19 sterf in ongelukke in Mpumalanga

R540, Mpumalanga (Foto: Google Maps)

Pat Ngomane, LUR vir gemeenskapsveiligheid in Mpumalanga, doen ʼn beroep op motoriste om verantwoordelik te bestuur ná 19 persone die afgelope naweek in verskillende ongelukke oor die provinsie gesterf het.

Hy maan padgebruikers om nie onverskillig ander motoriste verby te steek nie. Hy benadruk ook die belangrikheid van ʼn veilige volgafstand en om op spoedbeperkings ag te slaan.

Drie persone is Sondagmiddag omstreeks 15:20 dood in ʼn botsing reg van voor tussen ʼn sedan en ʼn sportnutsvoertuig op die R540 tussen Lydenburg en Dullstroom. Al die oorledenes het in die sportnutsvoertuig gery. Die bestuurder van die sedan, die enigste insittende in die motor, het ernstige beserings opgedoen. Hy is na ʼn Medi Clinic geneem vir verdere behandeling. Die oorledenes is vermoedelik almal van Brasilië afkomstig. Hulle is onherkenbaar verkool nadat hul voertuig aan die brand geslaan het.

Drie persone is Saterdag dood op die N17-tolpad naby Leandra. Twee sedan motors het mekaar reg van voor getref.

Ses persone is Saterdag omstreeks 12:30 dood toe ʼn vragmotor en ʼn sedan mekaar reg van voor op die R546 tussen Kinross en Embalenhle, naby die Evander-gholfbaan, getref het. Vyf van die oorledenes, insluitend ʼn driejarige kind, is onherkenbaar verkool. Al die oorledenes het in die sedan gery. Die vragmotor se insittendes het nie ernstige beserings opgedoen nie.

Drie persone is Saterdagmiddag op die R547 tussen Kinross en Kriel oorlede tydens ʼn botsing tussen twee sedan motors. Die motors het mekaar reg van voor getref.

Vier persone, insluitend ʼn kind, is dood toe twee motors mekaar Vrydagaand op die R547 getref het. ʼn Bakkie en ʼn vragmotor het mekaar sylangs getref.

Ngomane het gesê sy departement sal nie net kyk hoe mense “soos vlieë” op die paaie sterf nie. Hy beveel die bestuur van die departement om onmiddellik verkeersbeamptes in fleksieskofte te ontplooi.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

16 Kommentare

Peaté ·

Sondagmiddag oppad terug vanaf familie het ons die wrakke en rook gesien net voor Dullstroom. Daar word gevra mense moet nie onverskillig ry nie, maar die paaie in Mpumalanga is deesdae onmoontlik om op te ry. Mens moet so uit swaai vir slaggatte en dan nog hoop die aankomende voertuie ry nie in mens vas soos wat hulle moet uit swaai nie. Ek dink nie verkeersbeamptes gaan genoeg wees om die ongelukke te voorkom nie. Ons bly in een van die mooiste provinsies en dit is hartseer om te sien hoe die paaie lyk waarop families moet ry vir ‘n lang naweek weg na van die mooiste dorpies en toeristebesienswaardighede.

Sterretjie ·

Groot probleem op ons paaie is:
Gekoopte (Gekookte) lisensies! Die bestuurder het geen idee wat die betekenis van sperstrepe ens is nie!
Ken hoegenaamd nie die padreëls nie!!
Onder die invloed van drank, dagga en dwelms bestuur!
Hulle is nie nugter as hul die pad aandurf nie!!
Te min rus met langafstande!
Raak aan die slaap!
Verloor konsentrasie!
Onoplettendheid!
So kan mens aangaan…
Die ding wat my die meeste ontstel is die gekoopte lisensies!!
Dis opvallend dat bykans al die tragiese ongelukke in Mapumalanga, kop -aan- kopbotsings is!
Een van die bestuurders het n ernstige oortreding begaan en so word onskuldige lewens verwoes!
Dis vir my baie erg!
As jy sien teen watter spoed kom daar elke dag nog karre by op ons, reeds oorvol, swak paaie!
Beamptes help niks langs paaie nie, want hulle sit en eet en slaap in hul voertuie en is baie onkoopbaar!
Nee genugtig, hier sal n daadwerklike poging aangewend moet word deur die owerhede om die roekelose bestuurders te vervolg al beteken dit konfiskering van voertuie!
n Wapen mag nie gebruik word sonder n lisensie nie, hulle vat dit weg by jou, hoeveel te meer moet padmaniakke nie ook baie streng vervolg word nie!
Hulle vernietig lewens!!

Nita ·

Bring terug die verkeersmanne wat enige plek langs die paaie, agter n bos kan uitspring en jou vang vir spoed of op die soliede witlyn verbysteek. Of enige wangedrag. Hierdie saamtrekkery van n horde metro polisie op een plek help niks. Motoriste gedra hulle net daar. Sodra hulle daar wegtrek, oortree hulle alle verkeersreels. R2000boete vir elke wiel oor n soliede witstreep.

zoom zoom ·

Die paaie is in swak gehalte in Mpumalanga. Waar die geld heen verdwyn het moet die anc pa vpor staan. Selfs binne in Lydenburg is daar meer grondpad as teerpad. Die pad tussen Roossenekal en Lydenburg is een gat op die ander gat. Nee daai paaie het regtig hulle slaggate gesien.

