19 vas toe polisie transitorooftog fnuik

Foto: SAPD Gauteng

Misdaadintelligensie het daartoe gelei dat beamptes Vrydag op ʼn huis in Dalpark in Brakpan toegeslaan het waar die span ʼn groep teëgekom het wat na bewering beplan het om ʼn transitorooftog uit te voer. Beamptes het 19 verdagtes in hegtenis geneem en onder andere beslag gelê op nege voertuie en nege vuurwapens.

Beamptes van Gauteng se eenheid vir ernstige en gewelddadige misdade, Johannesburgse misdaadintelligensie en honde-eenheid, die direktoraat vir prioriteitsmisdaadondersoeke (die Valke), Ekurhuleni se trio-taakspan en Fidelity-dienste en gemeenskapsveiligheid het reageer op inligting wat van misdaadintelligensie ontvang is.

“Met hul aankoms by die huis was daar ʼn skietery tussen die span en die verdagtes. Van die verdagtes het van die toneel gevlug. Twee verdagtes is noodlottig gewond,” het kol. Brenda Muridili, woordvoerder van die polisie, gesê.

ʼn Polisievoertuig met twee beamptes het ʼn verdagte agternagesit wat ʼn Volkswagen Golf gekaap het om van die toneel te vlug. “Nóg ʼn skietery het op die hoek van Jubilee en Snymanstraat plaasgevind. ʼn Polisiekonstabel is doodgeskiet. Die verdagte het te voet van die toneel gevlug.”

Vier van die nege voertuie is positief geïdentifiseer as gesteel of gekaap. Sewe van die nege vuurwapens was aanvalsgewere (vier AK47’s en drie R5’s) en twee was pistole. ʼn Sak met patrone en springstof is ook gevind.

“Die provinsie het die 72 uur-aktiveringsplan ingestel om seker te maak dat alle nodige hulpbronne beskikbaar gemaak word om die voorval te ondersoek. Die span volg leidrade op om die verdagte op te spoor wat die polisiekonstabel doodgeskiet het,” het Muridili bygevoeg.

Die bestuur van die polisie betuig hul innige meegevoel met die afsterwe van die konstabel.

Die verdagtes wat in hegtenis geneem is, sal binnekort in die Brakpan-landdroshof verskyn op aanklagte wat strek van moord, sameswering om ʼn misdaad te pleeg, die besit van ongelisensieerde vuurwapens en ammunisie, die besit van springstof en die besit van vermoedelik gesteelde eiendom.”

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

9 Kommentare

Danie ·

Dit lyk na veel beter werkverrigting van die Polisie se kant af – wel gedaan! Ek hoop nou net nie hulle kom uit op borgtog en verdwyn nie.

Tanniepetoors ·

Innige simpatie met konstabel se familie en kollegas.
Welgedaan SAPD.

david ·

Uitstekend SAPD. Tog so jammer oor die verlies van een van julle lede……ek kyk na die wapens….aanvals gewere.wat niemand wettiglik mag besit nie..
En die Hoedman wil ons wettige wapens konfiskeer…?

Juls ·

en hulle sluit die grense vir wetsgehoorsame burgers wat op vakansie wil gaan maar onwettige vuurwapens stroom die land binne

Kokerboom ·

Welgedaan SAPS..Wys jou wat behoorlike misdaadintelligensie kan verrig

twaalfboor ·

Eish…… die arme polisie weet ook nie of hulle goed of sleg is nie.

Harley Davidson ·

Gelukkig was fidillity sekuriteit daar gewees om leiding te vat anders het die sitsuasie ook ontaard in ‘n gemors.

Gert ·

Goed gedoen sap. Jammer dat julle ‘n lid moes verloor om die kriminele aan die pen te laat ry.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.