17-jarige steeds in waakeenheid ná perd op haar val

Caroli Wolhuter. Foto: Facebook

Twee weke nadat ʼn 17-jarige meisie van die Noord-Kaap ernstig beseer is nadat ʼn perd op haar geval het, sê haar pa dat dit nou die gesin se geloof en hul vertroue in God se genesing is wat hulle staande hou.

Caroli Wolhuter, ʼn graad 11-leerder aan Hoërskool Hartswater, het op 18 Maart oudergewoonte naby haar ouers se plaas in die Magogong-distrik gaan perdry toe die ongeluk gebeur het. Volgens Caroli se pa, Charl, is sy jongste dogter ʼn ervare ruiter en het sy al aan gevorderde uithouritte deelgeneem.

Charl vertel dat Caroli en ʼn mederuiter op die gruispad naby die plaas gery het en dat hy en sy vrou, Coreen, gaan kyk het hoe hulle ry. Die weer het egter opgesteek en die perde het onrustig geraak en daarom het Charl gesê hulle moet huis toe ry.

Dit is net toe dat Caroli se perd skielik op sy agterpote gaan staan en agteroor bo-op haar geval het. Charl en Coreen was binne oomblikke by Caroli, wat onmiddellik ná die ongeluk haar bewussyn verloor het. Die Wolhuter-egpaar het met Caroli Hartswater toe gejaag waar sy gestabiliseer en na Mediclinic Gariep in Kimberley oorgeplaas is.

Sedertdien is Caroli in die waakeenheid van dié hospitaal waar haar ouers, haar susters, Hesmari en Jacomari, haar broer, Carel, en Jacomari se man, Wynand Visser, by haar bed waak.

Caroli se skedel is gekraak en haar brein het geswel. Haar longe is ook ernstig beseer en een van haar longe het ʼn paar dae ná die ongeluk platgeval. Volgens Charl het dokters ʼn drukmeter in haar brein gesit, maar is dié meter Vrydag verwyder, wat vir die gesin ʼn goeie teken is.

Caroli Wolhuter (voor in die middel) saam met haar susters, Hesmari en Jacomari, haar broer, Carel, en haar ouers, Charl en Coreen. Foto: Verskaf

“Sy is tans nog onder verdowing en kan nie praat nie, maar reageer wel soms op sekere vrae. Sy sal haar kop knik en haar oë vir kort rukkies oopmaak, en dan raak sy weer aan die slaap,” sê Charl. Hy sê dat hulle vir Caroli vertel het wat gebeur het en dat sy verstaan hoekom sy in die hospitaal is.

Hoewel daar nog geen aanduiding is wanneer Caroli heeltemal wakker sal wees of uit die waakeenheid geskuif sal word nie, twyfel die Wolhuter-gesin geensins dat sy wel ten volle sal herstel nie. “Ek is so dankbaar dat ons hele gesin reeds voor hierdie ding besef het God is nie in die seermaak-besigheid nie, Hy is in die genesingsbesigheid. Ons weet dit was geensins iets wat gebeur het omdat God ons tereg wou wys of iets wou leer nie, dit was ʼn aanslag van die bose. Wat ons nou staande hou, is volle geloof in God se genesing,” sê Charl.

Hy sê die gesin waardeer die talle mense wat vir Caroli bid en hy praat met die grootste lof oor die dokters en personeel wat Caroli behandel. “Die duiwel sal altyd probeer om ons in God se goedheid te laat twyfel, maar ons het geen vrese nie. Net geloof.”

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

9 Kommentare

Koos ·

Alle sterkte vir haar herstel. Om egter die duiwel of bose te blameer is absurd. Dis ‘n perd wat geskrik het, niks anders nie.

Pietman ·

Absurd? Koos, jy is vry om te glo dat die fisiese dimensie die enigste is wat bestaan. Dat daar nie iets soos goeie en duistere magte in die heelal voorkom nie. Sommiges het wel die insig om verby die fisiese masker van hierdie wêreld te sien en te besef dat daar ook ‘n geestelike dimensie is. Geen mens, nie ek of jy, het alle kennis in pag oor die aard en geheimenisse van ons heelal nie, maar kom ons respekteer mekaar se menings eerder.

Ditnis wonderlik dat Caroli se gesin haar so mooi bystaan. Spoedige beterskap word haar toegewens.

Michael ·

Dit is tragies sterkte aan die famielie Ons het ook vriende waar die kinders betrokke is by perd ry dit was net n ongeluk dit gebeur in alle soorte sport en perd ry bly gevaarlik.

rollie ·

Sal ‘n perd agteroor val as dit op sy agterbene staan en die ruiter vorentoe leuen?

Linnie Fourue ·

Dis wonderlik dat sy nog lewe. My kind was nie so gelukkig nie n ongeluk met n perd het haar haar lewe gekos. My hart is gebreek. Ek is ons Vader so dankbaar dat julle pop lewe.

Linnie Fourue ·

Dis wonderlik dat sy nog lewe. My kind was nie so gelukkig nie n ongeluk met n perd het haar haar lewe gekos. My hart is gebreek. Ek is ons Vader so dankbaar dat julle pop lewe. Ek sal saam met julle bid.

Sarel Strydom ·

1. Sterkte vir die gesin. Julle geloogg beslus ‘ n voorbeeld vir ons. ” Koos” niemand het die reg om hulle geloof as ” absurd” te beskryf nie. Geen kommentaar sou beter gewees het.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.