19 Pikitup-stakers in hegtenis geneem

Pikitup (Argieffoto)

Pikitup (Argieffoto)

Ten minste 19 mense is sover in hegtenis geneem weens intimidasie en geweld, wat gepaard gaan met die voortslepende onbeskermde staking van Pikitup-werkers in Johannesburg.

“Elf van hulle is egter vrygelaat weens onvoldoende bewyse. Die res het reeds in die hof verskyn en is borgtog van R500 elk toegestaan. Hulle staan tereg op aanklagte van openbare geweld en poging tot moord,” het Parks Tau, Johannesburg se burgemeester, Dinsdag gesê.

Volgens Tau is niemand nog in hegtenis geneem in verband met verlede week se skietery op Pikitup-vullistrokke naby Nasrec nie. Die skietery het ʼn botsing tussen die vullistrokke veroorsaa, maar niemand is beseer nie.

Tydelike werkers van Pikitup is Saterdag in Alexandra, noord van Johannesburg, aangeval tydens ʼn opruimingspoging waarin sewe mense beseer is. Daar was ook ʼn voorval in Cosmo City.

Tau het gesê ʼn 24-uur-blitslyn is in werking gestel as deel van ʼn noodplan om die vullisverwyderingsagterstand in te haal. Inwoners kan inbel en hulp versoek met vullisverwydering, of gereedskap versoek vir eie skoonmaakinisiatiewe.

Hy het gesê sommige werkers het aangedui hulle wil terugkeer werk toe, maar hulle is bang vir intimidasie.

Die stakende werkers, hoofsaaklik lede van die munisipalewerkersvakbond Samwu, het ʼn hofinterdik verontagsaam en dreigemente van afdanking geïgnoreer toe hulle versuim het om terug te keer werk toe.

Dit is die vierde onbeskermde staking sedert November 2015 in ʼn reeks botsings tussen bestuur en werknemers oor kwessies wat verband hou met salarisverhogings en eise dat die hoof van Pikitup, Amanda Nair, afgedank moet word. Hulle beskuldig Nair van korrupsie.

Nair is verlede jaar in die hooggeregshof vrygespreek op enige aanklag wat met die saak verband hou.

Ongeveer 4 000 werknemers het begin staak toe die verhoging nie op hul Februarie-salarisstrokie verskyn het nie. Onderhandelinge het intussen vasgeval.

Pikitup betaal intussen R1 miljoen per dag om privaat kontrakteurs aan te stel om die vullis te verwyder met veiligheidsbegeleiding om aanvalle deur onbekende mense te verhoed.

Lees alle vorige berigte oor Pikitup op Maroela Media.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

3 Kommentare

Frederik ·

Die 4de onbeskermde staking sedert November 2015 en daar word steeds met hul onderhandel!! As ek in Amanda Nair se stoel was, was die hele lot al ontslaan. In SA is ‘n massiewe ooraanbod van ongeskoolde werkers, so hul kan binne ‘n dag vervang word.

Griki ·

Poging tot moord, maar R500 borg? Wat? Moet iemand eers sterf?

tamboti ·

Kon SA nie maar eerder vir Donald Trump as president kry nie????
Stakers: YOU’RE FIRED!!!!

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.