17de verdagte aangekeer oor moord op steroïedkoning

Kaapstad-landdroshof (Foto: Google Maps)

Nog ʼn verdagte, na bewering ʼn lid van die berugte 27’s-bende, is Donderdag in hegtenis geneem as deel van die ondersoek na die moord op Brian Wainstein, die sogenaamde “steroïedkoning”. Die 42-jarige verdagte sal Dinsdag in die Kaapstadse landdroshof verskyn.

Kol. Katlego Mogale, woordvoerder van die direktoraat vir prioriteitsmisdaadondersoeke (die Valke), het gesê die verdagte is in hegtenis geneem deur die Valke se eenheid wat ernstige misdaad ondersoek, misdaadintelligensie en ander ondersoekspanne van die Valke in Kaapstad. Beamptes van sigbare polisiëring het die span bygestaan.

Maroela Media het vroeër berig Wainstein is op 18 Augustus 2017 by sy huis in Constantia doodgeskiet voor sy lewensmaat en tweejarige kind.

Die verdagte sluit aan by 16 medebeskuldigdes waarvan drie persone, naamlik Mark Williams, Jerome “Donkie” Booysen en Williams Stevens, op 22 Desember 2020 in hegtenis geneem is. Hulle is vrygelaat op borgtog van R100 000 elk.

William Stevens, ook bekend as “Red”, is intussen in Februarie vanjaar in sy huis doodgeskiet. Hy sou die volgende dag in die hof verskyn het.

Die saak van die 17 verdagtes sal op 12 Mei 2021 in die Kaapstadse landdroshof voorkom.

Bronne het voorheen beweer dat Wainstein “die verkeerde kant gekies het” en om dié rede “uitgehaal” is. Ten tyde van sy moord het Wainstein ook sy uitlewering aan die VSA teengestaan. Hy is daar gesoek vir dwelmverwante aanklagte en geldwassery. Wainstein is ook deur Interpol gesoek nadat hy glo onwettige steroïede aan sportsterre wêreldwyd verskaf het.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

2 Kommentare

JohanR ·

As jy met honde gaan lê, staan ​​jy op met vlooie / If you lie down with dogs, you get up with fleas! ‘n Geval van bendelid neem nog ‘n bendelid uit die saamelewing uit.

ROELOF ·

Polisie neem 17 in hegtenis vir moord op n “dwelmbaas”, maar sleep voete wanneer hul ons plaasboere moet beskerm?

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.