15 vas oor korrupsie by Vrystaat-toetssentrums

Argieffoto (Foto: memyselfaneye, Pixabay)

Vyftien persone is in hegtenis geneem op aanklag van korrupsie by verskeie toetssentrums in die Vrystaat.

Vyf verkeersbeamptes, drie administrasieklerke, vier persone wat lisensies namens ander afgelê het, twee eksaminators en een bestuurskoolinstrukteur is in Bethlehem en Harrismith in hegtenis geneem, het Simon Zwane, woordvoerder van die Padverkeersbestuurskorporasie (RTMC), gesê.

Die persone is aangekeer in ʼn gesamentlike operasie deur die RTMC se nasionale anti-korrupsie-eenheid, die Valke, misdaadintelligensie, die taktiesereaksie-eenheid en die Nasionale Vervolgingsgesag. “Die span is tans besig met nog inhegtenisnemings,” het hy bygevoeg.

Die RTMC het inligting ontvang oor korrupsie en bedrog by toetssentrums in Harrismith en Bethlehem. “Die beweerde korrupsie hou verband met eksaminators en verskillende bestuurskoolinstrukteurs wat spesialiseer in kode B (08), C1 (10) en EC (14).”

Die bestuurskoolinstrukteurs het die aansoekers bekend gestel aan die eksaminators wat veronderstel was om die toetse te doen. “Geld is dan aan die eksaminators of bestuurskoolinstrukteurs betaal. In sommige gevalle is alles gereël terwyl die instrukteur as ʼn middelman optree.”

Vragmotorlisensies (kode 14) is uitgereik aan individue wat nie fisies self getoets is nie, maar ʼn ander persoon is gebruik om die fisiese toets namens die persoon af te lê.

Zwane het gesê ʼn bewusmakingsveldtog is vroeër in Bethlehem gehou, maar ondanks die waarskuwing, het beamptes hul korrupsie voortgesit. “Enigiemand wat sy lisensie op só manier bekom het, word gemaan om na vore te kom sodat die geldigheid van die lisensie nagegaan kan word. ʼn Oudit en verifiëringsproses sal gedoen word om alle lisensies na te gaan wat deur die betrokke beamptes uitgereik is.”

Lede van die publiek word gemaan om die veldtog teen bedrog en korrupsie te ondersteun en nie enige omkoopgeld te betaal nie. Voorvalle kan aangemeld word by 0861 400 800 of stuur ʼn e-pos aan [email protected]. Stuur ʼn WhatsApp-boodskap aan 083 293 7989.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

7 Kommentare

Louis ·

Wie hierdie mense is weet ons nie, sal graag name en vanne wil sien. Hulle moet vir poging tot moord aangekla word.

Scalla ·

Kla aan vir moord, nie poging tot moord nie, deur nie bevoeg en in beheer van n ekstra swaar voertuig te wees is n bewegende bom, maak die skuldiges se name bekend en trek al die uitgereikte lisensies terug. Die aansoekers is mede pligtig.

Sarel ·

Slegs rookskerm. In die verlede was ook mense in hegtenis geneen maar korrupsie duur voort. Die wat omkoop geld betaal is net so skuldig want dit is hulle wat sorg dat korrupsie voortduur

Leon ·

Verbaas my nie. As jy kyk hoe 60% van die mense op die pad bestuur, kan ek dit verklaar. Ongelukkig sal hulle alle lisensie houers wat na 1994 hulle lisensies gekry het moet oor toets.

Moedeloos ·

Stem nie saam nie. My kinders het hul lisensies op regverdige manier gekry en baie geld gekos. Hoekom moet hul ook gepenaliseer word?

Janneman ·

Ja nee. Almal kan nie onder selfde kam geskeer word nie.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.