17-jarige se liggaam in Oranjerivier gevind

Jean van Reenen Olivier (Foto: Facebook)

Die liggaam van Jean van Reenen Olivier (17) wat Dinsdag in die Oranjerivier verdwyn het, is gevind.

Kapt. Nelis Prins, woordvoerder van die polisie, het gesê Van Reenen Olivier se liggaam is in die rivier naby die Khamkirri-kampeerplek gevind. Dit is ongeveer 30 km vanaf  Swartbooisberg waar hy laas in die rivier opgemerk is.

“Die liggaam is Vrydag om 10:20 positief uitgeken as dié van Van Reenen Olivier.”

Die SAPD Kakamas bedank elkeen, hoe gering ook al die hulp was, wat deel was van die soektog.

Kampeerders en personeel het sy liggaam by Khamkirri opgemerk. Hy is op ʼn klein eilandjie net voor die Augrabies-valle uit die water gehaal en dankbaarheid is uitgespreek dat hy gevind is voor hy onder die valle verdwyn het.

“Die SAPD betuig ook ons innige simpatie met die familie en vriende van Van Reenen. Mag die Hemelse Vader u almal toevou met Sy liefde en genade,” het Prins bygevoeg.

Maroela Media het vroeër berig die Oranjerivier word sedert Dinsdagaand gefynkam nadat die tiener van Kakamas saam met ʼn vriendin gaan swem en skielik onder die water verdwyn het. Die twee het omstreeks 17:50 by Swartbooisberg gaan swem. “Toe sy weer om haar kyk, was hy weg,” het Prins in daardie stadium gesê.

Polisieduikers, reddingspanne, honde-eenhede en nooddienswerkers het almal die oewer gefynkam. Stroomversnellings het reddingspanne se werk bemoeilik.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.