15 slaan toe op kitsbank in Bloemfontein

(Foto: Shutterstock)

Die polisie in Bloemfontein het Saterdag in die vroeë oggendure reageer op ʼn skietery in MacGregorstraat in die East End-nywerheidsgebied. Die blitspatrollie is net voor 01:00 na die toneel ontplooi.

“Die verdagtes het op polisiebeamptes gevuur terwyl hulle van die toneel weggehardloop het,” sê lt.kol. Thabo Covane, woordvoerder van die polisie.

ʼn Patrollievoertuig het by ʼn vulstasie stilgehou waar ʼn 30-jarige man op die grond gelê het. Hy het skietwonde in sy maag en linkerhand opgedoen.

“Die kitsbank is beskadig. ʼn Lid van ʼn gewapendereaksie-maatskappy is ook in die maag geskiet en is na ʼn plaaslike hospitaal geneem.”

Volgens inligting het 15 mans by die vulstasie opgedaag en springstof gebruik om die kitsbank oop te blaas. “Hulle het op die slagoffers geskiet toe hulle afsonderlik by die toneel opgedaag het.”

Die verdagtes het ʼn onbekende bedrag kontant gebuit en van die toneel weggehardloop toe die blitspatrollie opgedaag het.

Enigiemand met meer inligting word versoek om lt.kol. Itumeleng Pule te kontak by 073 606 5715 of ao Donald Sampson by 062 307 7362.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.