170 km, drie lande, 46 uur, een stel tekkies en ʼn hart vol durf

Alana Doyle en Armand du Plessis hou die Suid-Afrikaanse vlag omhoog by die eindstreep van UTMB 2015 Foto: Nic Bornman (foto verskaf)

Alana Doyle en Armand du Plessis hou die Suid-Afrikaanse vlag omhoog by die eindstreep van UTMB 2015 Foto: Nic Bornman (foto verskaf)

Stel jouself voor: dis Vrydagaand om 18:00 en jy staan gereed met net jou paar hardloopskoene aan jou voete, ʼn waterbottel oor jou skouer en ʼn paar energiestafies iewers in jou sak versteek. Voor jou lê 170 km oor drie lande, meer as 10 000 m se klim (dis hoër as Everest!) en jy moet dit binne 46 uur voltooi.

Vir die meeste mense klink dít soos ʼn onbegonne taak, maar drie Suid-Afrikaners het onlangs die land se naam hoog gehou tydens die Ultratrail Mont Blanc in Chamonix, Frankryk. Armand du Plessis, Alana Doyle en Jens Wittrowski het die 170 km-roete voltooi. Nóg ʼn Suid-Afrikaner, wat tans in Hongkong woon, Nic Bornman, het die 100 km-roete voltooi. Ryan Sandes, een van Suid-Afrika se voorste atlete, moes ongelukkig ná 40 km uit die UTMB onttrek, nadat hy verlede jaar klierkoors opgedoen het en nog nie ten volle herstel het nie.

“Mens wil kyk of jy dit kán doen,” sê Armand du Plessis aan Maroela Media oor dié ultra-uithouwedloop. “Dis die hoogtepunt en doelwit van enige ultra-roetedrawwer se loopbaan. Dis iets wat jy op jou bucket list kan afmerk.”

Vir Armand was die droom een stappie nader toe hy ontdek het dat hy, danksy langafstandroetes wat hy oorsee kon hardloop, reeds ʼn paar punte ingesamel het vir die UTMB. Slegs 2 300 deelnemers word goedgekeur en atlete moet ʼn aantal punte tydens vorige wedlope (waaronder minstens twee ultra-wedlope van meer as 100 km) aflê om te kan inskryf. Name word dan volgens ʼn lotery getrek.

“Enigiemand kan dit doen. As ons ‘gewone’ ouens dit kan doen, dan kan enigiemand dit aanpak,” verduidelik hy. “Dis nie net die elite ouens wat voltyds hardloop wat dit kan maak nie.”

Dan verduidelik hy hulle oefenplan van tussen 50 km en 60 km per week. “Ek glo nie daaraan dat mens jou moet dood oefen nie,” skerts hy. (Sommige ultramaraton-atlete oefen tussen 160 km en 220 km per week.) “Dis maar moeilik om genoeg tyd te kry om in die oggende twee of drie ure op ʼn berg te gaan hardloop en dan terug te kom en te kom werk. Dis moeilik om ʼn balans te kry tussen jou werk, hardloop en persoonlike lewe.”

Luc Steens, ʼn Fransman wat tans in Kaapstad bly, en al drie keer die UTMB voltooi het, het Armand bygestaan met sy oefenprogram en motivering. “Ek het baie te danke aan Luc. Hy het my baie raad en advies kon gee, en gereeld die padkaart met my deurgewerk en elke deel van die roete met my bespreek. Hy het gehelp om my vertroue te bou dat ek dit kán doen. Hy, sy vrou Julie, en hul dogtertjie Lou het my boonop in Frankryk kom ondersteun.”

Atlete op die UTMB begin die Vrydagaand om 18:00 en moet dan 170 km oor die Alpe aflê deur Frankryk, Switserland en Italië voor hulle terugkeer na Chamonix. Die afsnytyd is 46 uur. Armand en Alana het saam klaargemaak binne 38 uur 17 minute en Jens (wat tans in die Verenigde Koninkryk woon) het binne 39 uur 18 minute klaargemaak.

Atlete moet hoofsaaklik vir hulself sorg op die roete, alhoewel jy halfpad jou sak en hardloopskoene mag ruil. Atlete het ʼn verpligte lys van toerusting wat hulle ten alle tye by hulle moet dra. Daar is 11 waterpunte met kos en ses gewone waterpunte.

“Bykans 90% van só wedloop is in jou kop,” sê Armand verder. “Dis nie óf jy laagtepunte op die roete gaan hê nie, maar wanneer – en hoe jy dit gaan hanteer. Jy gáán moeg raak, jy gáán pyn hê, maar dan moet mens kan deurdruk. Dis om diep te gaan delf uit die donker plekke en dan steeds aan te hou en deur te druk en voort te gaan.”

Volgens die UTMB se webwerf is dit verpligtend dat atlete deeglik bewus moet wees van die afstand en omvang van die wedloop, en dat atlete reeds voor die wedloop geleer het hoe om in berge selfversorgend te wees, veral wat klimaatstoestande en hoogte betref (nag, wind, koue, mis, reën of sneeu) en hoe om dit te hanteer wanneer jy geïsoleer is en jy fisieke of sielkundige probleme begin ontwikkel weens uitputting, verteringsprobleme, spierpyne of enige ander geringe siektetoestande. “Dit is nie die rol van die organisasie om ʼn hardloper te help om hierdie probleme te oorkom nie,” word dit duidelik gestel.

