19-jarige kry ‘top-toekenning’ drie jaar ná ernstige rugbybesering

Koben Hofmeyr (19) by sy matriekafskeid in September vanjaar. (Foto: Verskaf)

Om as “Triegie van die jaar” bekend te staan is vir Koben Hofmeyr (19), ʼn matrikulant aan Hoërskool Louis Trichardt in Limpopo, nie net ʼn “groot eer” nie, maar ʼn wonderwerk van die Here.

Dié gesogte toekenning word elke jaar volgens “streng kriteria” aan ʼn leerder wat op verskeie vlakke in dié skool uitblink, toegeken.

“Ek was baie verras. Daar is soveel ander leerders in die skool wat ongelooflik goed presteer.

“Die leerder wat “Triegie van die jaar” wen, word as die skool se beste ambassadeur beskou. Daar word na al jou prestasies gedurende jou skoolloopbaan gekyk,” sê Koben.

Die toekenning is op 14 Oktober aan Koben oorhandig – sowat drie jaar nadat ʼn ernstige nekbesering tydens ʼn rugbywedstryd hom verlam gelaat het.

Koben se jongste prestasie is selfs deur een van sy groot rugbyhelde, Victor Matfield, op Instagram gedeel.

Matfield was ook een van die eerste Springbokspelers wat Koben destyds ná sy ongeluk in die hospitaal besoek het.

Koben Hofmeyr by sy ma, Annelize, en pa, Trompie. Langs hom staan die Triegie van die Jaar-trofee. (Foto: Verskaf)

Dokters het aanvanklik gesê Koben sal waarskynlik nooit weer loop nie, maar hy het almal verkeerd bewys toe hy ʼn jaar gelede sy rolstoel vir krukke verruil het.

Sedertdien het dié jong man van krag tot krag gegaan.

Hy kan ook al kort entjies sonder sy krukke stap, maar sê dat hy steeds met sy balans sukkel en dikwels spasmas in sy bene kry.

Koben het selfs in April vanjaar saam met een van sy onderwysers, Johan van Dijkhorst, aan die MyWayLife 113 Brick Challenge, ʼn halwe Ystermankompetisie, deelgeneem en ’n eerste plek in sy klas by die Suid-Afrikaanse kampioenskappe vir aangepaste luggeweerskiet behaal. Hy het dié sportsoort sowat ʼn jaar ná sy ongeluk by die skool begin beoefen.

Koben het dié trekker ná die ongeluk met sy linkerhand geverf. (Foto: Verskaf)

Wat akademie betref is Koben onder die top-15 in sy matriekgroep. Hy het veral goed presteer in inligtingstegnologie, ingenieursgrafika en -ontwerp. Hy het verlede jaar besluit om sy matriekjaar oor te doen en het ook sy gr. 11-punte verbeter deur vraestelle en eksamens oor te skryf.

Dié besluit, sê Koben, is een wat hy ter wille van sy toekoms geneem het aangesien hy baie klas ná sy ongeluk gemis het.

Koben neem ook aan kultuuraktiwiteite deel en was verlede jaar as eerste prins tydens die skool se Mnr. en Mej. Triegie-kompetisie gekroon.

In sy vrye tyd hou Koben daarvan om te skilder en te teken. Hy moes weens die ongeluk met sy linkerhand leer verf aangesien hy nie gevoel in sy regterhand gehad het nie. Hy kan egter nou weer met sy regterhand skryf en het weer geleer om met dié hand te skets.

Die Koedoe wat Koben onlangs met sy regterhand geskets het. (Foto: Verskaf)

“Ek het baie respek vir dokters en wat ander sê is vir my belangrik. Die Here het egter die finale sê.

“Jy moet gehoorsaam wees aan die Here, want Hy het ʼn plan met jou lewe. Dis belangrik om te onthou dat as jy vandag wakker word, jou doel op aarde nog nie verby is nie. Dis ook baie belangrik om in jouself te glo.”

Koben beplan om rekenaaringenieurswese aan die Universiteit van Pretoria te gaan studeer waar hy ʼn woonstel met sy sussie, Aninke (20), ʼn onderwysstudent by Aros, gaan deel.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

9 Kommentare

Nie Verbaas ·

Fantasties jong man. Mag jy baie suksesvol wees in die jare wat kom.

Hendrik ·

Baie geluk Koben. Dit is n groot prestasie om so met moed en dramg na selfverwesenliking op te staan. Jou ROTS waarop jou lewe gbou is het dit moontlik gemaak. Ook geluk aan jou ouers, aan hulle kom groot eer toe. Mooi loop die toekoms in.

JM ·

‘n Wonderlike getuienis! Baie sterkte en seën op die pad vorentoe.

Hercules ·

Baie dankie MM vir ‘n positiewe nuus brokie , sterkte jong man jou lewe is ver van verby.

Boerknaap ·

Baie geluk Koben. Gelukkig is jy nie so stout soos wat jou pa op skool was nie!

Mariana ·

Baie geluk Koben. Waar daar ‘n wil is is ‘n weg. Wel gedaan.

Yvonne ·

Wonderlik om die getuienis te kan lees…Seenwense om jou toekoms

Waarnemer ·

Hy is net te jonk anders het ek gese”give that man a BELLS!!!Hou so aan Kobus.

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.