19-jarige weer in hof ná moord op medeleerder

Die Forest High School in Forest Hill, Johannesburg. (Foto: Google Maps)

Die leerder wat daarvan beskuldig word dat hy ’n medeleerder verlede maand buite die Forest High School in Forest Hill in die suide van Johannesburg doodgesteek het, het Woensdag in die Johannesburg-landdroshof verskyn voordat die saak uitgestel is.

Die saak is vanoggend tot 30 Augustus uitgestel aangesien die staat nog wag op die nadoodse ondersoek van Daniel Bakwela.

Maroela Media het vroeër berig Bakwela (16) het buite die skool aan sy wonde beswyk nadat leerders glo die betrokke dag by die skool baklei het en later die bakleiery buite die skool voortgesit het.

Die 19-jarige leerder Muhammad Mowela het na bewering tydens die bakleiery vir Bakwela asook twee ander leerders met ʼn voorwerp gesteek. Dié leerders, onderskeidelik 15 en 16 jaar oud, is ná die voorval na ʼn hospitaal gehaas vir mediese behandeling. Hulle het die voorval oorleef.

‘n Foto van Daniel Bakwela gedurende sy gedenkdiens. (Foto: Itumeleng English, ANA)

Mowela is enkele ure ná die voorval in Dobsonville in Soweto in hegtenis geneem waarna hy later die maand op borgtog van R5 000 vrygelaat is.

Mowela is borgtog toegestaan op die voorwaarde dat hy nie in kontak mag kom met die getuies in die saak nie en ook nie op die skool se perseel mag kom nie. Hy moes ook sy paspoort oorhandig en moet twee keer per week homself by ʼn polisiestasie aanmeld.

Die hof het intussen beslis dat die Gautengse onderwysdepartement alternatiewe reëlings tref om Mowela na ʼn ander skool oor te plaas en te verseker dat hy sal eksamens kan aflê.

Die beskuldigde beoog om onskuldig te pleit. Hy hou vol sy optrede was uit selfverdediging.

“Dit was vir ons hartseer aangesien gister die eerste dag terug by die skool was,” het Bakwela se oom, Nzamba Juho, ná afloop van vanoggend se verrigtinge gesê.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

Een kommentaar

ne ·

Moordenaar – maar hy het voordele. Wat van die arme kinders wat hy ook gesteek het. Hoekom het hy ‘n mes by hom gehad? Natuurlik om te moor.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.