Vir Armand is hierdie oomblikke gewoonlik net voor sonsopkoms. “Tydens die UTMB het ek die eerste oggend nog skaars 60 km of 70 km afgelê toe ek begin twyfel of ek dit kan doen – en toe lê daar nog 100 km voor my!” ʼn Tweede keer weer ongeveer halfpad tydens die Saterdag. “ʼn Paar kilometer voor die waterpunt het ek goed gevoel en lekker gehardloop. Ek het by die waterpunt aangekom en gaan sit – en begin besef ek het ʼn groot fout gemaak. My spiere het begin kramp, ek was naar en ek het gesukkel om op te staan. Ek het 15 minute lank op my arms gelê, en daarna maar rustig my sak begin oorpak om reg te maak vir die aand. Ek het uiteindelik 50 minute lank by dié waterpunt spandeer. Die ouens wat ek agtergelaat het voor ek so lekker begin hardloop het, het my almal weer intussen ingehaal. Ek het egter opgestaan en weer die roete aangedurf. Die opdraandes was oukei, maar die afdraandes was baie erg. Ek het bly beweeg en ongeveer 04:00 vir Luc by ʼn volgende punt gekry waar ek sop en ʼn paar soliede kosstafies geëet het. Al wat oorgebly het, was 6 km langs ʼn koue rivier voor jy weer ʼn 1 000 m moet uitklim.

“Daai 6 km was baie erg en dit het gevoel of ek nooit die laaste berg gaan oorkom nie. Die liggies het ver bo my oor die kruin verdwyn. Maar ek het een voet voor die ander gesit, en hoe hoër ek geklim het, hoe sterker het ek gevoel. Ek het later selfs van die ander deelnemers verbygesteek.

“Dis asof daar ʼn override switch is wanneer mens begin deurdruk. En dan, met slegs 12 km of 13 km oor, en met ongelooflike uitsigte oor die Alpe, besef jy: jy gaan dit maak!”

Armand het by die laaste waterpunt vir Alana gekry en die twee Suid-Afrikaners, wat gereeld saam in Kaapstad oefen, het besluit om die laaste paar kilometer saam aan te durf.

“Ongeveer 2 km buite Chamonix was daar reeds toeskouers langs die pad wat mens aangemoedig het. Die ondersteuning was ongelooflik – veral as mens in ag neem die wenners het al byna ʼn dag vroeër klaargemaak! [Xavier Thevenard van Frankryk het die roete binne 21 uur 9 minute voltooi.]

“Dit het kompleet gevoel of ons deur iemand se agtererf hardloop toe ons aan die buitewyke van die stad ingekom het. Iemand het iewers die Suid-Afrikaanse vlag in ons hande gedruk en ons het saam-saam die laaste ent klaargemaak. Wat ʼn gevoel! Dit is ʼn ongelooflike ervaring om oor die eindstreep te kom met almal wat jou gelukwens.”

Ryan en sy vrou, Vanessa Haywood, het ook die Suid-Afrikaners verwelkom by die eindstreep.

“Met my eerste 100 myl-wedloop het ek nie klaargemaak nie. Ek het ná 100 km siek en naar gevoel en besluit om op te gee. Ek wonder vandag nog steeds wat sou gebeur het as ek net bietjie uitgehou en deurgedruk het. Nou weet ek daar is altyd ʼn deur wat weer vir jou oopgaan ná jou donker tye op die pad. Maar mens moet soms diep delf om weer daar uit te kom.

“Ultra-wedlope leer jou geduld. Dit leer jou hoe om uitdagings anders aan te pak. Om te dink – as jy dit fisies kan vermag, dan kan jy in jou persoonlike of professionele lewe ook iets groter vermag.”

Sy advies aan die ‘gewone drawwers’? “Kom net uit die huis uit. Ons het só mooi land – ons is bederf! As jy 21 km kan hardloop, kan jy 50 km ook hardloop.”

Wie of wat inspireer hom? “Almal wat saam met my op die berg hardloop. Enigiemand wat in die oggend 05:00 opstaan om te gaan hardloop. En dolfyne.” Oor die dolfyne wou hy egter nie uitwei nie.

Armand se volgende wedloop is die 100 myl Grand Raid in Réunion tussen 22 en 25 Oktober.

Klik hier vir ‘n fotorubriek van die UTMB.

Hier volg twee video’s met hoogtepunte uit 2014 en 2013:

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ʼn vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Een kommentaar

Chris Mostert ·

Ongelooflik trots op ons SA hardloopers wat hier groot race aangepak het! Goeie werk!Lekker Armand

O wee, die gesang is uit! Kommentaar word ná 48 uur op ʼn artikel op Maroela Media gesluit. Kom kuier gerus verder op ʼn meer onlangse artikel.