Altesaam 18 munisipaliteite in die Noord-Kaap skuld Eskom meer as R2,8 miljard.
“Die finansiële volhoubaarheid van Eskom in die Noord-Kaap word belemmer deur stygende munisipale skuld,” het Patricia Tsepane, ʼn Eskom-woordvoerder, gesê.
“Betalingspatrone deur die meerderheid van die provinsie se munisipaliteite was oor die afgelope vyf jaar onreëlmatig en het negatief bygedra tot die agterstallige skuld wat tans op R2,8 miljard staan.”
Tsepane het daarop gewys dat die munisipaliteite jaarliks billike toedeling van die regering ontvang sowel as betaling vir dienste van hul kliënte, en dat die verwagting is dat hulle Eskom in ruil daarvoor moet betaal vir die elektrisiteit wat verskaf word.
“Eskom het hierdie munisipaliteite breedvoerig betrek oor die onreëlmatige betalings en wat die impak van wanbetaling inhou. Ten spyte van hierdie pogings versuim die munisipaliteite om hul verantwoordelikhede in terme van hul elektrisiteitslisensievereistes na te kom en gaan hulle voort met niebetaling van hul lopende rekeninge.”
Volgens Tsepane is slegs twee van die 18 munisipaliteite tans in gesprekke met Eskom om aanvaarbare betalingsooreenkomste aan te gaan.
“Munisipaliteite het ʼn grondwetlike plig om vir grootmaatvoorsiening te betaal, en dit sal verseker dat Eskom kan voortgaan om op ʼn volhoubare wyse te funksioneer deur gemeenskappe van ononderbroke toevoer van elektrisiteit te voorsien. Eskom bedank graag plaaslike munisipaliteite wat die betaling van hul rekeninge prioritiseer.”
Die lys van Noord-Kaap-munisipaliteite wat tot en met einde Maart groot agterstallige Eskom-skuld gehad het:
Munisipaliteit: | Agterstallige skuld: |
Kai !Garib | R491 274 713 |
Sol Plaatje | R470 624 010 |
Gamagara | R325 301 789 |
Tsantsabane | R191 861 409 |
Phokwane | R178 456 672 |
Nama Khoi | R169 657 348 |
Siyancuma | R169 400 327 |
Dikgatlong | R161 062 485 |
Siyathemba | R115 146 901 |
Thembelihle | R106 240 240 |
Emthanjeni | R105 841 866 |
Renosterberg | R99 539 266 |
Magareng | R79 591 373 |
Ubuntu | R77 482 569 |
Kamiesberg | R46 487 103 |
Richtersveld | R39 764 159 |
Dawid Kruiper | R34 012 893 |
Khai Ma | R30 136 252 |
Totaal: | R2 891 881 378 |
O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.
13 Kommentare
As ek vir n maand lank nie my R1000 betaal nie dan word ek afgesny — Hoe laat hulle dit toe man?????????
Al die munisipaliteite skuld miljarde, en die groitste skuld word veroorsaak deur die informele nedersettings wat dink hul moet alles gratis kry.
As ek na die lys kyk, lyk dit soos al die munisipaliteite behalwe Orania.
Ek kan nie verstaan hoekom hulle Evkom moet betaal nie, die krag kom mos uit die draad uit. Net soos wat daar baie geld is, die geld kom mos uit die ATM uit.
Wil hulle vertel dat die verbruikers nie hul rekeninge betaal het nie ? Die geld is in hul sakke geprop en hulle kom niks oor nie ! Verkoop elke ding insluitend die onroerende eiendom en sluit hul kantore . Punt