18 putjies in onder 12 minute? Sowaar!

Lede van die Zwartkop-gholfklub het daarin geslaag om ʼn Guinness-wêreldrekord op die gholfbaan te laat spat. (Foto: Verskaf)

Lede van die Zwartkop-gholfklub in Centurion het Sondag daarin geslaag om ʼn Guinness-wêreldrekord op die gholfbaan te laat spat.

Sowat 150 lede was in 18 spanne oor dié gholfbaan versprei en het die 18 putjies in net 11 minute en 55 sekondes voltooi.

Die professionele gholfspeler Dale Hayes (70), ook die eienaar van die Zwartkop-buiteklub, het die bal op die laaste putjie ingeslaan.

Die groep – wat die hele oefening vier keer herhaal het – het die vorige rekord van 12 minute en 40 sekondes boonop drie keer verbeter.

Dale Michler, lid van die Zwartkop-gholfklub en een van die organiseerders van die geleentheid, sê die groep het drie uit die vier rondes in onderskeidelik 11 minute en 58 sekondes, 12 minute en vyf sekondes, en dan die wentyd van 11 minute en 55 sekondes voltooi. Daar is altesaam 89 houe tydens dié ronde gespeel.

Hy skerts en sê dat diegene wat ure op die gholfbaan boer en daarna sosiaal verkeer dalk nou in die moeilikheid by hul eggenote gaan wees aangesien dit inderdaad moontlik is om 18 putjies in minder as 12 minute te speel.

Mans en vroue – van wie sommiges in hul 70’s – asook kinders van so jonk as tien jaar oud het Sondag saamgespan om dié rekord op te stel. Die enigste vereiste was dat spelers ʼn lid van die klub moes wees.

Deelnemers aan die wêreldrekordpoging wag vir die bal om by hulle uit te kom. (Foto: Verskaf)

Guinness het ook bepaalde reëls waaraan daar voldoen moet word wanneer ʼn nuwe wêreldrekord gepoog word. In dié geval het alle gholfreëls gegeld.

Die klub het dus ook eksterne persone gehad wat onder meer tyd en telling gehou het, seker gemaak het dat almal met die regte balle en stokke speel en dat daar te alle tye aan die reëls en vereistes voldoen word.

Michler verduidelik dat die tyd by die eerste afslaanhou op putjie een begin het, en gestop het toe die laaste bal op die 18de putjie gesink is. Elke putjie moes ook eers voltooi word voordat die tweede groep spelers op die volgende putjie kon voortgaan. Spelers mag ook nie gholfkarretjies gebruik het nie.

Die geleentheid is ook deur verskeie mense op video vasgelê, wat vandeesweek saam met die nodige logboeke by Guinness ingedien sal word. Dit sal dan sowat twee weke neem vir Guinness om die nuwe wêreldrekord amptelik op hul rekordlys aan te teken.

Michler sê Sondag was ʼn groot fees vir almal wat deelgeneem het, asook hul gesinne.

Hy glo die span kan dit boonop nóg vinniger doen en sê dat die klub dalk volgende jaar weer ʼn nuwe rekord sal aandurf.

In Oktober verlede jaar was die gholfspeler Wilco Nienaber deel van ʼn viertal spelers wat ook ʼn Guinness-rekord opgestel toe hulle saamgespan het om ʼn putjie in onder 30 sekondes klaar te speel. Die neem beroepspelers in die algemeen gemiddeld 15 minute om ʼn putjie in ʼn toernooi te voltooi.

 

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

5 Kommentare

Deonne ·

HA! HA! HA! Ek weet nie hoe Dale daai korte gemis het nie.

George ·

Pressure van haastig wees ;) Dale Drie Putt van nou af – kidding!

Snuffelgids ·

Dit vat 12 minute om my bal te soek na die eerste dryf

Elmarie ·

Dit was ‘n dag vol pret. My manne was deel van hierdie poging.

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.