160 in hospitaal ná chemiese stof by skool

Sommige pasiënte is met ‘n lugambulans hospitaal toe geneem. (Skermgreep: Rescue Care)

Paramedici sê bykans 160 pasiënte is Maandag by ʼn hospitaal behandel nadat ʼn onbekende chemiese stof by ʼn skool in Umlazi in Durban gestort is.

Rescue Care-woordvoerder Garrith Jamieson het gesê paramedici het gereageer ná verskeie oproepe om hulp by die skool.

“By hulle aankoms daar was daar chaos. Na bewering het sommige van die leerders met ʼn bal van een of ander aard gespeel. Hulle het dit oopgeskeur en ʼn poeierige stof het uitgekom. Die wind het die stof opgetel en in verskeie klaskamers ingewaai, waar dit verskeie leerders en onderwysers geaffekteer het,” het Jamieson gesê.

Hy het gesê die stad se nooddienste en paramedici van Rescue Care het verdere hulp ingeroep weens die groot getal pasiënte. Die polisie en die metropolisie was ook op die toneel.

“Vier pasiënte, ʼn onderwyser en drie leerders, het kritieke beserings opgedoen en is op die toneel gestabiliseer. Die Lenmed1-lugambulans is ingeroep om te help met die spoedige vervoer na die Lenmed Ethekweni-hospitaal-en-hartsentrum,” het Jamieson gesê.

Nagenoeg 60 leerders het geringe beserings opgedoen en is ook in ʼn hospitaal opgeneem.

Die polisie se springstofeenheid en die speurtak ondersoek die voorval.

Dit is in dié stadium steeds onbekend presies wát die stof was. Dit vorm deel van die polisieondersoek.

 

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ʼn vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

7 Kommentare

Alma ·

Wow! Dit laat mens sprakeloos. Klink soos n fliek. Maar dis eintlik ontstellend, want mens weet ook nie wie hiervoor verantwoordelik is nie. Hoop almal is darem ok.

Wielspore ·

Die stof is waarskynlik skadeloos, die beserings is veroorsaak deur situasie wat buite beheer geraak het.

JSO ·

Massa histerie en aansit. As een kind bietjie hoes en proes en sleg voel volg al die ander skapies ook. Daar was geen “gifstof” nie. Die poeier is soortgelyk aan “corn starch” en word gebruik om gimnastiekballe (medisyn balle) swaar te maak.

CMS ·

Hoekom die bal oopskeur? Soos bo gesê dis seker ‘n medisyne bal, ons het dit almal op skool gebruik. Mense kyk te veel TV en lees te min

hendrik ·

Ek se ook dis aansit. Kinders sowel as onderwysers was nie lus vir skool nie.

O wee, die gesang is uit! Kommentaar word ná 48 uur op ʼn artikel op Maroela Media gesluit. Kom kuier gerus verder op ʼn meer onlangse artikel.