19 aangekeer vir verskillende plaasvoorvalle

Argieffoto (Foto: Maroela Media)

Die polisie in die Vrystaat het groot vordering gemaak in die stryd teen misdaad wat in Mei op plase en kleinhoewes gepleeg is. Altesaam 19 persone is in verband met ses voorvalle in hegtenis geneem.

“Die 19 mense is in hegtenis geneem en hulle is ook sedertdien steeds agter tralies nadat hul borgtog suksesvol teengestaan is in die hof,” sê kapt. Loraine Earle, woordvoerder van die polisie.

In die eerste voorval is Lance Arthur da Silva (62) op 4 Mei 2023 omstreeks 14:30 dood aangetref in die hoofslaapkamer van die huis op ʼn plaas in die Rouxville-distrik. Hy is in die kop geskiet. Die 38-jarige Armand Opperman, wat na bewering saam met die oorledene op die plaas gebly het, was voortvlugtig en is die volgende dag in Gqeberha aangekeer. Hy het op 29 Mei sy aansoek om borgtog in die Rouxville-landdroshof laat vaar. Hy bly in aanhouding. Die saak is tot 3 Julie uitgestel vir verdere ondersoek.

In nog ʼn voorval het twee verdagtes op 30 April 2023 omstreeks 18:45 ʼn huis op ʼn plaas in die Kroonstad-distrik betree. Hulle het op twee paartjies in die huis afgekom en ʼn vuurwapen op hulle gerig. Die verdagtes het drie selfone, horlosies en ʼn onbekende bedrag kontant gebuit. Hulle het die vier slagoffers in die huis toegesluit en weggehardloop.

Op pad weg van die toneel, omstreeks 20:00, het hulle op nog ʼn paartjie afgekom wat van Kroonstad geloop het op pad na die plaas. Hulle het die paartjie voorgekeer en geld geëis. Hulle het daarna ʼn 41-jarige man geskiet. Hulle het hom deursoek en sy selfoon gebuit terwyl sy vrou weggehardloop het.

Die twee verdagtes het verder geloop tot waar iemand vir hulle in ʼn wegkomvoertuig sit en wag het.

Tussen 5 en 8 Mei 2023 is drie persone in hegtenis geneem vir hul vermeende betrokkenheid in dié huisroof en moord. Sera Letuka (22), Sandie Kheliwe (36) en Lesole Poulo (37) het aansoek gedoen om borgtog in die Kroonstad-landdroshof. Die aansoek is van die hand gewys en hulle bly in aanhouding. Hulle sal binnekort weer in die hof verskyn.

In ʼn derde voorval is Dami Stemmett (54), sy vrou en haar vriendin oorval toe hulle op 17 Mei 2023 omstreeks 20:30 by die plaas in die Senekal-omgewing teruggekeer het. Hulle is beroof van drie vuurwapens, juweliersware, selfone en kontant.

Fokotho Tlaitlai (37) is kort daarna in hegtenis geneem. Hy het ʼn groot bedrag kontant by hom gehad.

Die wegkomvoertuig het langs die pad, naby aan die plaas, gestaan en wag. Nthabiseng Mokwena (33) was die bestuurder en sy is ook in hegtenis geneem.

ʼn Aanvalsgeweer en die sleutels van ʼn voertuig van een van die slagoffers is buite die plaaswerf gevind. Die soektog het die volgende dag voortgeduur en die polisie het op nog meer van die gesteelde eiendom afgekom. Hulle het twee 9 mm-pistole, twee windbukse, ʼn gaspistool, kos, klere, ʼn selfoon en juweliersware teruggekry.

Tlaitlai en Mokwena het hul aansoek om borgtog laat vaar. Hulle moet op 30 Junie weer in die hof verskyn.

Op 31 Mei 2023 het die polisie inligting ontvang oor nog verdagtes wat met die voorval in Senekal verbind kan word. Die polisie het vier persone in Hani Park, Bronville, aangekeer. Beamptes het beslag gelê op ʼn kamerasak en ʼn geheuekaart wat in hul besitting was en positief deur die boer uitgeken is.

Een van die verdagtes het ook ʼn 9mm-pistool in sy besit gehad waarvan die reeksnommer afgevyl is.

Khabele Nyane (39), Katiso Mahamo (27) en Pusetso Monyamane (31) het op 2 Junie in die Senekal-landdroshof verskyn. Die saak is tot 9 Junie uitgestel vir borgtog-inligting. Makalo Mabote (39) het in die Welkom-landdroshof verskyn op aanklag van die onwettige besit van ʼn vuurwapen en ammunisie. Sy saak is ook tot 9 Junie uitgestel.

