer die seun is dood, maar ongelukkig sedert Hector Peterson so baie aandag gekry het en die wereld se simbool van apartheid wreedhede geword het sal hulle altyd kinders gebruik sodat wanneer hulle iets oorkom, diegene wat hulleself verdedig, hetsy die polisie of lid van die publiek , is dit groot nuus en word die feit dat hy ‘n KIND was uitgebuit terwyl hy eintlik niks anders as ‘n krimineel was wat saam met die ander eiendom beskadig en mense se lewens BEDREIG het nie!

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.