18 Matie-studente aan boord SA Agulhas II

Die vier ingenieurstudente van die Universiteit Stellenbosch wat navorsing oor die SA Agulhas II sal doen, is Armand van Zuydam, Jesslyn Bossau, Nicole Taylor en Martinique Engelbrecht (Foto: US)

Die Universiteit Stellenbosch (US) spog met ʼn span van 18 nagraadse studente wat Donderdag aan boord van Suid-Afrika se poolnavorsingskip, die SA Agulhas II, die ysige en stormagtige Suidelike Oseaan sal trotseer.

Die span bestaan uit 14 nagraadse studente in aardwetenskappe en vier nagraadse ingenieurstudente wat deel gaan wees van hierdie drie week lange wintersreis.

Die nagraadse studente sluit in twee nadoktorale genote, dr. Jan-Lukas Menzel en dr. Saumik Samanata, ses PhD-studente, Jean Loock, Ryan Cloete, Ismael Kangueehi, Johan Viljoen, Margaret Ogundare en Asmita Singh, asook vyf MSc-studente, Tara de Jongh, Raya Stavreva, Zandria Jordaan en Herman Boock.

Tesame met dié entoesiastiese studente gaan twee internasionale studente van Duitsland en Spanje ook aan boord gaan.

Volgens dr. Susanne Fietz, ʼn omgewingsgeochemikus in die US Departement Aardwetenskappe, gaan hierdie studente met behulp van ses mobiele laboratoriums daarop fokus om die verband tussen die geochemiese eienskappe van die oseaan en mikro-organismes soos fitoplankton en bakterieë vas te stel.

“Die inligting wat ons insamel, sal ons help om natuurlike en mensgemaakte invloede op die mariene omgewing beter te kan verstaan,” sê Fietz.

Die vier nagraadse ingenieurstudente wat ook aan boord gaan wees, is al sedert die ingebruikneming van die SA Agulhas II in 2012 betrokke by navorsing oor dié navorsingskip.

Volgens prof. Annie Bekker, direkteur van die Klank-en-Vibrasie-navorsingsgroep van die US Departement Meganiese en Megatroniese Ingenieurswese, gaan Armand van Zuydam, Nicole Taylor, Martinique Engelbrecht en Jesslyn Bossau probeer vasstel hoe die staalstruktuur van die SA Agulhas II-skip reageer as dit deur golwe geslaan word terwyl dit deur die yswater vaar.

“Hulle meet die vibrasies wat opgewek word onder sulke ekstreme toestande, en hoe mense daarop reageer. Hulle kyk ook hoe die ys en water waardeur die skip suidwaarts beur moontlik die vaartuig se skagte en skroewe kan verwring,” sê Bekker.

Sowat 200 verskillende metings sal gedurende dié reis met spesiaal ontwerpte sensors en rekenaarprogramme geneem word om sodoende intyd-data te versamel.

“ʼn Unieke aspek van hierdie instrumentasie is ʼn 30-sensor-versnellingstelsel wat by die Universiteit Stellenbosch self ontwikkel is. Daarmee kan navorsers die verplasing en vervorming van die skip se struktuur naspeur soos wat dit deur moeilik begaanbare waters vaar,” verduidelik Bekker.

Dié vier studente is baie opgewonde oor die avontuur wat voorlê.

Een van dié studente, Nicole Taylor van Stellenbosch, is veral sentimenteel oor die hele navorsingservaring omdat haar oupa, Constant McLachlan, ʼn gereelde passasier aan boord van die SA Agulhas I was met sy instandhoudings- en konstruksiewerk op Suid-Afrikaanse navorsingseilande en Antarktika.

“My oupa het op die SA Agulhas I gereis. Dit is vir my ʼn voorreg om nou een van die volgende geslagte op die volgende generasie van die SA Agulhas te wees,” sê Taylor.

Sy sal met opnames help om vas te stel hoe bemanningslede en passasiers die voortdurende beweging en vibrasies van die skip ervaar onder verskillende weer- en golftoestande. Sy sal ook vibrasiemetings uitvoer en waarneem hoe die vaartuig deur ys en golwe beweeg.

“Hierdie reis sal ons help om beter te verstaan hoe passasiers dit ervaar om op ʼn skip te woon en te werk,” verduidelik sy.

Die SA Agulhas II word bestuur deur die Suid-Afrikaanse Departement van Omgewingsake. Dié skip is bekend vir sy gebruik vir navorsingsdoeleindes en om voorraad na Gougheiland, Marioneiland en die Suid-Afrikaanse basis in Antarktika te neem.

Die SA Agulhas II is tans die enigste poolnavorsingskip ter wêreld wat in soveel detail gemonitor word.

“Die SA Agulhas II is ʼn baie strategiese, wêreldformaat-navorsingsplatform. Dit speel ʼn belangrike rol in ʼn wêreld waar klimaatsverandering ʼn werklikheid word, en waar voorspellings oor omgewingsveranderinge grootliks afhang van inligting wat ons oor die see insamel,” meen Bekker.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.