16 sterf toe taxi brand; kind oorleef

Só het die ongelukstoneel ure ná die gru-botsing gelyk. (Foto: KwaZulu-Natalse departement van vervoer)

Altesame 16 mense het onherkenbaar verbrand toe ’n minibustaxi Saterdag in die vroeë oggendure ná ’n botsing op die N3 deur vlamme verswelg is.

’n Sewejarige seuntjie is die enigste oorlewende insittende van dié taxi. Die kind se ma, wat ook in die wrak vasgekeer was, het hom deur ’n venster na buite gedruk en aan ’n verkeersbeampte op die toneel aangegee.

Die seuntjie is vandaar na die Northdale-hospitaal gehaas waar hy tans vir inwendige beserings behandel word.

Die beampte wat die kind by sy ma geneem het, is ongedeerd hoewel sy diensvoertuig net soos verskeie ander voertuie op die toneel uitgebrand het.

Die KwaZulu-Natalse departement van vervoer sê voorlopige berigte dui daarop dat ʼn vragmotor aanvanklik op die N3-Suid tussen die Peter Brown- en Chattertonweg-afrit in Pietermaritzburg  omgeslaan het.

Die Toyota Quantum-minibustaxi het later onder die vragmotor ingery wat ʼn kettingbotsing tot gevolg gehad het. Altesame nege voertuie was in eindelik in die botsing betrokke.

Maroela Media het vroeër berig die taxi het ná die botsing aan die brand geslaan. By die nooddienste se aankoms op die toneel het die brand reeds na ander voertuie versprei en die taxi met al sy insittendes verswelg.

Daar word vermoed dat die minibustaxi van Gauteng na Harding in die suide van KwaZulu-Natal op pad was. Sewe vroue en nege mans, almal insittendes van die minibustaxi, het in die botsing omgekom.

Die LUR vir vervoer, gemeenskapsveiligheid en skakeling, Neliswa Peggy Nkonyeni, het Saterdag haar skok oor die botsing uitgespreek.

“Ons is diepbedroef oor hierdie gru-ongeluk wat soveel lewens geëis het. My innige meegevoel met die families van al die slagoffers. Ek wens ook dié wat beserings opgedoen het ʼn spoedige herstel toe.”

Noodpersoneel was teen vroeër vanmiddag steeds besig om die ongelukstoneel op te ruim.

Só het die ongelukstoneel ure ná die gru-botsing gelyk. (Foto: KwaZulu-Natalse departement van vervoer)

Só het die ongelukstoneel ure ná die gru-botsing gelyk. (Foto: KwaZulu-Natalse departement van vervoer)

Só het die ongelukstoneel ure ná die gru-botsing gelyk. (Foto: KwaZulu-Natalse departement van vervoer)

Só het die ongelukstoneel ure ná die gru-botsing gelyk. (Foto: KwaZulu-Natalse departement van vervoer)

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.