Die 18-jarige Dante Kade Liang het Maandag in die Alexandra-landdroshof verskyn in verband met ʼn moord wat Saterdag buite ʼn nagklub in Rivonia plaasgevind het.
Maroela Media het vroeër berig ʼn 17-jarige tiener, Hlompho Mbetse, ʼn leerder aan die King Edward VII School in Houghton, is buite die Madison Avenue-nagklub in Wesselweg met ʼn skerp voorwerp doodgesteek. Paramedici het omstreeks 22:45 op die toneel aangekom en Mbetse in die straat aangetref met ʼn steekwond aan sy bors. Hy het geen tekens van lewe getoon nie en is op die toneel dood verklaar.
Phindi Mjonondwane, woordvoerder van die nasionale vervolgingsgesag (NVG), sê Liang bly in aanhouding. Hy sal op 14 Februarie weer in die hof verskyn vir ʼn formele aansoek om borgtog.
Mbetse, ook bekend as CJ, was ʼn gr. 11-leerder aan die skool. Die skool het gesê hy het met groot hartseer kennis geneem van Mbetse se dood. “Die skool en gemeenskap betreur die sinlose verlies van ʼn lewe. Ons innige meegevoel, gebede en ondersteuning gaan aan die Mbetse-familie.”
Die Madison Avenue-nagklub het vroeër in ʼn verklaring gesê Mbetse was in ʼn geveg in die parkeerarea betrokke en dat van die nagklub se veiligheidspersoneel tussenbeide getree en die situasie ontlont het. Die nagklub het intussen dié verklaring van sy sosiale media verwyder ná gesprekke met Mbetse se ouers en familie. “Hulle is baie ontsteld oor kommentaar op sosiale media. Hy het ons gevra om eerder die verklaring te verwyder en ons het die versoek gerespekteer,” het die nagklub Maandag gesê.
O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.
3 Kommentare
Eish
Wat soek ‘n graad 11 leerling in die nagklub, het die persoon nie daarvoor gesoek nie, ‘n saak het twee kante, dit is net jammer dat hierdie persoon sy lewe verloor het.
Waarom kry hy nie borg nie?Die vrou wie die matriek dogter dood gery het het dan borg gekry… iis dit n geval van moord swart op swart en moord swart op wit?