1914-Rebellie: 2 000 name van rebelle onthul – kom soek die rebel in jou voorgeslagte!

CaptureDie herdenking van die Rebellie van 1914 is vandag, presies 100 jaar ná die skietdood van generaal Koos de la Rey, gedenk met die bekendstelling van ʼn projek getiteld “De Wet, Beyers en… ek”.

Die projek is aangevul deur ʼn uitstalling van sowat 2 000 name van rebelle wat aan dié opstand deelgeneem het en dié van sowat 600 vroue wat aan die eerste vroueoptog in Suid-Afrika na die Uniegebou in 1915 deelgeneem het.

Die bekendstelling van ʼn omvattende boek oor die Rebellie, Die Afrikanerrebellie, 1914-1915 (uitgegee deur Kraal Uitgewers) het die hoogtepunt van die herdenkingsgeleentheid gevorm.

Die doel van die “De Wet, Beyers en… ek”-projek is om bewustheid oor die 1914-Rebellie onder die publiek te skep. “Dié opstand wat gespruit het uit die Unie van Suid-Afrika se besluit om aan die kant van Brittanje tot die Eerste Wêreldoorlog toe te tree, het Afrikanergesinne en dorpe verdeel en ernstige nagevolge gehad wat dekades later nog hul merk gelaat het,” verduidelik Ilze Nieuwoudt, publikasiebestuurder van Kraal Uitgewers. “Tog is mense dikwels oningelig oor die omvang hiervan en is baie keer selfs nie bewus daarvan dat hul eie voorouers hierby betrokke was nie.”

Met dié projek nooi Kraal die publiek uit om nie net hul voorouers se rol in die Rebellie na te gaan deur middel van die databasis van rebelle en vroue wat opgestel is nie, maar om ook hul familie se Rebellie-stories met Kraal te deel.

Die databasisse vorm deel van ʼn tydelike uitstalling oor die Rebellie wat by Galery 20/20 op die terrein van die Voortrekkermonument gehuisves sal word en tot en met 17 Desember 2014 oop sal wees vir die publiek. Die uitstalling bevat ook verskeie foto’s oor die Rebellie, afdrukke van die briewe van Jopie Fourie wat hy kort voor sy teregstelling geskryf het en ander items wat met die Rebellie verband hou.

Die herdenking is afgesluit met ʼn optrede deur Bok van Blerk, aangebied deur die FAK. Van Blerk is die sanger van die gewilde lied “De la Rey”. ʼn Herdenkingskoot is omstreeks die tyd toe De la Rey 100 jaar gelede noodlottig geskiet is, gevuur om die generaal se lewe en dood te gedenk.

Die databasis van rebelle en die vroue wat aan die optog deelgeneem het, is ook beskikbaar op Kraal Uitgewers se webblad (www.kraaluitgewers.co.za). Persoonlike vertellings oor die Rebellie kan hier opgelaai en besigtig word.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

3 Kommentare

Annemarie Snyman ·

ek wil graag meer van my oupa L.J.Fouche en J.W.Bosman weet.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.