19-jarige veg reeds weke lank teen Covid-19

Louis Opperman is al bykans 10 dae onder verdowing en aan ʼn ventilator gekoppel. (Foto: Verskaf)

ʼn 19-jarige van Polokwane in Limpopo veg reeds meer as drie weke lank teen Covid-19 en -verwante longontsteking in die hospitaal.

Louis Opperman, ʼn kranige gholfspeler, is tans aan ʼn ventilator gekoppel en is reeds vir die afgelope 10 dae onder verdowing. Hy het intussen verskeie infeksies opgedoen en twee van sy longlobbe het gebars.

Sy pa, Willie, het hom op 19 Julie dokter toe gevat nadat hy “normale Covid-19-simptome” soos koors ontwikkel het.

“Na afloop van die afspraak is ek egter die een wat met Covid-19 in die hospitaal opgeneem is. Die dokter was in daardie stadium meer besorg oor my toestand en het gesê Louis sal oukei wees.

“So vier dae later is Louis ongevalle toe geneem ná sy toestand verswak het. Hy is op 26 Julie eindelik in die Mediclinic-hospitaal opgeneem. Sy suurstofvlakke was onder 90%,” sê Willie.

Opperman is ʼn paar dae in ʼn gewone saal behandel, maar is kort daarna in die intensiewesorgeenheid opgeneem waar hy aan nie-indringende asemhalingsmasjiene gekoppel is.

“Hy is op 8 Augustus onder sedasie geplaas om hom aan ʼn ventilator te koppel en ons is meegedeel dat hy longontsteking ontwikkel het.”

Volgens Willie was sy seun in dié stadium baie moedeloos.

“Hy was kort voor hulle hom sedeer het baie hartseer en hy het vir my gesê ‘Pa, vat my net Pretoria toe want daar gaan hulle my kan help. Belowe Pa sal my vat, of dit nou in ʼn kar of ʼn vliegtuig is’.”

Willie sê die gesin het nog altyd verkies om Pretoria toe te gaan toe wanneer hulle siek is of enige mediese prosedures moet ondergaan.

“Ek het my kind daar sien lê en besluit dat ek nie net kan toekyk hoe my kind doodgaan nie.

“Ek het begin rondbel en by dr. Emmanuel Thaban, ʼn longspesialis uitgekom. Hy het vir Louis ʼn bed in die Midstream Mediclinic in Centurion gereël terwyl ek ʼn helikopter probeer reël het om hom te vervoer. Hy kon eers die volgende dag vlieg aangesien sy toestand eers moes stabiliseer.”

Louis Opperman en sy sussie, Danica. (Foto: Verskaf)

Willie sê sy seun se toestand was by sy opname in Midstream kritiek en sy suurstofvlakke op 60%.

As gevolg hiervan is Opperman onder verdowing gehou. Sy suurstofvlakke het kort daarna weer tot 80% gestyg.

Opperman moes op 13 Augustus ʼn prosedure ondergaan om die slym uit sy longe te suig.

“Hy is steeds kritiek, maar dit gaan reeds beter en dokters is baie positief. Hy het Sondag ʼn eenheid bloed ontvang en sy suurstofvlakke is redelik stabiel. Dokters het hom Maandag weer op sy rug gedraai nadat hy vir 60 uur op sy maag moes lê. ”

Willie sê dit is nie in dié stadium duidelik wanneer die verdowing volledig gelig sal word nie, maar dat dokters Opperman stelselmatig daarvan speen.

“Ons vat dit maar dag vir dag.

“Dis moeilik, maar as gesin hanteer ons hierdie situasie met krag en genade van Bo.”

Opperman werk tans by die Pro Shop op die gholfbaan in Polokwane en beoog om volgende jaar te begin studeer.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

13 Kommentare

Anoniem ·

Sterkte aan die familie, dit is baie hartseer. Vinnige beterskap en hersel word toegebid.

Elisabeth ·

Louis Opperman al die Opperman’s staan agter jou.. Ons hou jou in ons gebede. Neem dit dag vir dag die herstel pad.

Hennie ·

Wat ‘n fris jong man! Kom nou Boeta, jy moet sterk staan. Veg!

Casper ·

Jongman sterkte met jou siekte en mag God die dokter as instrument gebruik om jou gesond te maak want Hy is die GROOT GENESER.Nou kan ander mense wat hierdie berig lees besef dat covid realiteit is.Oor die entstof gaan ek my nie uitlaat nie maar ek steur my nie aan fopnuus nie.

Esme ·

Dr Thaban het homself al deur en deur bewys en ek glo, met God se genade, sal Louis ‘n volkome herstel he. Ons bid vir julle! Baie sterkte!

Elinette ·

Waar kry mens ‘n Dr. Thaban in ander provinsies, as jy van staat-mediese sorg afhanklik is?

JM ·

By God is niks onmoontlik nie. Louis, ons bid vir jou volkome herstel.

Saartjievandiebosveld ·

Dr Thaban is uitstekend.
Boeta jy is in goeie hande en God dra vir jou en die dr.

Skappie ·

Sterkte aan julle as ‘n gesin. Mag Louis se liggaam aanhou baklei teen hierdie virus. Mag onse Liewe Heer julle almal sterk in sy arms en geloof vashou.

TO ·

Ook van Polokwane. My hart gaan uit na jou jong man. Mag Jesus jou in Sy genade deurdra., bid vir jou

Samuel ·

Mag Louis Opperman spoedig herstel. Hierdie siekte is geen mens se maat nie.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.