19-jarige met byl aangeval op kleinhoewe

Argieffoto

ʼn 19-jarige meisie sterk aan nadat sy Woensdagaand omstreeks 20:00 op ʼn kleinhoewe in Glen Donald, Midvaal, met ʼn byl aangeval is.

“Ek was die aand alleen by die huis en op die trapmeul,” het die meisie, wat anoniem wil bly, aan Maroela Media verduidelik. “Ek het die musiek sommer lekker hard aangesit omdat niemand anders by die huis was nie.”

Die gesin se twee honde, ʼn Golden Retriever en ʼn Labrador Retriever, het by haar gelê en skielik begin blaf. “Toe ek opkyk, het daar ʼn man, heeltemal geklee in swart, in die kamer gestaan. Hy het nie ʼn klapmus aangehad nie, maar ʼn swart lap was om sy gesig gebind. Hy het ʼn byl in sy hand gehad. Dit het gelyk of hy ook geskrik het toe hy my sien. Ek dink nie hy het gedink enigiemand is by die huis nie.”

Die meisie het van die trapmeul afgespring en sy wou haar selfoon, wat op die bank tussen haar en die aanvaller gelê het, gryp. “Toe hy sien ek gryp vir my selfoon, het hy daarna gegryp.”

Sy kon van die man vlug en het na die kombuis gehardloop, maar hy het haar agternagesit. Sy kon nie daarin slaag om die voordeursleutel te gryp om die staalhek oop te sluit nie. “Ek het in die motorhuis beland, maar daar was nie ʼn uitgang nie. Die man het my vasgekeer en my met die byl oor my kop geslaan. Ek het op my rug geval en die man het oor my gestaan. Die honde het in hierdie stadium geblaf en geknor, ek is nie seker of hulle hom kon byt nie.”

Die meisie het na die man geskop en kon weer daarin slaag om van hom af weg te vlug. Sy het na haar ouers se kamer gehardloop en oor boeke, wat haar ma vroeër besig was om reg te pak, geval. “Die man het ook oor die boeke geval en bo-op my beland. Dit was pikdonker en hy het bly kap met die byl. Ek het my gesig beskerm, en hy het my bene raakgeslaan. Ek vermoed ek kon hom dalk in sy gesig skop.”

Sy kon weer van die man af vlug en het in hierdie stadium dit reggekry om die gangdeur tussen haar en die man toe te maak. Een van die honde, die Labrador Retriever, was agter die toe deur saam met die aanvaller vasgekeer. Die meisie en die Golden Retriever kon uit die huis vlug en het oor die straat na die bure toe gehardloop vir hulp.

Die bure was juis in daardie stadium buite die huis om vriende af te sien, en het dadelik reageer.

Die aanvaller het intussen ʼn brand gestig in een van die kamers voor hy gevlug het.

Die meisie het ʼn fraktuur in haar skedel opgedoen en het ook drie merke op haar bene en een in haar rug waar sy met die byl aangeval is. “Die dokters sê die skedelfraktuur sal heeltemal genees.” Sy is Vrydag uit die hospitaal ontslaan en sal ook met ʼn traumaberader gesels.

Sy studeer B.Rek (Baccalaureus in Rekeningkunde) aan die Universiteit van Stellenbosch en keer op 21 Januarie terug na die universiteit om haar studies voort te sit.

Die meisie se ma het aan Maroela Media gesê hulle vermoed daar was minstens drie persone op die perseel, alhoewel slegs een man in die huis was.

“Die gordyne, beddegoed, ʼn bankie, ʼn bedkassie en deel van die plafon het gebrand. Daar is baie rookskade in die huis,” het sy verduidelik.

“Ek wil baie dankie sê aan die Glen Donald-gemeenskapspolisiëringsforum (GPF) wat soos een man reageer het. Die buurvrou het dadelik ʼn berig oor die radio uitgestuur en almal het dadelik reageer. Ek wil ook die polisie en die brandweer bedank wat so vinnig reageer het.”

Volgens haar het lede van die GPF ook dadelik ingespring om die brand in die vierslaapkamerhuis te blus.

“Dit is net wonderwerk op wonderwerk wat daardie aand gebeur het,” het die vrou getuig. “Die RT-skandering wys die byl se merk in haar skedel het net voor die breinvlies gestop. As dit minder as ʼn halfsentimeter verder was, was daar breinskade. Dis ʼn wonderwerk dat sy vir die man kon weghardloop en dat sy hom kon wegbaklei. Dis ʼn wonderwerk dat sy daardie oggend juis haar huissleutels georden en presies geweet het waar dit is en watter sleutel watter deur oopsluit.

