16 gesteelde skape agter in minibussie

Die troppie skape is agterin ‘n minibussie geprop. Dit word verbind met ‘n veediefstalsaak op Northam. (Foto: SA Polisie)

Drie mans is agter tralies nadat hulle met ʼn troppie gesteelde vee agter in hul minibussie betrap is.

Lede van die polisie was Donderdagoggend besig met patrollies op die R510 tussen Northam en Rustenburg in Noordwes, toe hulle die minibussie naby Phokeng opgemerk het. Die beamptes het snuf in die neus gekry en die bussie met sy verdonkerde vensters deursoek, sê lt.kol. Amanda Funani, polisiewoordvoerder in Noordwes.

Agter in was 16 gesteelde skape ter waarde van sowat R48 000.

“Die drie mans in die bussie is in hegtenis geneem nadat hulle nie ʼn behoorlike verduideliking oor die skape kon gee nie,” sê Funani.

Die skape is later verbind met ʼn saak van veediefstal in die Northam-omgewing.

Die polisie is nog op soek na ʼn vierde betrokkene.

Die drie ander mans sal na verwagting Dinsdag in die Tlhabane-landdroshof verskyn.

Die patrollies vorm deel van verhoogde polisiesigbaarheid tydens die Paasnaweek. Lt.genl. Sello Kwena, provinsiale polisiehoof, het die beamptes vir hul waaksaamheid geloof.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.