19-jarige eindelik tuis ná maande lange Covid-stryd

Louis Opperman en sy sussie, Danica. (Foto: Verskaf)

Die 19-jarige Louis Opperman is vandeesweek uit die Midstream Mediclinic in Centurion ontslaan waar hy vir 80 dae ʼn stryd teen Covid-19 en -verwante komplikasies gevoer het.

Louis het twee maande hiervan in die hoësorgeenheid deurgebring en moes twee weke lank rehabilitasie by Care@Midstream ondergaan voordat hy na sy ouerhuis in Polokwane kon terugkeer.

Maroela Media het vroeër berig dat Louis, ʼn kranige gholfspeler, op 26 Julie in die Mediclinic-hospitaal in Polokwane opgeneem is nadat Covid-19 by hom gediagnoseer is. Hy het kort daarna ook ernstige longontsteking ontwikkel en is enkele dae later in ʼn kritieke toestand per helikopter na Midstream oorgeplaas.

Louis Opperman saam met twee van die dokters wat hom behandel het, dr. Emmanuel Thaban (links) en dr. Dineo Maphanga (regs). (Foto: Verskaf)

Benewens longontsteking het hy ook salmonellavergiftiging, septisemie en breinvliesontsteking opgedoen, waarvoor hy gelyktydig behandel is. Dit is nie duidelik waar hy die salmonellavergiftiging opgedoen het nie.

Louis was geruime tyd onder verdowing en aan ʼn ventilator gekoppel. Hy moes ook dae lank op sy maag lê.

Volgens sy pa, Willie, was sy seun se infeksietelling in ʼn stadium 490, terwyl dit onder vyf moet wees.

Willie sê sy seun het intussen 32 kg verloor en moes onder meer weer leer loop en eet.

Louis kon ook nie sy arms optel nie.

“Hy is maar nog baie swak en sukkel om te loop, maar dit gaan al baie beter met hom. Hy sal ook minstens nog ʼn maand lank op suurstof moet bly.”

Willie sê dis moeilik om te skat wanneer Louis weer ten volle op die been sal wees en dat hy nog vir verskeie opvolgbesoeke na onder meer hart- en longspesialiste sal moet gaan.

Hy loop egter nou met behulp van krukke en ʼn loopraam.

Louis Opperman saam met sy ouers, Willie en Magde-Louise. (Foto: Verskaf)

Volgens Willie was Louis lank depressief weens sy toestand, maar gaan dit nou baie goed met sy gemoed.

 

“Hy is baie positief en opgewonde om weer saam met sy gesin by die huis te wees.

“Ek kan nie beskryf hoe dit voel om hom weer by die huis te hê nie. Ek dink ons gesin was omtrent tien keer hel toe en terug. Ek wens dit nie my grootste vyand toe nie,” sê Willie.

“Dit het ʼn erge emosionele impak op ons gesin gehad, maar met genade en gebed het ons hier deurgekom. Ons het ook ʼn baie goeie ondersteuningsraamwerk tussen vriende en familie, en ook mense wat ons glad nie eers ken nie.”

Louis Opperman saam met een van sy vriende, Jeandre Britz, kort nadat hy ontslaan is. (Foto: Verskaf)

Die gesin het ook die dokters, Emmanuel Thaban, ʼn longspesialis, en Niel Struwig, kardiotoraks-chirurg, geloof vir die wyse waarop hulle Louis behandel het, asook die personeel van die hospitaal.

“Hulle hulp en professionaliteit het alles net makliker gemaak.

“Ons is ook dankbaar vir elke liewe persoon wat vir ons kind gebid het.”

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

26 Kommentare

annie ·

Beterskap! Wys net hoe erg die virus mense kan aantas. Louis is gelukkig om sulke ondersteuning te hê.

Zombie ·

Dit is vir my totaal en al onverstaanbaar dat mense af-duime kan gee omdat ń persoon gesond geword het. Kan mens so harteloos en gewetenloos wees. Dit maak tog nie saak wat se naam vir die siektetoestand gegee word nie. ń Persoon was siek en nou is hy beter en ons moet dankbaar daarvoor wees.

piet ·

Ek dink nie hulle gee afduime omdat hy gesond geword het nie. Hier is ‘n spesiale groepie wat dit oor die maande duidelik gestel het dat Covid nie ernstig is nie maar niks meer is as ‘n verkouetjie wat sal oorwaai nie. So hulle gee afduimpies omdat iemand dit durf waag om te se hoe erg die virus is.

ONTPS ·

Dankbaar die jong man kan weer by sy familie wees. Alle voorspoed en sterkte vir die res van sy herstelpad

Shakespeare ·

Sovêr ek weet is Dr Immanuel Thaban ‘n briljante dokter en maak baie deurbrake met Covid. Hoop jy word gou blakend gesond.

Elisabeth ·

So bly om die opvolg berig gelees. Het baie keer gewonder of die Opperman herstel het. Sterkte vir julle toe gewens.+

Johan ·

Longontsteking, salmonellavergiftiging, septisemie en breinvliesontsteking is wilde siektes….bly hy is beter.

