17-jarige herstel wonderbaarlik ná ongeluk met perd

Caroli Wolhuter. Foto: Facebook

Caroli Wolhuter, ʼn 17-jarige meisie van die Noord-Kaap, was Saterdag nog in ʼn ernstige toestand onder verdowing in die waakeenheid van die Mediclinic Gariep in Kimberley nadat ʼn perd op haar geval het. Drie dae later het sy Dinsdag saam met haar gesin in dieselfde hospitaal se gange geloop.

“Haar herstel is net verstommend. Daar is nie woorde nie. Dit is fantasties,” sê Charl Wolhuter, Caroli se pa.

Hy vertel toe die gesin Sondag by die hospitaal aankom, het ʼn verpleegster vir hulle ʼn papier gegee waarop Caroli geskryf het. “Sy het Saterdag deur die nag so effens wakker geword, amper asof sy net ʼn helder oomblik gehad het, en toe gevra vir ʼn pen. Sy het vir die suster op die papier geskryf ‘how long’,” vertel Charl.

Caroli kon in daardie stadium nog nie praat nie, omdat sy aan ʼn asemhalingsmasjien gekoppel was. Toe haar gesin Sondagoggend by haar kom, was sy wakker en het sy wéér geskryf. Die keer het sy vir hulle geskryf ‘dankie vir julle liefde’.

Maandag is die pyp in Caroli se keel verwyder en kon sy begin om saggies met haar familie te praat. “Sy is 100% dieselfde Caroli wat ons ken. Dieselfde humorsin, alles,” sê Charl. “Toe ons gister [Dinsdag] by haar kom, het sy regop in ʼn stoel langs die bed gesit. Toe kon sy lekker met ons gesels.”

Hy sê Caroli het selfs ʼn ent saam met hulle in die gang gestap. “Haar lyfie is nog ʼn bietjie swak en ons moet haar help, maar sy herstel so goed. Sy het absoluut geen permanente skade van die ongeluk oorgehou nie.”

Maroela Media het vroeër berig Caroli het op 18 Maart oudergewoonte naby haar ouers se plaas in die Magogong-distrik gaan perdry toe die ongeluk gebeur het. Sy en ʼn mederuiter het op die gruispad naby die plaas gery en Charl en sy vrou, Coreen, het gekyk hoe hulle ry. Die weer het egter opgesteek en die perde het onrustig begin raak en daarom het Charl gesê hulle moet huis toe ry.

Caroli Wolhuter in die hospitaal saam met haar susters, Hesmari en Jacomari, haar broer, Carel, en haar ouers, Charl en Coreen. Foto: Verskaf

Dit is toe dat Caroli se perd skielik op sy agterpote gaan staan en agteroor bo-op haar geval het. Caroli se skedel het gekraak en haar brein was geswel ná die ongeluk. Haar longe is ook ernstig beseer en een van haar longe het ʼn paar dae ná die ongeluk platgeval. Haar hart was ook gekneus. Sy is sedertdien onder verdowing in die waakeenheid gehou.

Caroli se ouers, haar susters, Hesmari en Jacomari, haar broer, Carel, en Jacomari se man, Wynand Visser, besoek haar sedert die ongeluk daagliks in die hospitaal.

Charl sê hoewel Caroli dalk nie vir die res van die jaar sal kan perdry of netbal speel nie, is sy nie daaroor ontsteld nie. “Sy is so rustig. Sy sê dit maak nie saak hoe lank dit neem om ten volle te herstel nie, sy sê net dankie aan die Here dat hy haar gesond maak,” sê Charl.

Hy sê die hele familie het vasgestaan in God se belofte van volkome genesing. “Alle eer aan ons hemelse Vader wat Caroli nie vir ʼn oomblik alleen gelaat het nie. Die vrede wat Caroli en ons almal deur hierdie hele tyd ervaar, is wonderlik. Ons is so dankbaar vir almal se gebede en ondersteuning.”

Hy sê die hele gesin is vol lof oor al die dokters en personeel van Mediclinic Gariep wat hulle ook deurentyd ondersteun het.

“Caroli sal verseker weer perdry. Sy het klaar ook so gesê. Dalk nie hierdie jaar nie, maar wel in die toekoms.”

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

17 Kommentare

izette ·

Dis wonderlike nuus….Prys die Here….
Bid vir julle as gesin.

Dankbaar ·

Amen! Ons dien n Groot God van Wonders! Baie sterkte en voorspoed. Voorwaar goeie nuus.

Linda van Mosselbaai ·

Ons is verheug oor die herstel . Prys die Here.

Muffin ·

Dit is fantastiese nuus en hoop sy herstel ten volle binnekort.

Essa ·

Wonderlike nuus. Saam met julle bly. Gebede word verhoor, dankie Here.

Celia ·

wat n wonderlike God dien ons nie, baie sterkte jonge dame en familie.

Linda ·

Almal wat al deur so trauma is sal kan getuig wat ‘n gevoel dit is as jy by die hospitaal kom en jou geliefde het so wonderlik herstel sedert jou vorige besoek. Prys die Here!

ZeeBee ·

Baie dankbaar vir Caroli en haar hele gesin. Sterkte vorentoe .

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.