19 vuurwapens, R2 miljoen se dwelms onderskep

Foto verskaf deur SAPD Wes-Kaap

Die Wes-Kaapse polisie het in verskeie operasies beslag gelê op 19 onwettige vuurwapens, 790 patrone en dwelmmiddels van sowat R2 miljoen onderskep.

Brig. Novela Potelwa, woordvoerder van die polisie, gesê die operasies het Maandag tot Sondag plaasgevind met ʼn spesifieke fokus op misdaadbrandpunte.

“Onwettige vuurwapens en ander gevaarlike wapens word gebruik in gewelddadige misdade soos moord, poging tot moord, kapings en gewapende rooftogte. Die vuurwapens waarop daar beslag gelê is sluit in gewere, pistole, gaspistole en nagemaakte vuurwapens.”

Lede van die teenbende-eenheid het Donderdagaand ʼn 40-jarige verdagte van Bonteheuwel agternagesit en in hegtenis geneem. Hulle het beslag gelê op ʼn ongelisensieerde geweer.

Die teenbende-eenheid het Vrydag in Bishop Lavis twee pistole gekonfiskeer en ʼn 34-jarige verdagte, met sterk bande met bendes, in hegtenis geneem. Hy staan tereg op aanklag van die besit van verbode vuurwapens.

Kaapstad se honde-eenheid het Donderdag in Blackheath-nywerheidsgebied inligting opgevolg oor ʼn voertuig wie se insittendes agterdogtig optree. Toe die motor deursoek is, is ʼn 9 mm-pistool in ʼn swart papiersak op die agterste sitplek en ʼn 9 mm-pistool in een van die vier insittendes se besit gevind. Al vier persone is in hegtenis geneem.

Lockdown II-magte wat in Delft ontplooi is, het verskeie persone voorgekeer en deursoek. Daar is beslag gelê op 16 messe en gevaarlike wapens. Dieselfde beamptes het ʼn verlate gaspistool in Viscountstraat in The Hague gevind.

Twee verdagtes, onderskeidelik 28 en 30 jaar oud, is Dinsdag in Basboomstraat in Delft-Suid in hegtenis geneem op aanklag van die besit van tuisgemaakte gewere (“zip”-gewere).

ʼn 17-jarige is intussen ook in Atlantis in hegtenis geneem vir die besit van ʼn 9 mm-pistool. ʼn 28-jarige is Maandag ook in Atlantis in hegtenis geneem vir die besit van ʼn namaak-pistool.

Ander vuurwapens is tydens operasies in Nyanga, Gugulethu, Delft, Steenberg en Khayelitsha gekonfiskeer.

Lede van die George-eenheid vir openbare orde wat in brandpunte in Kaapstad ontplooi is, het Sondagoggend ʼn roetine stop-en-deursoek-operasie in Lillian Ngoyistraat uitgevoer. ʼn Voertuig, wat in Junie 2021 in Indwe in die Oos-Kaap as gesteel aangemeld is, is gevind. ʼn 33-jarige verdagte is in hegtenis geneem.

Breederivier se honde-eenheid het Saterdagaand drie verdagtes, onderskeidelik 20, 23 en 26 jaar oud, in die Roodewal-woonstelle in Worcester in hegtenis geneem vir die besit van gesteelde motorbatterye.

Drie verdagtes is Saterdag in Nyanga in hegtenis geneem deur Lockdown II-magte toe huisbraak-toerusting in hul motor gevind is. Daar is ook bevind die motor is in September in Khayelitsha gesteel. Die motor word intussen verbind met verskeie onlangse huisrooftogte. Die drie verdagtes, 17, 23 en 24 jaar oud, staan tereg op aanklag van die besit van ʼn gesteelde motor en huisbraak-toerusting. Die verdagtes kan moontlik deur verdere aanklagte in die gesig gestaar word soos wat die ondersoek ontvou.

Blitspatrollielede in Eden en die Sentraal-Karoo het tydens die week twee dwelmbesendings onderskep ter waarde van meer as R2 miljoen.

“Alle verdagtes wat oor die naweek in hegtenis geneem is sal Maandag in die hof verskyn. SAPD-bestuur loof elke beampte se pogings,” het Potelwa bygevoeg.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

5 Kommentare

Jan Seerot ·

A! Daar lê die immer gewilde Okapi’s. Amper al tradisionele wapens vir die straatboewe.

Shakespeare ·

HOOG tyd dat daar iets gedoen word. Ons het ons vetroue in die ANC/EFF lankal verloor en die SAP is op dieselfde pad.

Piet ·

Nie geweet messe is ook onwettig nie.Een van die dae dalk nog vurke en lepels ook!!!!!

Buck ·

Ek maak messe en dra al n knipmes by my vandat ek 9 jaar oud is. Nou 57. Ek verstaan dat skollies se messe afgevat word, niemand loop immers met n slagmes in sy broeksak rond nie. Miskien kan Maroelamedia n storie doen oor wat toelaatbaar is en wat nie.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.