Die Alfred Nzo-distriksmunisipaliteit in die Oos-Kaap het voortslepende geweld by Nowalala in Ntabankulu veroordeel wat minstens 17 persone haweloos gelaat het.
Ndabuko Masumpa, woordvoerder van die munisipaliteit, het gesê ʼn groep persone het vier huise aan die brand gesteek wat 17 mense dakloos gelaat het. Die geweld het Sondagaand begin.
Masumpa het gesê lede van die gemeenskap is gekant teen ʼn ANC-raadslid wat tydens verlede maand se plaaslikeregeringsverkiesing verkies is. Volgens hom is die munisipaliteit besig om oplossings te soek om seker te maak die gebied keer terug na normaal.
Paaie wat Lugangatho met Ntabankulu, Mount Frere en omliggende dele verbind, is weens die geweld gesluit. Onderrig by skole en basiese dienste aan gemeenskappe is hierdeur ontwrig.
Leierskap van die Alfred Nzo-distriksmunisipaliteit en Ntabankulu- plaaslike munisipaliteit het Maandag en Dinsdag die gebied besoek, maar volgens die munisipaliteit is die situasie steeds onstabiel.
“Die munisipaliteite is deurgaans in gesprek met die gemeenskap,” het hy gesê. Die persone wat dakloos gelaat is, sal verligting ontvang van die munisipaliteit. Hulle bly tans in nabygeleë dorpe.