“Dis ʼn wonderwerk dat daar ʼn bank tussen haar en die aanvaller was. Dis ʼn wonderwerk dat die bure juis op daardie oomblik hul vriende buite afgesien en by die hek gestaan het.”

Sy verduidelik ook sy was die aand by ʼn profeteskool en sê ongeveer twee minute voor 20:00 het een van die vroue gesê hulle moet spesifiek vir haar dogter se veiligheid bid.

Haar man, wat ʼn narkotiseur is, was ook daardie aand saam met ʼn chirurg en hulle kon die chirurg dadelik na die teater ontbied.

“Dit was ook net regtig ongelooflike optrede van die GPF. Mens kan nie bekostig om nie dié ondersteuningstelsel te hê nie. Ek kan nie genoeg beklemtoon hoe belangrik dit is dat mense aan ʼn GPF moet behoort nie. Jy móét iemand kan bel wat dadelik hulp kan bied.”

Die Labrador Retriever is vir rookinaseming behandel by die veearts en sterk ook goed aan.

“Die Here is getrou. Dit was net een wonderwerk op die ander.”

Konst. Maria Letsele, woordvoerder van die polisie, het die voorval bevestig. Sy sê ʼn saak van opsetlike saakbeskadiging en aanranding met die doel om ernstig te beseer word ondersoek. Niemand is nog in verband met die voorval in hegtenis geneem nie. Enigiemand met meer inligting oor die saak kan ao. Derrick Gibson kontak by 016 362 0126.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

12 Kommentare

Se maar net ·

Dank die Vader jy is okay! Is dit net ek of wil dit voorkom asof hulle nou n gewoonte daarvan maak om n brand te stig na die inbraak?? Hulle wil die grond he , en lyk soos die nuwe trend wat hulle gebruik om die eienaars aftekry!?

Skerpioen ·

Hoekom alles aan die brand steek agterna? Dink hulle dalk hulle vernietig bewystukke… dis plase, huise en vermoorse slagoffers wat aan die brand gesteek word. Mag die skuldiges almal in d hel brand.

Anoniem ·

Baie dankie vir hierdie wonderwerk Here… Ons loof U heilige Naam!

PJC ·

Wat ń dapper meisie. Ek dink in elk geval ń mens moet nie sommer net boedel oorgee as jy aangeval word. Net jammer sy het nie Amerikaanse veghonde gehad vir troeteldiere nie want dan sou dit ń ander storie gewees het.

Christi ·

Elke dag lees ek op Maroela die nuus in SA. Dit is net misdaad op misdaad. Ek het my familie 5 jaar laas in SA besoek en mis hulle ongelooflik baie, maar hoe kan ek my gesin blootstel aan sulke gevare? Dit is barbaars wat in SA gebeur. Winkel diefstal haal hoofnuus by ons…RIP Suid-Afrika….ek sal maar bly waar ek is….sterkte almal in SA.

Johan Smith ·

Die polisie noem een van die aanklagte teen aanvaller sal wees “aanranding met poging om ernstig te beseer”. Die doodskis twee se aanklag en skuldigbevinding was poging tot moord.Hoe bring jy die twee klagte bymekaar?. Doodeenvoudig rassistiese klagte.

m.d.r ·

Janee, laat ons tog nie Winnie Mandela se oorlogskreet vergeet nie—-“with our boxes of matches……..we will free this country…..!”

Elsa ·

Elke aanval van die bose magte en kragte nou gebind in Jesu se Naam, dankbaar dat die dogter se lewe gespaar is en mag elke plan van die booswigte hulself openbaar tot arrestasie …

Janke ·

Die meisie wat in die huis aangeval is, is een van my beste vriendinne. Ek en my tweeling sussie het ook gebreek toe ons hoor wat met haar gebeur het, maar ten spyte van alles wat daai nag gebeur het, wil ek net julle gerusstel deur te sê dat dit duidelik is uit dit wat sy vertel dat God teenwoordig was daar en Hy haar beskerm het.
Satan sou nie groter skade kon aanrig aan die huis of aan haar nie, selfs al wou hy!
Ons kan Satan nie toelaat om te wen deur vrees in God se kinders se harte te saai nie. Moenie weggee aan vrees nie! Spreek lewe! Gaan lees asb Hebrews 13: 5-6 en laat gebeurtenisse soos hierdie julle net nader aan Hom trek soos julle, julle afhanklikheid van die Almagtige God besef!

fanie ·

Die klag moet wees pooging tot moord dit is rasisties word wakker SAP. Julle is daar om gereg te laat geskied en onpartydig te wees hoe nou

Muffin ·

Arme kind. Dink net deur watse vreus sy moes gaan. Fanue ek stem saam met jou. Poging tot moird. Wat my aan betref is die saak baie erger as die doodsskis saak.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.