18-jarige ‘wil steeds boer’, al het dit haar arm geëis

Sané Wilken (Foto: Verskaf)

Sané Wilken wou van ʼn jong ouderdom af reeds boer. Dié droom was so ampertjies aan skerwe toe ʼn fratsongeluk – op ʼn plaas – ʼn maand gelede haar regterarm geëis het.

Dié jong boervrou het verlede jaar aan die Hoër Landbouskool Jacobsdal in die Vrystaat gematrikuleer en kort daarna op haar verloofde se familieplaas in die Boshoff-distrik begin werk. Op 25 Januarie het haar lewe onherroeplik verander toe haar arm in ʼn kunsmismenger beland het.

“Alles het in ʼn kwessie van sekondes gebeur. Ek was besig om ʼn sak kunsmis by ʼn gemotoriseerde watertenk in te gooi toe die sak aan ʼn bout in die motor vashaak. My duim was in die sak verstrengel en ek kon dit nie uitkry nie.

“Ek het gevoel hoe my duim in die motor gaan en morsaf breek. Toe my gewrig en daarna my arm, maar dit het regtig vinnig gebeur.”

Sy vertel dat een van die werkers dadelik gehardloop het om die gemotoriseerde watertenk af te skakel, “maar dit was reeds te laat”.

(Foto: Verskaf)

Wilken se verloofde, MC Boshoff – wat ten tyde van die voorval nog haar kêrel was – het ook dadelik na die naaste huis gehardloop om hulp te ontbied.

“Hy het alles aanskou en toe hy die eerste bloedspatseltjie sien, het hy dadelik na die huis toe gehardloop om hulp te kry. Niemand woon in die ou plaashuis nie, maar dit is die enigste plek waar daar ʼn sein [vir selfoonopvangs] was.”

MC het dadelik sy ouma gebel en haar van die voorval ingelig.

“Ek het stadig orent gekom en versigtig van die watertenk afgeklim. Dit sou nou éérs ʼn storie wees as ek van daar bo af nog moes val ook,” skerts sy.

Wilken sê sy het geweet sy moet die wond probeer skoonmaak, aangesien sy met ureum gewerk het. Sy het dit met haar linkerhand probeer afvee. Ureum is baie sleg vir ʼn oop wond, dit kan bloedselletjies doodbrand en infeksies veroorsaak.

Nadat Boshoff hulp ontbied het, het die twee hospitaal toe gejaag.

Wilken sê sy het dadelik besef dat sy haar arm verloor het, maar het regdeur die voorval ongelooflik rustig gevoel. Hoewel haar voorarm uit die tenk gehaal en op ys na die hospitaal vervoer is, kon die dokter nie haar arm red nie en moes dit onder die elmboog afgesit word.

“Ek het nie juis berou oor wat gebeur het nie, en daar is niemand wat ek daarvoor kan blameer nie; dit was ʼn fratsongeluk en al wat ek nou kan doen, is om vorentoe te kyk.”

Sy vertel egter dat sy nou met baie alledaagse takies sukkel, veral omdat sy regshandig was. “Ek sukkel om my hare vas te maak, te eet of selfs my tande te borsel. Dit is baie vreemd om nou alles met my linkerhand te moet doen.”

Sy is egter vasberade om steeds te boer en sterk tans op die Boshoffs se plaas aan. Sy hoop egter om mettertyd ʼn bioniese arm aan te skaf, wat dit vir haar moontlik sal maak om haar droom ten volle na te streef. Só ʼn arm sal egter honderdduisende rande kos.

‘Plaaslewe ʼn kleintyd-droom’

Hoewel sy nie self op ʼn plaas grootgeword het nie, het Wilken reeds op sesjarige ouderdom geweet dat sy wil boer.

Corlia Wilken, Sané se ma, vertel dat haar oudste nog altyd ʼn absolute passie vir boerdery en diere het.

“Haar lewenslange droom was om op ʼn plaas te werk en in die buitelug te wees. Sy is op haar gelukkigste wanneer sy in die veld tussen diere kan wees.”

Sy sê Sané het die werk op die Boshoffs se plaas terdeë geniet. Sy en MC is op 11 Februarie verloof, kort nadat sy uit die hospitaal ontslaan is.

Corlia sê toe hulle by Sané in die hospitaal kom, het haar dogter opgemerk: “Dit is net ʼn arm, ek leef nog om met julle te kan praat en dit sal my nie onderkry nie …”

“Hierdie verwoestende ongeluk is genoeg om enigiemand onder te kry, tog het Sané ʼn inspirerende positiewe gesindheid en ʼn sterk wil om die uitdaging te oorkom,” sê Corlia.

As ouers is hulle ongelooflik trots op hul dogter se veerkragtigheid en haar moedige uitkyk op die situasie en die lewe in geheel.

“Ons weet egter dat sy ʼn bioniese arm nodig het om haar te help om onafhanklik te wees en  te kan doen waarvoor sy lief is.”

Corlia het daarom ʼn skarefinansieringsveldtog op BackaBuddy van stapel gestuur in die hoop om genoeg geld in te samel om vir haar dogter ʼn bioniese arm aan te skaf. ʼn Bioniese arm werk deur seine wat die brein na die gebruiker se spiere stuur.

Die veldtog mik om R400 000 in te samel en R90 000 is reeds geskenk.

“Ons wil hê sy moet selfversekerd voel, soos enige ander pragtige jong vrou.”

Sané Wilken en haar verloofde, MC Boshoff (Foto: Verskaf)

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

2 Kommentare

Danie ·

Watter ongelooflike dapper meisie.
Baie sterkte en voorspoed aan julle albei vir n wonderlike toekoms saam.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.