Anoniem ·

Dit help nie om die verkeersbeamptes te laat skofte werk nie. Hulle moet minder bribes vat en net hulle werk doen. Die mense in Secunda,Evander ,Trichardt en Kinross ry soos hulle wil. Die stop straate word geignoreer. Spoed is net iets verskriklik en waar staan die verkeers manne en vroue, onder die koelte bome of om die draai nabhy Secunda hof en as jy hulle sien dan eet hulle. Gaan kyk hoe dik is die mense en as hulle motoriste voorkeer dan het hulle geen boek by hulle en le hulle halfpad deur die venster hoekom om nog bribes te kry

Cornelia ·

Dit is soos u sê. ‘n Mens wil eintlik vra: van watter “paaie” praat Ngomane? Die binne die gate of die met smal strokies teer om die gate? (‘n Mens kan uitbrei op die versameling) Wenresep vir die aanhelp van pad ongelukke. ‘n Ekstra toevoeging! Bedags reeds ‘n risiko, ook vir Nooddienste. Hoe gemaak snags? Nie die paaie herstel nie? Net meer uniforms ontplooi en siedaar. Elke gat is ‘n meesterstuk.

janneman ·

Ek maak al 4 jaar lank statistiek bymekaar en verwerk dit, en die einste Maroela media al kommentaar gelewer dat kop aan kop botsings besig was om te groei, en wel vir verskeie redes. In Namibie en Botswana betaal jy n boete op die plek, en hulle tel nie in honderde nie. Dis 1000 vir elke oortreding, en kategorie 1 items soos bestuur sonder lisensie, verbysteek op sperstrepe ens is R2000 en sommige R3000(eintlik Namibie dollar). Jy word n amptelike kwitansie uitgereik. As jy nie kan betaal nie, gaan jy reguit selle toe tot iemand jou boete kan kom betaal, al vat dit ook n maand. Jy kom nie voor n hof nie. En soos SA van ouds, sit hulle op enige plek, gewoonlik hot spots, en meestal op die dorpsgrense. Bygesê, as n verkeersbeampte gevang word omkoopgeld vat, word hy summier toegesluit vir 5jaar. Daar is nog respek vir polisie en verkeerspolisie, want werk is bitter skaars, en niemand wil tronk toe gaan nie. Hulle voorsien slegs n basiese ete in die tronk….gewoonlik pasta sonder enige iets by dit, maw geen vleis of tamatiesous ot so iets nie. Jou familie moet sorg vir by kosse. Dis die stelsel wat ons hier nodig het. Tronkstraf in SA bied n uitkoms aan sukkelaar, daarom gee hulle nie om nie

Wilma ·

Die LUR het ni nodig om te se wat n bestuurder mag en nie mag nie. Daarom is voornemende bestuurders verplig om te gaan skryf vir n Leerlinglisensie en dat uit te paseer. Die probleem van omkopery is nou al so groot dat dit net slegter sal gaan in SA. Welkom in die nuwe SA. Oops gan ek nou tronktu

Neilia ·

Uhm verkeerd getel Mnr minister , 18 aleen dood net in Evander,Secunda,Emba,Kinross en Bethal omgewing . Dit was nou van Vrydag af tot Vanoggend . Dan nog die 3 van Dullstroom en ons tel nou ook nie die N17 by leandra by nie . So kom ons maak dit sommer 30 en as dit nie 30 is nie sal daai getal sommer gou optel want nou is reën ook n faktor en spoed.

Landi ·

Het pas na die lang naweek by huis gearriveer. My grootste irritasie op die paaie was mense wat in linkerbane hoort, maar hul 80-100km in regterbane aan dring. Bestaan die reel nog wat sê: hou links gaan regs verby? In sommigge gevalle was daar motors wat 40-60km spoed handhaaf, en volgens my glad nie op die hoëweg hoort nie.

Carien ·

Ons bly in Secunda en die mense en veral taxis ry en doen nes hulle wil. Ja die verkeersbeamtes sit en eet meeste van die tyd..indien hulle wel n spoedlokval hou wat bitter min is. Die N17 is n riller. Mense gaan ander voertuie verby al kom jy van voor af en veral as daar n sperstreep is. Hulle verwag jy moet op die geel skouerlyn ry maak nie saak of jy kan of nie. Ek wonder wanneer die verkeersbeamptes gaan wakkerskrik en hulle werk doen!

Piet Pompies ·

Ons woon naby Nelspruit in MPA, ek het nou net my voertuig se dashcam video’s afgelaai. Vrydag aand het ‘n MPA bakkie met twee insittendes met twee geleenthede by voertuie op ‘n sperstreep verby gegaan. Dit het op die N4 rigting Wes gebeur, die pad was onsettend besig. As die twee sotte daardie aand veilig by hulle bestemming aangekom het, was dit ‘n wonderwerk.

Sunette ·

Pad tussen Lydenburg en Dullstroom is die PAD VAN DIE DOOD a.g.v. slaggate

Rob ·

Ek het terug gery van Komatipoort na middeburg gister en kon nie glo hoeveel mense in hulle karre, my verby steek op dibble streepe.

MS ·

As hul net die slaggate kan opvul sal daar genoeg pad wees vir almal om in hul eie bane te ry.

Lindtjies ·

Die verkeersbeamptes kan bietjie meer sigbaar wees op die N17. Mense is ongeduldig en het geen respek vir ander motoriste nie. Mense ry vinnige karre wat hulle nie kan beheer nie. En dan sien jy ook net ‘n katkoppie bo die”dash” uitsteek. Wees maar verseker sekere mense wat BMW’w en Golf GTI’s bestuur is die sondebokke. Dubbel sperstrepe beteken vir hulle niks. Secunda het so baie verkeersbeamptes, so laat hulle werk.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.