166 US-studente nou sonder studieskuld

studente

Foto bloot ter illustrasie. (Foto: Argief)

Talle gegradueerde studente het hul studiejaar op ʼn hoë noot afgesluit toe die Universiteit Stellenbosch (US) aangekondig het dat hul studieskuld ten volle vereffen is.

Danksy skenkings ten bedrae van R8,1 miljoen stap altesame 166 studente wat pas afstudeer het – 84 eerstegraadstudente en 82 nagraadse studente – sonder enige studieskuld hul toekoms tegemoet.

“Ons het ʼn beroep op die lojale skenkers van die US gedoen en kon daarin slaag om miljoene rande vir studenteskuld in te samel. Ons is uiters dankbaar vir hierdie ondersteuning,” sê Karen Bruns, senior direkteur vir ontwikkeling en alumni-verhoudinge, die afdeling wat getaak is om geld vir die universiteit in te samel.

“Die gedeelte van die skenings wat aan nagraadse studente toegeken is, sal ʼn groot leemte vul wat deur NSFAS geskep is toe dit vroeër vanjaar finansiering vir onder meer die nagraadse sertifikaat in onderwys en nagraadse regstudente gestaak het.”

Skuld word toenemend die grootste struikelblok vir baie studente in hoër onderwys, met sommige studente wat gedwing word om hul studies te laat vaar omdat hulle nie studiegelde kan betaal nie.

“By die US staan ​​die uitstaande skuld vir die graduandi vanjaar op R16,3 miljoen – wat altesaam 433 studente raak,” sê prof. Stan du Plessis, bedryfshoof van die US.

Hierdie syfers sluit glo die skuld van staatsgefinansierde studente uit. Hierdie studente se skuld beloop egter steeds R13 miljoen ​​vir 289 NSFAS-studente en R11 miljoen vir 106 Funza Lushaka-studente.

“Een van die grootste risiko’s vir universiteite is onbetaalde studentegelde, en dit het vanjaar bly styg,” sê hy.

“In 2011 het studenteskuld in die sektor op R3,3 miljard gestaan ​​en het sedertdien tot R16,2 miljard gestyg.”

Volgens Du Plessis gebruik die US jaarliks ​​ʼn groot deel van sy inkomste – wat deur staatsubsidies en studentegelde gegenereer word – vir studiebeurse, maar die instelling ervaar groter finansiële druk omdat subsidie- en klasgeldinkomste onder druk gekom het.

“Groot bedrae uitstaande studieskuld vererger net die probleem verder, aangesien ons nie sonder die vereiste reserwes skuld net kan afskryf nie.”

Bruns meen dat studieskuld studente se vermoë beïnvloed om die volgende hoofstuk van hul lewe ten volle te begin.

“Ons het vaardige jong mense nodig om die werkplek te betree, om vir werk te kan meeding en om potensiële werkgewers van hul vermoëns te oortuig, maar residuele skuld beïnvloed hul geloofwaardigheid, moraal en selfvertroue nadelig.

“Vir baie studente wat gebuk gaan onder die las van skuld, is die tyd waarin hul gradueer dikwels bittersoet. Hierdie ruim bydraes van skenkers gee hulle nou die geleentheid om professionele loopbane te volg sonder die skadu van finansiële spanning wat oor ʼn andersins blink toekoms hang,” sê Bruns.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.