19-jarige gestraf vir Vuwani-geweld

Skade aan voertuie wat tydens die betoging in 2017 aangerig is. Foto: SAPD

ʼn 19-jarige seun is tronkstraf opgelê nadat hy skuldig bevind is aan openbare geweld wat verlede jaar in Mei in Vuwani in Limpopo tydens ʼn besoek van voormalige president Jacob Zuma uitgebreek het.

Brig. Motlafela Mojapelo, provinsiale polisiewoordvoerder, het gesê Ridovhona Tshiwandalane is Maandag in die Vuwani-streekhof tot effektief nege jaar tronkstraf gevonnis sonder die opsie om ʼn boete te betaal. Hy is ook onbevoeg verklaar om ʼn vuurwapen te besit.

“Die beskuldigde is skuldig bevind op aanklag van opsetlike saakbeskadiging nadat verskeie voertuie wat aan die polisie, die SAUK en private mense behoort, sowel as mobiele ablusiegeriewe ná Zuma se besoek met stene gegooi en beskadig is,” het Mojapelo gesê.

Aluwani Maphiri (23), nog ʼn verdagte wat in verband met die voorval in hegtenis geneem is, se saak is tot 19 Maart uitgestel vir verhoor.

Die oorblywende drie verdagtes, Innocent Motabatshidi (22), Ntshangedzeni Mudau (31) en Ntungufhadzeni Makhitha (36,) sal op 20 Maart verhoor word.

Maroela Media het vroeër berig Zuma het tydens sy besoek in Mei verlede jaar inwoners van Vuwani gemaan om weer normaliteit in die omgewing te bewerkstellig. Hy het ook leerders en onderwysers gevra om terug te keer skool toe.

Inwoners van Vuwani het weke lank betoog en geëis dat die omgewing weer onder die Makhado-munisipaliteit val. Die inwoners het in 2016 vir meer as drie maande lank betoog omdat die regering besluit het om hul gebied by die Malamulele-munisipaliteit in te lyf. Ten minste 24 skole en talle voertuie is tydens dié gewelddadige betogings beskadig of verwoes.

Zuma het destyds met gemeenskapsleiers, kerkleiers en die jeug vergader. Geweld het toe opnuut uitgebreek nadat Zuma die gebied verlaat het sonder om die gemeenskapslede toe te spreek wat vir hom gewag het. Ontstelde inwoners het ses voertuie met klippe beskadig en die mobiele ablusiegeriewe by die Nandoni-sportgronde is omgekeer en beskadig.

Die vyf mans is kort na die voorvalle in verband met die geweld in hegtenis geneem.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

5 Kommentare

MALEMMER ·

NOU hoekom stop julle nie Malema in die tronk vir sy aanhitsing van OPENBARE GEWELD NIE? Word net sekere mense vervolg? Ek wil graag sien hoe AL Die EFF lede wat die universiteite so beskadig het ook dieselfde straf sal kry .. komaan . hoekom word dit so selektief toegepas?

Riouna Martin ·

Nou wat van Malema hy doen dit ook. Veral by kinders se skole.

Elizabeth Dempers ·

‘n 19jarige is nie ‘n SEUN nie, dit is ‘n jongman

Tammy ·

19 jarige is n volwassene met stemreg. Baie goeie straf. Hoop dit is 9 jaar effektief….

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.