17 vas oor gewelddadige betoging in Hankey

Betogers in Hankey (Foto verskaf deur SAPD Oos-Kaap)

Die polisie in Hankey in die Oos-Kaap het ʼn gesamentlike bedryfsentrum ingerig om geweld in dié sitrusdorp te monitor. Altesaam 17 persone is reeds in hegtenis geneem op aanklag van openbare geweld.

Sers. Majola Nkohli, woordvoerder van die polisie, het gesê ʼn deel van die R331 tussen Hankey en Patensie is Dinsdag gesluit en motoriste is aangeraai om van alternatiewe roetes gebruik te maak. ʼn Groep van ongeveer 1 000 betogers het Dinsdagoggend omstreeks 06:00 bymekaargekom en in die rigting van Hankey se sentrale sakedistrik begin beweeg. Die polisie het die pad versper om die groep te verhoed om die gebied te betree.

Nkohli het gesê betogers het verskeie eise gehad, waaronder dat sewe verdagtes, wat Maandag in hegtenis geneem is, vrygelaat moet word. Toe daar nie aan hulle eise voldoen is nie, het die betogers glo klippe begin gooi.

Polisiebeamptes moes van rubberkoeëls en skokgranate gebruik maak om die skare te beheer. Nog 10 betogers is in hierdie stadium in hegtenis geneem. Dit bring die getal inhegtenisnemings tydens die voortgesette betogings op 17.

Nkohli het gesê die situasie is steeds gespanne en gemeenskapsleiers het die betogers toegespreek om die geweld tot ʼn einde te bring.

Die 10 verdagtes wat Dinsdag in hegtenis geneem is, is tussen 20 en 54 jaar oud. Hulle sal binnekort in die Hankey-landdroshof verskyn op aanklag van openbare geweld en opsetlike saakbeskadiging.

ʼn Groep van 200 persone het Maandag die R331 versper met buitebande wat aan die brand gesteek is, betonblokke en boomtakke. Die betogers het na bewering ook twee voertuie, ʼn privaat voertuig en ʼn polisievoertuig, met klippe bestook.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

2 Kommentare

Kobus ·

Tydmors- vry op straat sal nooit vervolg word nie want hulle is die Regering se soldaatjied

P ·

Waar kom al die mense vandaan want Hanky is so ‘n klein dorpie?

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.