17 in Noordwes vas ná oproer

Twee polisievoertuie en ‘n ambulans het in die slag gebly. (Foto: First Help/Twitter)

Die polisie in Noordwes het 17 mense, talle van hulle minderjarig, in hegtenis geneem nadat hulle Woensdag glo betrokke was by die plundery van winkels in Boikhutso, net buite Lichtenburg.

Die polisie het toegeslaan ná groot oproer gister toe twee polisievoertuie en ʼn ambulans in die gebied boonop aan die brand gesteek is. ʼn Adjudant-offisier verbonde aan die polisie se honde-eenheid het vroeër die dag ʼn agtjarige seun doodgery terwyl die kind oor ʼn straat gehardloop het.

Chaos het losgebars en die voertuie is aan die brand gesteek. ʼn Voertuig wat aan die plaaslike verkeersowerheid behoort is ook met klippe bestook.

Verskeie informele winkeltjies is geplunder.

“Drie polisiebeamptes en twee nooddienswerkers moes na ʼn hospitaal vir behandeling geneem word,” het brig. Sabata Mokgwabone, polisiewoordvoerder in Noordwes, Donderdag gesê.

Die onafhanklike polisieondersoekdirektoraat ondersoek ʼn saak van strafbare manslag ná die kind se dood. Die polisie hanteer self die ondersoek na die openbare geweld deur die inwoners, het Mokgwabone gesê.

  • Vroeër dieselfde dag is ʼn 17-jarige meisie dood toe ʼn bakkie haar op die pad tussen Ottosdal en Lichtenburg, naby Blydeville, raakgery het.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

2 Kommentare

Boklam ·

O Vader tog. Die dorp is n kruitvat met n kort lontjie. Munisipaliteit is niks werd nie, grootste deel van dorp bedags sonder water. Inwoners in woongebiede sit sonder werk want daar is nie, met skole toe is die hongernood groot onder kinders. Hulle loop in dorpstrate en kos bedel en dan verjaag deur inwoners en polisie weens covid 19. Ek wonder of daar al 1 kospakkie vir minderbevoorregtes uitgedeel is. Die mense is desperaat. Selfs polisie is met ander dinge besig, soos om bejaardes wat medikasie moet gaan kry by winkelsentrum terug te stuur want apteke is “toe”. Wat het van “Ubuntu” geword, of is die elkeen vir homself

PieterP ·

Elkeen vir homself want ek en jy kan nie op enige hulp reken nie

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.