17-jarige genie slaag fisikagraad met lof

Hjalmar Rall het op 17 jaar sy BSc Fisika-graad voltooi (Foto: Verskaf)

Hjalmar Rall het op die ouderdom van 17 jaar sy BSc Fisika-graad aan die Universiteit van Pretoria voltooi – en dít met ʼn onderskeiding. Hy is een van slegs 5% van sy klas van 130 studente wat dié vak baasgeraak het.

Hoewel dié jong genie nog nie eens oud genoeg is om wettig agter ʼn stuurwiel in te klim nie, gaan hy vandeesjaar sy honneurs aanpak.

Maroela Media het vroeër berig oor dié seun van Riebeek-Kasteel in die Wes-Kaap wat op 13-jarige ouderdom sy Cambridge-eksamens op A-vlak geslaag het. Dié eksamens is gelykstaande aan ʼn 13de skooljaar wat internasionaal erken word. Hy het reeds op 12-jarige ouderdom sy matriek met lof voltooi en sy studie in 2017 as 14-jarige aan die Universiteit van Pretoria begin.

Volgens Hjalmar se pa, Heinrich Rall, was sy seun van jongs af begaafd en het reeds in graad 5 besef hy is nie gelukkig op skool nie. “Hy het gefrustreerd geraak met die skool se werkpas. Ek het hom toe tuis begin onderrig,” vertel Heinrich.

Hjalmar het skool binne die bestek van drie jaar voltooi. Hy het nie meer as vier tot vyf uur per dag aan sy skoolwerk afgestaan nie. In die middae het hy sy stokperdjies soos kuns en musiek, asook vaardighede soos rekenaarprogrammering en fotografie beoefen. Hy is ʼn enigste kind.

Heinrich vertel Hjalmar het nog altyd in fisika belanggestel en het daarom besluit om in dié rigting verder te studeer. “Hy het van kleins af ʼn drang na kennis en ʼn behoefte om als te verstaan. Fisika bied die geleentheid om dinge beter te verstaan en heeltyd vrae te vra, hoewel ʼn mens nie altyd die antwoorde daarop kry nie.”

Hjalmar gaan vandeesjaar sy honneurs in fisika aan Tuks begin. Hy wil dan sy meestersgraad in kwantuminligting, ʼn nuwe navorsingsgebied in kwantumfisika, in Amerika of Duitsland gaan aandurf.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

14 Kommentare

Weskusnooi ·

Reik na die Sterre Jong man!!!

Hier is iemand wat êrens WIL kom en vir NIEMAND gaan wag nie!

Dankie aan sy ouers wat hom ondersteun!

Lou ·

Baie geluk aan die jongman.
My bekommernis is die 5% van 130 studente wat die graad gekry het. Dit beteken net 6 of 7 studente uit 130 het die graad klaar gemaak.! Is die standaard te hoog? Soek die universiteit rede om studente te laat druip sodat hulle volgende jaar weer geld uit hulle kan maak? Is die kinders wat uit skole kom se opleiding so swak dat hulle nie in staat is om ‘n graad kwalifikasie te verwerf nie?

Danie ·

Ongelukkig dink ek nie ander word gehelp om te druip nie. Hulle druip sommer vanself. Op universiteit is 30% so effens min of deur te kom. En daar word sover nog verwag dat jy ten minste moet kan lees en skryf. In fisika dra #sciencemustfall ook nie nie by tot die algemene kennis nie.

Zombie ·

Universiteite kry subsidies van die staat vir studente wat hulle graadkwalifikasie binne die residensiële tydperk afhandel. Dit is dus onsinnig om te vra of studente gedruip word, sodat die universiteite kan geld maak. Selfs dosente se bevordering hang onder andere af van die slaag % af.

Naomi Berger ·

Sjoe wat ‘n voorreg om so begaafd te wees.
Mag jy van krag tot krag gaan en Jesus eer in jou vordering.
Sterkte met alles wat jy fraag wil bereik.

Penellope Jones ·

Baie, baie geluk!
Alle voorspoed met jou toekoms !

Koos ·

En wanneer hy eendag werk soek in SA, word ALLE deure in sy gesig toegeklap, want hy het die “verkeerde” velkleur.
Ek weet waarvan ek praat. Ek het later uit frustrasie van aanmekaar werkloos bly, my 2 universiteitsgrade afgehaal van my CV af. Daar staan bloot “studied” by daardie 3 jaar. Die 3 jaar was eintlik 4 jaar, maar ek het sommer self 1 jaar militêre diensplig bygevoeg. Niemand het my ooit oor dié leuens op my CV uitgevra nie en uiteindelik het ek deur “dommer” te lyk as wat ek is, ordentlike werk gekry. Al die jare van geen werk of swak betalende werk het wel REUSE skuld geskep. Daars eendag geen aftree en dan agteroorsit vir my nie.

Hasie ·

Germaan ek stem saam met jou, want die Duitsers praat nie net nie, hulle doen ook.

barend v d westhuizen ·

ja hulle keur dat wit mense wat geleerd is die werk kry wand dan wys dit hoe hulle on bevoeg is om die werk te doen

Ekspat ·

Dit laat my so dink aan my jong dae. Ek was baie soos Hjalmar. Ek kon nie woordeboeke en verklarende woordeboeke uitlos nie. Het gewoonlik my handboeke na ‘n maand se skool klaar deurgewerk en dan verveeld in die klasse gesit. Ongelukkig was daar nie geld vir die evaluasies wat ek sou moes doen om grade oor te slaan nie, en aangesien my ma my alleen moes groot maak en moes werk om kos op die tafel te sit, was tuisskoolgang nie ‘n opsie nie.

Ek het maar die volle 12 jaar op skool deurgebring, en my vrye tyd toegewy aan boeke oor allerhande wetenskaplike, geskiedkundige en literere onderwerpe lees. Na skool universiteit toe gegaan en my graad klaar gemaak terwyl ek gewerk het om my studies te finansier. Nou sit ek in Japan en gee Engels terwyl ek weer geld spaar om terug universiteit toe te gaan en my Meesters en Doktoraal te doen.

Dis ongelooflik hoe groot ‘n verskil geld he kan maak. Maar ook ongelooflik hoe harde werk en vasberadenheid vir ‘n tekort daaraan kan opmaak.

Ek gin die kind al die geleenthede wat sy ouers se geld hom kan gee. En hoop hy sal aanhou om die beste gebruik daarvan te maak. Dit blyk darem hy het tot dusver.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.