18-jarige en ander gee op Taaldag nuwe hoop vir Afrikaans

Hier sing die skoolkoor van die Afrikaans Hoër Seunskool in Pretoria  "Land van melk en heuning" tydens die feesviering en boekbekendstelling. Foto: Susan Lombaard, Maroela Media

Hier sing die skoolkoor van die Afrikaans Hoër Seunskool in Pretoria “Land van melk en heuning” tydens die feesviering en boekbekendstelling. Foto: Susan Lombaard, Maroela Media

“Ons taal se woorde sing. Hulle duikel en slaan bollemakiesie. Hulle rondomtalie; wieg; bekoor. Jy kan hulle wegblaas in die wind, of naderhark om ʼn storm los te praat.”

Só sê die 18-jarige Jan-Anton Theron, onderhoofseun van die Afrikaans Hoër Seunskool. Theron het gepraat by Taaldagvieringe wat Donderdag by die Afrikaans Hoër Seunskool in Pretoria gehou is.

Ná ʼn paar toesprake deur onder meer prof. Christo van Rensburg, dr. Dirk Hermann en prof. Jaap Steyn, het dié jongman die gehoor regop laat sit met sy roerende toespraak oor sy moedertaal.

“Ons taal is prakties, sonder nonsens,” het hy gesê. “Ons timmer en werskaf nuwe woorde aan mekaar, want ons is woordmakers. Ons het raaksê-plekname soos Verkeerdevlei, Boegoeberg, Pakhuispas, Noenieput en Pofadder. Ons ken ons mense uit – Jan Wynwa, Jan Boel, Mooi-Fanie, Ou-Fanie, Rooi-Fanie – alles gebeur sommer tjoef-tjaf. Ons name is ook vol klanknabootsing soos tjienkerientjee, kelkiewyn, bokmakierie en piet-my-vrou.”

(Lees Jan-Anton Theron se volledige toespraak hier.)

Prof. Jaap Steyn, bekende biograaf en kultuurhistorikus, se boek ‘Ons gaan ʼn taal maak’ is ook by dié geleentheid bekend gestel. Dié boek, uitgegee deur Kraal Uitgewers, is waarskynlik die omvattendste geskiedenis oor die vestiging en groei van Afrikaans tot nog toe, en is ʼn waardevolle navorsingsdokument vir die Afrikaanse taal. Die boek ondersoek die ontstaan van Afrikaans vanaf die 19de eeu, volg die uitdagings en vooruitgang van die taal deur die Anglo-Boereoorlog en die heropboufase daarna, dokumenteer die pad na Standaardafrikaans en kyk na waar Afrikaans en Afrikaanse instellings vandag staan.

Chris Chameleon Foto: Facebook

Chris Chameleon Foto: Facebook

Die bekende Afrikaanse sanger Chris Cameleon het met liedjies soos “Taal van die liefde” en sy toonsetting van Psalm 8 luister aan die geleentheid verleen, saam met die bekroonde koor van die Afrikaans Hoër Seunskool wat onder meer “Land van melk en heuning” gesing het.

Die Afrikaanse Hoër Seunskool het self by die geleentheid sy lang geskiedenis wat met dié van Afrikaans verweef is, gevier: Die skool is vanjaar reeds 90 jaar oud, en het ontstaan uit die Afrikaanse Hoërskool, die eerste Afrikaanse skool in Suid-Afrika. In 1931 het twee leerlinge van dié skool landswyd opslae gemaak toe hulle by ʼn interhoër-skoolbyeenkoms geweier het om medaljes te ontvang omdat daar nie Afrikaanse teks op die medaljes was nie.

“Ek kom, interessant genoeg, uit ʼn baie Engelse gesin: my ma is ʼn Engels-onderwyser en my boetie is in ʼn Engelse skool,” vertel Jan-Anton. “Maar ons is stadig maar seker besig om almal in die gesin te ver-Afrikaans!”

“Jongmense soos Jan-Anton maak ons rustig dat Afrikaans in veilige hande is,” het dr. Dirk Hermann, bestuurshoof van Solidariteit, by die geleentheid gesê. “Terwyl daar nog mense uit ʼn volgende geslag is wat so passievol soos hy is oor Afrikaans, en wat so kreatief daarmee kan omgaan, kan ons weet dat Afrikaans nie net in boeke soos ‘Ons gaan ʼn taal maak’ gedokumenteer sal bly nie, maar dat dit lewend sal bly deur die mense wat dit praat.”

Die boek ‘Ons gaan ʼn taal maak’ is beskikbaar by Kraal Uitgewers.

Die gemeenskapsradiostasie GrootFM was ook daar. Die klankinsetsel is deur GROOTfm 90.5 vervaardig. Luister gerus na GROOTfm by 90.5fm. Die radiostasie bedien die groter Pretoria metropool.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

3 Kommentare

HEVW ·

Wat n grootse geleendheid. Wens ek kon saammaak. Solank Afrikaans n sielsaak is, en dit gerespekteer word as n besonderse geskenk van ons Skepper en beleef word as n erfenis van ons voorouers wat deur die moeilikste tye daarvoor moes veg. sal dit nie alleen handhaaf nie, maar steeds groei en ontwikkel. Afrikaans my taal is die mooiste lieflikste taal ter wereld.

Willie ·

Chris Chameleon praat die suiwerste Afrikaans en nog nooit het ek gehoor dat hy die taal meng nie. Luister ook na die woorde van sy liedjies en gaan maak ñ draai waar hy optree. Dit is die moeite werd.

Elizabeth ·

@Willie – stem 100% saam met jou. Sy pragtige suiwer taalgebruik is vir my altyd so mooi. Ek erken ek meng ook maar soms die Engels by maar ek probeer darem hard om reg te praat! En dan moet ek sê die eerste paragraaf in die berig gee my skoon hoendervel – mens KAN darem ‘n ding in Afrikaans sê soos in geen ander taal nie! Welgedaan Jan-Anton Theron! Of moet ek liefs sê: “welgesê Jan-Anton!”

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.