André van Biljon (Foto: Facebook / Martin van Biljon)

In ʼn vierde voorval is die polisie op 27 Mei 2023 omstreeks 00:30 na ʼn kleinhoewe by Oranjeville ontbied waar die Van Biljoen-gesin woon. Ses gewapende mans het die huis betree en toe André van Biljoen (70) probeer het om ander boere op die radio te ontbied, is verskeie skote gevuur.

André het verskeie skietwonde in sy bors en hand opgedoen. Sy seun, Lukas van Biljon (47) is ook aangeval en die aanvallers het hom verskeie kere met ʼn mes gesteek. Die kinders is met kabelbinders vasgebind.

Die verdagtes het met ʼn Range Rover weggejaag. Dié voertuig is later in Strydomstraat in Oranjeville gevind.

Die verdagtes het daarna met ʼn Toyota Camry weggejaag toe hulle die blou ligte van die polisie opgemerk het.

Polisiebeamptes en boere het alle paaie versper en hy ʼn padblokkade in Viljoensdrift is die motor voorgekeer. Khanye Muthi (32) en Latin Mofokeng (42) is in hegtenis geneem.

André het op 30 Mei 2023 in die hospitaal aan sy beserings beswyk. Die aanklag van poging tot moord is na moord verander.

Die verdagtes het weer op 5 Junie 2023 in die hof verskyn waar alle aanklagte teruggetrek is, aangesien hulle nie met die voorval verbind kon word nie.

In nog ʼn voorval op 27 Mei 2023 omstreeks 08:00 is ʼn skaapherder, Hlompo Patrick Phale (33), vermoor en verdagtes het ongeveer 98 skape gesteel. Die Zamdela-polisie het ʼn saak van moord en veediefstal geopen en ondersoeke van stapel gestuur. Die provinsiale eenheid teen georganiseerde misdaad het die ondersoek oorgeneem en binne minder as 48 uur, deur intelligensiegedrewe inligting, is drie verdagtes tussen die ouderdom van 33 en 41 in Randfontein, Gauteng, in hegtenis geneem. Beamptes het 18 van die gesteelde skape teruggevind. Die verdagtes sal op 8 Junie 2023 in die Sasolburg-landdroshof verskyn. Nog drie verdagtes is in Sasolburg aangekeer en sal binnekort in die hof verskyn.

Mark Regal (Foto: Facebook)

In ʼn verdere deurbraak is ʼn verdagte deur DNS-bewyse verbind met ʼn voorval, twee jaar nadat ʼn boer, Mark Regal (50), doodgeskiet is. Regal is op 11 November 2020 op sy pa se plaas in Odendaalsrus vermoor. Een van die aanvallers is tydens die plaasaanval doodgeskiet.

Khulekani Kaizer Mthethwa (45) is opgespoor en daar is bevind dat hy steeds verhoorafwagtend is vir ʼn sakerooftog wat in Odendaalsrus gepleeg is. Hy is sedert 2021 in aanhouding vir hierdie sakerooftog. Mthethwa het op 2 Junie 2023 in die hof verskyn vir ‘n formele borgtogaansoek. Hy het die aansoek laat vaar en die saak is uitgestel tot 29 Junie 2023 vir verdere ondersoek.

Genl.maj. Len Singh, waarnemende provinsiale polisiekommissaris, het die lede van die SAPD en die boeregemeenskap geloof wat hand aan hand gewerk het om hierdie verdagtes vas te trek. “Lede het onverpoosd gewerk om hierdie verdagtes in hegtenis te neem en agter die skerms hard gewerk om alles in hul vermoë te doen om die oortreders agter tralies te hou. Hierdie suksesse is ʼn teken van hoe oortreders deur vennootskappolisiëring voor stok gebring kan word.”

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

7 Kommentare

Pannies ·

Baie geluk en dankie aan almal wat saam gewerk het om die moordenaars aan te keer.

Leon ·

Hierdie is net omdat daar n verkiesing oppad is hulle is na n week op straat

Danie ·

Die SAPD het die vermoe om met syfer te kook dat dit goed lyk.Die vraag is egter waarom is daar geen misdaadvoorkoming beplanning en operasies in landelike gebiede nie.Vir ongeveer 5 jaar sien ons geen polisie voertuie in landelike gebiede die klagtes word ook nie bygewoon nie.Indien daar n saak by die polisie shop aangemeld word word dit binne 24 uur afgesluit.Is dit deel van die cancer se aksie plan??

Amelia ·

ek ook weet waar kom die aanvallers aan al die wapens Hul nou wel aangekeer maar vir hoe lank gaan hul tronk toe voor hul weer uit kom het sy goeie gedrag of wat ook al

Harley Davidson ·

Hierdie is wonderlike nuus in ‘n werkende land maar elke 10 wat gevang word word 5 aangekla waarvan miskien 1 skuldig bevind word en ‘n onvanpaste en belaglike vonnis opgele word.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.