18-jarige spog met honneursgraad in fisika

Die 18-jarige Hjalmar Rall het sy BSc-honneursgraad in fisika met ’n finale punt van 82% aan die Universiteit van Pretoria voltooi (Foto: University of Pretoria, Facebook)

Die 18-jarige Hjalmar Rall het sy BSc-honneursgraad in fisika met ’n finale punt van 82% aan die Universiteit van Pretoria voltooi. Dié jong genie is nog nie eens oud genoeg om wettig agter ’n stuurwiel in te klim nie, maar het vanjaar met sy meestersgraad in kwantuminligtingteorie, ’n nuwe navorsingsgebied in kwantumfisika, aan die Universiteit Stellenbosch (US) begin. Hy beoog om dié kwalifikasie in minder as twee jaar ook agter sy naam te hê.

Volgens Hjalmar se pa, Heinrich Rall, weet sy medestudente nog nie hoe oud Hjalmar is nie en wag hulle om te kyk hoe lank dit die studente gaan vat om te besef hy is heelwat jonger as die gemiddelde meesterstudent.

Hjalmar het in 2017 as 14-jarige sy BSc-fisikagraad aan die Universiteit van Pretoria begin. Hy het einde 2019 dié graad met lof behaal en was een van slegs 5% van sy klas van 130 studente wat dié graad baasgeraak het.

Maroela Media het vroeër berig Hjalmar het skool binne die bestek van drie jaar voltooi en het reeds op 12-jarige ouderdom sy matriek met lof geslaag. Hy het die jaar daarna sy Cambridge-eksamens op A-vlak geslaag. Dié eksamens is gelykstaande aan ’n 13de skooljaar wat internasionaal erken word.

Volgens Heinrich was sy seun van jongs af begaafd en het reeds in graad 5 besef hy is nie gelukkig op skool nie. Hy vertel dat Hjalmar met die skool se werkpas gefrustreerd geraak het. Hy het daar en dan besluit om Hjalmar tuis te onderrig.

Volgens Hjalmar het tuisonderrig vir hom die nodige akademiese agtergrond gebied om sy studie op tersiêre vlak relatief maklik te kon voltooi.

Hjalmar sê hy bestee ongeveer tien uur van sy dag aan sy studie. In sy vrye tyd luister hy graag musiek en bou sy kennis deur te lees. Hy kuier ook graag met sy medestudente.

“My studie is eintlik ook my stokperdjie. Dis vir my ’n plesier om heeldag na syfertjies te staar,” vertel Hjalmar aan Maroela Media.

Hy beskryf homself as ’n tipiese wiskunde-en-fisika-student: Rustig en gedurig by die koffiekan.

“Ons het ook ’n lekker sin vir humor. En as jy ons wel by ’n partytjie raakloop, sal ons tien teen een oor wiskunde of fisika gesels.”

Hjalmar sê hy vind die kwantuminligtingteorie vreeslik interessant. Hy beskryf dit as die “absolute perfekte veld wat bestaan uit mooi fisika en wiskunde”. Hy sê hy is ook opgewonde oor watter kennis navorsers nog in hierdie nuwe veld van fisika gaan ontgin.

Hjalmar beoog om ook sy doktorsgraad aan te pak en as navorser baanbrekerswerk in sy rigting te doen. Sy groot droom is om ook ’n dosent by een van die groot universiteite in Duitsland of Amerika te wees.

Hjalmar vertel hy het nog altyd in fisika belanggestel en het daarom besluit om in dié rigting verder te studeer. Hy het van ’n jong ouderdom af ’n drang na kennis en ’n behoefte om alles te verstaan. “Fisika bied die geleentheid om dinge beter te verstaan, vrae te vra en kennis te bekom, hoewel ’n mens nie altyd die antwoorde daarop kry nie.

“Aanvanklik het my belangstelling met ’n nuuskierigheid in fisika begin, en nou gaan dit vir my oor die estetiese agter die veld daarvan.”

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

12 Kommentare

DIABLO ·

Sjoe, jong man! Baie geluk. Net die beste vir jou vorentoe. Jy maak ons trots!

annie ·

Wow! Sien ons jeug het dit om bo uit te kom. Nasa lees ook Maroela. Oppas! Bind hom vas!

Misky ·

SA se eie Sheldon Cooper (Big Bang Theory)!!!! Puik jong man

Jakes ·

Wat n genie. Baie geluk seun en mag jy die hoogste sport bereik. SA kan trots op jou wees.

VaalDonkie ·

Tuis onderrig is maar net beter. Want die kind kan self besluit watter pas is reg vir hom.

Alma ·

Fantasties! Maar ongelukkig vir Suid-Afrika sal hy nie hier erken word nie, so hy sal ook sy heenkome iewers anders gaan soek, soos hy ook in die artikel noem, in Amerika of Duitsland. Well done, seun, gaan groot!

Di ·

Baie geluk, hy gaan nog ver kom in die lewe – beslis nie in SA nie, dis verseker. Beste opsie sal wees om oorsee te gaan werk – beter toekoms en minder probleme.

Gert K ·

Wel, met jou werksetiek sal jou drome waar word. Jy is beslis ‘n aanwins vir die wetenskap en maak nie saak of dit Duitsland of Amerika is waar jy gaan werk nie, jy bly ‘n Suid Afrikaner en ons gaan trots wees op jou!

Snowball ·

Lekker om te sien hoe ‘n jong man presteer! Mag jy van krag tot krag gaan en die hoogste hoogtes eendag in jou loopbaan bereik.

Dirk Mostert ·

Alhoewel my klasmaats Chemie as die moeilikste vak beskou het, het Fisika my die hardste bene laat kou. Ek het nie geweet jy kan nog jou skoolloopbaan versnel soos in die ou dae nie, of anders moes hy bitter jonk begin het daarmee.

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.