17-jarige kry hartoperasie ná 16 jaar

Zithobile Dayile in die hospitaal. (Foto: Verskaf)

’n 17-jarige seun wat feitlik sy hele lewe op ’n hartoperasie gewag het, sterk goed aan nadat hy dié lank verwagte operasie ’n maand gelede ondergaan het.

Zithobile Dayile van Gqeberha in die Oos-Kaap se naam het byna 16 jaar lank op die waglys vir ’n hartoperasie verskyn om ’n foutiewe buis geleë in ’n gat in sy hart te herstel.

Dié lewensveranderende operasie is op 8 Februarie by die Busamed Private Hospitaal in Paardevlei, Somerset-Wes, in die Wes-Kaap uitgevoer. Zithobile is vier dae ná die operasie uit die hospitaal ontslaan en sterk sedertdien tuis aan.

“Voor die operasie het Zithobile se neus daagliks gebloei. Dit het opgehou sedert hy die operasie ontvang het,” vertel die tiener se ma, Sindiswa, nou.

“Hy het ook aanhoudend gehoes, wat dit vir hom moeilik gemaak het om asem te haal. Dit blyk nie meer ’n probleem te wees nie. Ons wag nou net om te sien of hierdie komplikasies vir altyd weg is.”

Sindiswa sê sy was verheug toe sy die nuus kry dat haar tienerseun eindelik die operasie sou ontvang waarop sy gesin jare lank al wag. Sy was egter ook bang en bekommerd.

“Nou is ons bly dat hy uiteindelik die operasie ontvang het waarvoor ons almal amper 16 jaar gewag het. Ek het hom vroeër kliniek toe geneem sodat hulle kon seker maak hy is oukei.”

Sy sê dokters het aanvanklik gedink die gat in sy hart sou vanself genees, maar hulle het later besef dat hy geopereer sal moet word.

Dr. Michael Janson, kardiotorakale chirurg by die Busamed Private Hospitaal, meen Zithobile se operasie was ’n sukses.

Zithobile Dayile by sy ma, Sindiswa Dayile. (Foto: Verskaf)

“Ons het hom geopereer om die gat in sy hart toe te maak en ook om die bestaande fout reg te stel. Indien die seun nie die operasie ondergaan het nie, was daar ’n kans dat hy voortaan aan hipertensie sou ly.”

Die spesifieke operasie word gewoonlik uitgevoer wanneer ’n pasiënt ongeveer vyf jaar oud is. Zithobile se simptome was egter nie so problematies nie. Die operasie bied wel nou aan hom ’n lewe van beter gehalte.

Zithobile is die vierde kind wat met behulp van die Pelo-stigting geopereer word om ’n hartkwaal op te los. Die stigting is ’n maatskappy sonder winsbejag wat geld insamel vir die behandeling van kinders met kongenitale hartsiekte.

Die eerste drie kinders, wat sedert verlede jaar almal lewensreddende hartoperasies ontvang het, was óók van die Oos-Kaap. Dit sluit in klein Chenelle Nimrod van Queenstown – die Pelo-stigting se eerste begunstigde.

Maroela Media het vroeër berig ’n gaatjie in Chenelle (6) se hart is in September verlede jaar by die  Busamed-hospitaal herstel.

Die Pelo-stigting sê dit word geraam dat een uit elke 1 000 babas met kongenitale hartsiektes gebore word. ’n Pasgebore baba word boonop elke ses uur by die departement van gesondheid se waglys gevoeg van diegene wat chirurgie en/of behandeling nodig het.

Kinders se name verskyn normaalweg vir sowat twee jaar op dié waglys voordat hul beurt aanbreek om geopereer te word.

Dudu Mvimbi Leshabane, woordvoerder van die Pelo-stigting, sê daar is duisende kinders wat nog wag om hartbehandeling of chirurgie te ontvang, wie se ouers nie die operasie kan bekostig nie. “Indien hierdie kinders nie onmiddellik aandag kry nie, kan hulle sterf.”

Die Pelo-stigting spook om geld in te samel om te verseker dat kinders met aangebore hartsiekte lewensreddende chirurgie en voortaan ook mediese behandeling ontvang, wat hulle ’n kans op ’n normale lewe kan bied.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

4 Kommentare

Miena ·

Hoekom moet daar altyd so gesukkel met befondsing wees vir kinders in SA wat mediese hulp benodig?

Swerwer ·

Zithobile jy is pragtig, mag jy nou jou jare vorentoe as gesonde jong seun die lewe aangryp met altwee hande.

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.