Christine ·

Ja siestog, baie jammer dat die jongman deur soveel hel moes gaan. Kan nie help om te wonder waar hy die siektes opgetel het nie, want elke siekte opsigself het sy kanse tot herstel aansienlik verminder. Wat ‘n wonderwerk.

piet ·

Mense neem julle inentings, ongeag jou ouderdom. Die rede hoekom die siekte sommige mense so ernstig aantas, bly ‘n raaisel maar mens kan eenvoudig nie die risiko loop nie. Nie as jou eie gesondheid en ander s’n jou ‘n prioriteit is nie.

Ansie ·

Voorwaar ‘n wonderwerk. Alle eer aan God. Baie dankbaar vir jou herstel, Louis. Sterkte en voorspoed vir die familie.

Rooikopheks ·

Ek stem saam Piet, ons kan net bid dat die mense wat so negatief is oor die inenting hierdie berig lees.

Lourens CFG ·

Deiré, ons lees dit wel, en ons wéét van die covid wat party mense feller vang as ander. Dit is die inspuiting waar ons probleem lê wat nié ‘n in-ent is nie.
Voor ek nou weer gevra word vir bewyse, gaan soek self, moenie lui wees en net wil kritiseer nie.
Om die bewyse te noem gaan ten minste 2 volle berigte geplaas moet word. Ek het gesoek, baie bewyse vir en teen gekry, en hulle skakel mekaar uit, so ek bly maar weg van die “jab”.

Thom ·

Jou ” bewyse ” teen die inenting sal via dieselfde bronne kom wat beweer dat ” 911 ” deur die VSA self ” gestage ” is __ geen betroubare mediese bronne nie want dié is verbind tot die waarheid .

Christine ·

Genade toggie dame, het jy gelees van die bakteriese infeksie van salmonellavergigtiging wat NIKS met Covid te doen het nie, die aansteeklike siekte breinvliesontsteking wat NIKS met covid te doen het nie en septesemia wat NIKS met covid te doen het nie, die jongman se lewe bedreig het. Hy moes die siektes 10 teen een in die hospitaal opgedoen het. Liewe hemel, hou op met jul kwaad saai en wees eerder dankbaar dat die jongman wonder bo wonder herstel het. He beat the odds.

Irene ·

Mag jy binne kort 100% gesond word. Moenie ongeduldig word nie. Dit neem maar n tydjie. Ek is bitter bly jy het covid oorleef. Vir die ouers wat gister so negatief was oor die inspuiting. Mag hierdie nie met julle kinders gebeur nie. Kyk ek weet elke liewe saak gaan daar n pro en anti groep mense wees. Al wat ek vir elkeen wil sê is: covid is real soos waterpokkies en enige ander aansteeklike siekte, dis kan nes kanker dodelik wees. Al wat ek vra is dat almal versigtig moet wees. En elke een wat nog nie covid gehad het nie…. mag julle wragtig gespaar bly. Want of jy met my saam stem of nie…. covid wens ek vir niemand toe nie…..

Thom ·

Indien die jongman ingeënt was , was sy kanse ongeveer 0 , 1 % om deur dieselfde hel te gegaan het ; elkeen wat die leuens rondom die entstof versprei is aandadig aan die dood van iemand __ word wakker en hou op met julle sabotasie .

Pietertjie ·

Hoe kan die bron van sy salmonella infeksie (en ander infeksies) onbekend wees? Hy was dan in die hospitaal daai tyd!

Rooikopheks ·

Die personeel is oorwerk, hulle kom nie by alles uit nie, en die mense wat nie ingeënt wil word nie beland in die hospitaal en dan moet die personeel hulself tot stilstand werk.

Mercia ·

Baie bly oor die jongman se herstel. Dit is duidelik dat hy ‘n baie uitsonderlike ding deurgegaan het. Longontsteking, selmonellavergiftiging, septisimia en breinvliesontsteking! Hy het dus herstel van baíe meer as net blote covid 19.
Wonderlike ondersteuning van sy gesin en baie Genade van Bo!

Dewald ·

Ons as ouers wil net dankie se aan elke persoon wat vir Louis in hul gebede opgedra het. Dit was n moeilike 3 maande en nog le voor. Maar met genade van bo en die ondersteuning van vriende en familie is die oorlog reeds gewen.

Esme ·

Welkom tuis!! Ek dank die Here dat Dr Thaban jou behandel het. Sy uitstekende naam het hom lankal vooruit gegaan. Mag jou hereniging met jou gesin jou versterk en die lang tyd in isolasie het my moed gebreek en ek was maar 25 dae van my geliefdes geskei.
Alle beterskap en Gods rykste seen!

Danie ·

Weereens n bewys van watter kieme en virusse n mens in n hospitaal optel.
Bly ver weg en doen enigiets om liewers by die huis aan te sterk.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.